‘Geen plek in skole vir dwelms’
Leerlinge wat herhaaldelik met dwelms betrap word, sal uit die formele onderwysstelsel verwyder word, terwyl die regering voorberei om sy houding teenoor middelmisbruik in skole te verskerp.
Die minister van onderwys, vernuwing, sport en kultuur, Sanet Steenkamp, het Vrydag tydens ’n vergadering met die staande komitee oor onderwys, jeug, burgerlike betrekkinge en gemeenskapsontwikkeling gesê die ministerie het ’n breekpunt bereik.
“Op ’n stadium sal die ministerie ’n sterk standpunt moet inneem en sê jy as leerling is verskeie kanse gegee. Jy het nie meer ’n plek in formele onderwys nie,” het sy gesê.
Die minister het beklemtoon dat so ’n stap die ondersteuning van ouers, gemeenskappe en politieke leiers op alle vlakke sal verg.
Steenkamp het verder gewaarsku dat dwelmgebruik in skole nie net ’n dissiplinêre aangeleentheid is nie, maar ’n ernstige veiligheidskwessie.
ONVEILIGHEID
“Wanneer ’n kind met harde dwelms in die bloedstroom gevind word, is die skoolomgewing nie meer veilig vir daardie leerling of vir ander nie. Dit is die moeilike besluite wat die ministerie sal moet neem.
“Al is ons doel om elke kind te onderrig, ongeag hul agtergrond, moet ouers en leerlinge verstaan dat daar gevolge is wanneer dwelms by die skool gevind word,” het sy gemaan.
Sy het gesê die haar ministerie werk nou saam met die Namibiese polisie en die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, asook maatskaplike werkers.
“Hierdie spanne is onder die ‘Keep Me Safe’-veldtog opgelei, wat in streke uitgerol word waar sulke kwessies algemeen is en waar skole gereeld probleme rapporteer.
“In sulke gevalle word ’n volledige span van die regering, vergesel deur Unicef, ontplooi.”
TOETSTOESTELLE
Die minister het bevestig dat twee toestelle vir dwelmtoetse deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste goedgekeur is.
“Die verkryging van hierdie toestelle sal aan skole oorgelaat word, aangesien behoeftes konteksgebonde is en afhang van die aantal toestelle wat elke skool benodig.
“Dit gesê, dwelms en alkohol in skole bly ’n groot bekommernis. Op ’n stadium sal die ministerie ’n vaste standpunt moet inneem en sê dat ’n leerling wat verskeie kanse gekry het, moontlik nie meer ’n plek in die formele onderwys het nie.
“Wanneer dit gebeur, sal ons die steun van ouers, gemeenskappe en politieke leierskap op alle vlakke nodig hê,” het Steenkamp gepleit.
Sy het bygevoeg dat onderwysers tans reeds voel hulle word nie voldoende beskerm wanneer dit by dissipline kom nie.
“Dit is deels te wyte aan die betreurenswaardige gedrag van sommige ouers wat onderwysers intimideer of hulle by skole konfronteer, in plaas daarvan om saam te werk om dissiplinêre kwessies te takel.
“Dit is iets wat ’n volle begrip vereis, maar ons kan nie aanhou om so buigsaam te wees soos ons was nie.
“Hulle is opgelei om met leerlinge in alle grade in gesprek te tree oor kwessies soos boeliegedrag, intimidasie, skoolgeweld, seksuele geweld, asook dwelm- en alkoholmisbruik.”
Die minister het bevestig dat hierdie kwessie ’n groot deel van die ministerie se tyd opslurp.
“Ons is egter nou by die stadium waar die minister duidelike riglyne in die Staatskoerant sal publiseer oor die goedgekeurde toestelle, toetsprosedures, tydsberekening en wie teenwoordig moet wees, saam met duidelike kommunikasie aan alle skole.”
In Januarie het plaaslike media berig dat die Kunenestreek se direkteur van onderwys, Sophia Fredericks, die streek se swak akademiese prestasie geblameer het op die gebruik van dwelms en alkohol onder leerlinge, asook afwesigheid van onderwysers.
Dit het gevolg nadat die Kunene vir die tweede agtereenvolgende jaar 14de in die nasionale graad 11-uitslae gelys is en negende in die graad 12-uitslae.
Die streek was verlede jaar 14de, met slegs 159 leerlinge wat vir die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gevorderde Aanvullende Vlak (NSSCAS) gekwalifiseer het.
“Skole in die Kunenestreek word uitgedaag deur ongedissiplineerde leerlinge wat geneig is tot dwelm- en alkohol[misbruik en wat nie by die skool opdaag nie, omdat hulle tot middernag in kroeë was,” het Fredericks destyds gesê.
Sy het die swak prestasie verder toegeskryf aan die gebrek aan inspeksie van onderwysers, wat moet verseker dat leerlinge die sillabus in graad 10 voldoende deurgewerk het en in graad 11 hersiening gedoen het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie