Gemeenskappe wil moedertaalonderrig in skole in Namibië beskerm. FOTO VERSKAF
Gemeenskappe wil moedertaalonderrig in skole in Namibië beskerm. FOTO VERSKAF

Gemeenskappe vra vir moedertaalonderrig

‘Sistematiese uitwissing van erfenis’
Om 'n kind se onderrig in sy moedertaal te begin, versterk oor die algemeen akademiese sukses, insluitend vaardigheid in Engels, volgens 'n maatskaplike aktivis.
Elizabeth Kheibes
’n Grootskaalse veldtog is op grondvlak in Namibië van stapel gestuur om bewusmaking in die land aan te wakker oor die belangrikheid van inheemse tale in vroeë onderrig.

Die veldtog skop af voor die komende registrasieseisoen by skole, wat gewoonlik van Mei tot Junie strek. Die veldtog, wat deur die maatskaplike aktivis Shaun Gariseb gelei word en deur onderwysers, taalkundiges en tradisionele leiers ondersteun word, het ten doel om veral ouers bewus te maak van die waarde van moedertaalonderrig op preprimêre en primêre skoolvlak.

Die inisiatief het die naweek afgeskop met ’n gemeenskapsvergadering op Groot Aub waar ouers aangemoedig is om die inskrywing van hul kinders in inheemse taalprogramme te prioritiseer.

“Daar is ’n algemene wanopvatting dat onderrig in ’n moedertaal soos Khoekhoegowab, Otjiherero of enige ander inheemse tale kinders sal verhinder om later Engels te bemeester,” het Gariseb gesê.

“Ons is hier om gemeenskappe in te lig dat die aanvang van onderrig in ’n kind se moedertaal algehele akademiese sukses versterk, insluitend Engelse vaardigheid.”

Volgens onlangse navorsing is Khoekhoegowab die taal in Namibië wat die tweede meeste in die land gepraat word en wel deur 11% van die bevolking. Die taal wat die meeste gepraat word, is Oshiwambo (49%). Vir Afrikaans is dit 10%, Otjiherero (8%), Rukwangali (8%) en Silozi (4,71%) wat die res van die land se taalgroepe insluit.

Kampvegters voer aan die bewaring van hierdie tale deur middel van onderrig is noodsaaklik om Namibië se kulturele erfenis te beskerm.



UITDAGINGS IN SKOLE

Die vergaderings met die gemeenskappe verhoog nie net bewusmaking nie, maar beklemtoon ook voortdurende uitdagings in skole.

By die Hoërskool Groot Aub het aantygings teen die skoolhoof, Isak de Groot, aan die lig gekom wat glo aan leerlinge gesê het hulle kan nie vakke soos wetenskap of rekeningkunde neem, tensy hulle Khoekhoegowab as ’n taalvak in graad 10 laat vaar nie.

“Stop jou dinge, meneer, voordat ons dinge vir jou ongemaklik maak,” het Gariseb gemaan en aangedring op die regverdige behandeling van alle leerlinge.

Kommer is ook geopper oor die teistering van onderwysers by die Primêre Skool Groot Aub, met Gariseb wat die skool se leierskap teen die intimidasie van personeel gewaarsku het.

“Ondersoeke het reeds by jou skool en by die Primêre Skool Auas begin. Laat die ondersoeke voortgaan. Dit gaan oor die sistematiese uitwissing van ons taal, dis nie persoonlik nie,” het Gariseb beklemtoon.

Die veldtog kom te midde van spanning wat onlangs by die Primêre Skool Auas in Katutura ontstaan het, waar ’n klagskrif aan die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, oorhandig is.

Die protesaksie wat deur Gariseb gelei is, het gefokus op die beweerde verwydering van ’n Khoekhoegowab- preprimêre klas tot voordeel van onderrig in Oshikwanyama.

Beswaarde ouers het gevoel dit weerspieël ’n groter patroon van die onderdrukking van inheemse tale.

“Dit gaan nie hier oor een beginsel of een besluit nie,” het Gariseb tydens die oorhandiging gesê.

“Dit is oor ’n sistematiese agenda van die uitwissing van kultuur. Onderwysers word geviktimiseer, op die agtergrond geskuif en is werkloos omdat hulle in hul moedertaal onderrig gee. Dit kan nie so voortgaan nie.”

Die klagskrif van tien bladsye eis die onmiddellike instelling van ’n onafhanklike ondersoek, om alle nuutgeskepte poste vir onderrig in Oshikwanyama te vries en die verwydering van die huidige skoolhoof by die Primêre Skool Auas hangende die uitkoms van die ondersoek.

Steenkamp het in reaksie hierop die erns van die bewerings wat in die klagskrif vervat is erken en ’n onafhanklike taakspan belowe om die bewerings te ondersoek.

“As ’n onreg by hierdie skool of enige ander skool gepleeg is, sal dit reggestel word,” het die minister gesê en beklemtoon geen ander taal of kultuur in Namibië is bo ’n ander verhewe nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer