Jou komvandaan definieer jou nie

Otis Daniels
Sy het grootgeword in wat baie ’n sinkhuis noem, maar waarna hulle as ’n kaia verwys het.

Sonder lopende water wat hulle uit die rivier moes gaan haal en sonder ’n toilet.

Maar jou agtergrond en jou komvandaar, definieer en beperk jou nie, sê die adjunkminister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie, Gaudentia Kröhne.

Sy het tydens ’n inspirerende toespraak by die St. Therese Sekondêre Skool op Tses, waar sy ook ’n leerling was, gesê sy is geweldig trots op haar nederige omstandighede.

“Ek het ’n besluit geneem om uit te styg en elke tree vorentoe was ’n tree met ’n doelwit.”

Jy het ook nie perfekte omstandighede nodig nie, jy moet net ’n besluit neem om te groei, het Kröhne gesê.

In haar boodskap aan die leerlinge het sy hulle aangemoedig “om te lei waar jy is” en ’n impak te maak ongeag formele titels.

Sy het beklemtoon leiers is diens en diens is leierskap. Die minister het ook verwys na die stel van doelwitte en beplanning en het gedeel hoe sy as tiener reeds haar doelwitte neergeskryf het.

“Baie van die doelwitte is verwesenlik omdat dit die saadjies in die grond van my toekoms gesaai het.”

Kröhne het leerlinge aangemoedig om hul visie te beskerm en die belangrikheid daarvan beklemtoon om bewustelike besluite te neem, jouself met positiewe invloede te omring en tyd en energie aan studies te wy.

“Beskerm jou toekoms asof dit heilig is, want dit is.” Haar besoek aan haar alma mater is deel van die inisiatief, Treë vir Sukses, wat ten doel het om leerlinge onder meer deur middel van stories te inspireer en te ondersteun.

Kröhne het haar besoek afgesluit deur leerlinge aan te moedig om ’n brief aan hul toekomstige self te skryf waarin hulle sonder enige beperkings droom.

“Dis nie net ’n aktiwiteit nie, dis ’n visioenêre kontrak.”

Die besoek val onder die vaandel van die One Economy Foundation en die #BeFree Movement.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer