ISC word erken
Henriette Lamprecht – Die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISC) van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) word deur Suid-Afrikaanse universiteite en internasionale liggame erken.
In ’n omsendbrief aan ouers, sê Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) Universiteite Suid-Afrika (USAf) het in ’n amptelike brief aan alle registrateurs van openbare universiteite bevestig dat die ISC vir toelating tot graadstudies in Suid-Afrika erken word.
Volgens die USAf-brief gedateer 7 April 2026, word ISC-houers toegelaat, mits die leerling aan die vereistes van die betrokke fakulteit voldoen.
WAP sê by monde van sy uitvoerende hoof, Alida Hill, en sy skoolhoof, Kobus Espach, die erkenning is gebaseer op internasionale vergelykings (“benchmark”) deur UK Ecctis en ander liggame, wat die ISC gelykstel aan Cambridge International-kwalifikasies.
Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het verlede maand opdrag gegee dat privaat skole wat die IEB-ISC aanbied, se graad 12-leerlinge by ’n geakkrediteerde eksamineringsliggaam geregistreer is.
Volgens die ministerie se uitvoerende direkteur Mbumba Haitengela word die IEB-ISC nie deur die Namibiese Kwalifikasie-owerheid (NQA) erken nie en is dit ook nie binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAQA) geakkrediteer nie.
Hy het toe gewaarsku leerlinge wat hul skoolloopbaan met die IEB-ISC voltooi, loop die risiko om toelating tot Namibiese instellings vir hoër onderwys en ander internasionale universiteite geweier te word.
Volgens WAP se omsendbrief verrig
Stellenbosch Universiteit se Unit for International Credentialing (SU-UIC) die gehalteversekering van die ISC en het dit ook reeds verskeie sittings van die eksamen gemodereer en goedgekeur.
Die ISC is ook amptelik vergelyk en erken in lande soos Australië en Kenia en word ook deur internasionale universiteite erken.
“Universiteite Suid-Afrika (USAf) is ’n nasionale koördinerende liggaam wat al die openbare universiteite in Suid-Afrika verteenwoordig. Hulle rol is om gestandaardiseerde riglyne vir toelating en akademiese standaarde te formuleer,” aldus WAP se omsendbrief.
USAf dien as die gesaghebbende liggaam van universiteite in gesprekke met die regering en ander belanghebbendes, en help om konsekwente en geloofwaardige besluite oor kwalifikasie-erkenning en toegang tot hoër onderwys te verseker.
Volgens die omsendbrief, het die IEB se uitvoerende hoof, Confidence Dikgole, Vrydag in ’n e-pos bevestig ’n vergadering met die departement van hoër onderwys en opleiding (DHET) in Suid-Afrika het “positief verloop”.
“Die adjunk-direkteur-generaal het aangedui dat ’n Staatskoerant gepubliseer gaan word, wat die ISC dieselfde as Cambridge International sal behandel.
“Hierdie stap is juis nodig om die ongelyke behandeling van die ISC teenoor Cambridge uit te skakel en te verseker dat beide kwalifikasies gelykwaardig erken word,” lui die omsendbrief.
Dit verwys ook na wat as die “ongelyke behandeling” tussen die bogenoemde twee kwalifikasies in Namibië beskou word.
“Cambridge International (CIE)-kwalifikasies word sonder voorbehoud erken, ten spyte daarvan dat dit ook nie op ’n nasionale raamwerk in die land van herkoms (VK) geregistreer is nie.
“Die ISC word egter bevraagteken, al word dit deur ’n tersiêre instelling (Stellenbosch Universiteit) gemodereer en geakkrediteer, presies soos Cambridge deur die internasionale universiteite en liggame geakkrediteer word,” beklemtoon die omsendbrief.
Die kernargument, volgens WAP, is dus dat beide kwalifikasies internasionaal geakkrediteer en gemodereer word, en dat dit onregmatig is om die ISC anders as Cambridge International te behandel.
Met verwysing na die toelating van IEB-ISC-leerlinge tot die Universiteit van Namibië (Unam), sê WAP tot op hede is nog geen amptelike korrespondensie van die universiteit ontvang wat daarop dui dat die ISC-kwalifikasie nie aanvaar sal word nie.
WAP beklemtoon die huidige status quo, dat die ISC steeds soos in die verlede as ’n geldige kwalifikasie beskou word, gehandhaaf word terwyl ’n regsproses teen die ministerie aan die gang is.
Dit beteken skole wat IEB-ISC aanbied, se matrikulante sal vanjaar die sertifikaat skryf.
“Die regsproses in Namibië fokus daarop om die ongelyke behandeling van ISC teenoor Cambridge International reg te stel.
“Intussen kan ouers en leerlinge gerus wees dat die kwalifikasie geldig bly en toegang tot tersiêre studies verseker.” – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie