Kragonderbreking maak leerlinge glo siek

Geen amptelike kennisgewing
Meer as 238 leerlinge het ná aandete ernstige diarree gehad, met 15 wat mediese behandeling by die Rundu Intermediêre Hospitaal moes ontvang.
Eliot Ipinge

Die direktoraat van onderwys in Kavango-Oos sê die honderde leerlinge by die koshuis van die Rundu Sekondêre Skool wat onlangs siek geword het, was as gevolg van ’n kragonderbreking wat die veilige berging van kos in gedrang gebring het. 

Volgens die direktoraat was daar nie formele kommunikasie aan die kant van die noordelike kragvoorsiener Nored en die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur dat ’n kragonderbreking sou plaasvind nie. 

Meer as 238 leerlinge het ná aandete ernstige diarree gehad, met 15 wat mediese behandeling by die Rundu Intermediêre Hospitaal moes ontvang.

Die direktoraat is van mening dat die onderbreking wat die hele dorp Sondag sonder krag gelaat het, moontlik die verkoeling en berging van voedselvoorrade by die skool beïnvloed het.

Die superintendent van die koshuis, Samuel Marungu, sê hy is Maandagoggend deur verteenwoordigers van die leerlinge ingelig dat sommige koshuisleerlinge deur die nag ernstige diarree aangemeld het.

“Ons het die leerlinge dadelik geëvalueer nadat ons in kennis gestel is. Van die 283 leerlinge wat van diarree gekla het, het 15 ernstige simptome gehad en is dadelik na die Rundu Intermediêre Hospitaal gestuur,” het Marungu gesê.

Volgens hom is ’n span gesondheidsbeamptes ook dadelik na die skool gestuur om na die oorblywende leerlinge om te sien. Murunga sê Sondag se kragonderbreking op Rundu kon ’n nadelige invloed op die koshuis se voedselberging gehad het.


‘GEEN AMPTELIKE KENNISGEWING’

Christine Shilima, die direkteur van onderwys in Kavango-Oos, het op haar beurt gesê die skool het geen amptelike kennisgewing van Nored oor die onderbreking ontvang nie.

“Ons het geen formele kommunikasie ontvang nie. Kennisgewings op sosiale media is nie betroubaar vir beplanning nie. Ons het amptelike skriftelike kommunikasie nodig wat ons vooraf in kennis stel oor enige kragonderbrekings,” het Shilima gesê.

As daar ’n behoorlike kennisgewing aan die skool was, sê sy, sou die ministerie alternatiewe reëlings met voedselverskaffers kon tref om aflewerings te beperk of bergingsplanne aanpas om die bederf van voorrade te voorkom.

“Ek kon die verskaffer in kennis gestel het om net ’n sekere hoeveelheid vir daardie spesifieke maaltyd af te lewer. 

“Maar sonder daardie kommunikasie kon ek nie behoorlike bergingsreëlings vir ons leerlinge se maaltye tref nie,” het sy gesê.

Shilima het beklemtoon dat die ministerie die uitvoerende hoof van Nored formeel sal betrek om die prosedures vir kommunikasie te versterk.

“Ons gaan formeel met die uitvoerende hoof van Nored kommunikeer. Hulle moet skriftelike kennisgewings stuur en nie net op sosiale media staatmaak nie. 

“Selfs al is dit net ’n onderbreking van ’n paar uur, moet die verantwoordelike persoon wat op bystand is, ons bel sodat ons reëlings kan tref,” het sy gesê.

Shilima sê die verbeterde koördinering en formele kommunikasie tussen kragvoorsieners en skole is noodsaaklik om soortgelyke voorvalle in die toekoms te verhoed en om leerlinge se gesondheid te beskerm.

Die jongste voorval volg minder as ’n maand nadat 100 leerlinge aan die Katjinakatji Gekombineerde Skool op Kavango-Wes weens die swak hantering en onveilige berging van kosvoorrade siek geword het. 

Toe moes 40 leerlinge in die hospitaal opgeneem word. 

Nored se woordvoerder, Simon Lukas, kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer