EQ se langtermynsukses

Om emosies te herken en te bestuur
’n Kind se emosionele intelligensie (EQ) is baie belangrik vir langtermynsukses, gesonde verhoudings, selfvertroue en veerkragtigheid.
Henriette Lamprecht

Henriette Lamprecht - Ons leef in ’n wêreld waar akademiese prestasie dikwels die meeste aandag ontvang. 

Navorsing toon egter dat ’n kind se emosionele intelligensie (EQ) net so belangrik, en dikwels selfs belangriker, is vir langtermynsukses, gesonde verhoudings, selfvertroue en veerkragtigheid, sê Nita Coetzee, die franchisehouer van EQ4Kids in Namibië. 

Volgens Nita is kinders met ’n sterk EQ beter toegerus om emosies te herken en te bestuur, konflik op ’n gesonde manier op te los, sosiale verhoudings te bou, druk en uitdagings te hanteer, asook akademies beter te presteer. 

“Ongelukkig word ’n ontwikkelende kind se EQ daagliks deur die volwassenes in sy of haar lewe beïnvloed. Van ouers, onderwysers en afrigters tot mentors,” verduidelik Nita.

EQ4kids is die breinkind van die gerekende gedragspesialis, motiveringspreker en outeur Lynette Beer. Deur die program kan kinders van so jonk as moontlik met emosionele intelligensievaardighede toegerus word.

Die vaardighede en lesse wat deur die program geleer word, stel kinders in staat om emosies in hulself en in ander te herken; die oorsake van emosies sowel as die gevolge daarvan te verstaan; emosies met ’n gesofistikeerde woordeskat te benoem; te leer om emosies op sosiaal gepaste maniere uit te druk; asook om emosies doeltreffend te reguleer. Dit leer kinders ook ’n verskeidenheid ander noodsaaklike lewensvaardighede.

Dit ondersteun en verbeter voorts kinders se vermoë om stabiele, ondersteunende verhoudings te vorm en groter welstand sowel as akademiese prestasie te geniet. 

Die ontwikkeling van ’n kind se EQ speel ’n sleutelrol in die grootmaak van gelukkige, veerkragtige en goed aangepaste kinders en volwassenes vir die toekoms.

Dit is dus nie net ’n program wat die emosionele intelligensie van kinders op ’n baie jong ouderdom ontwikkel nie, maar ook ’n ouerleidingsprogram waardeur ouers presies kan leer wat hulle moet doen om te help om hierdie noodsaaklike lewensvaardighede in hul kinders te ontwikkel.

Lynette deurkruis Namibië in Junie en Julie, waar sy verskeie motiveringspraatjies by skole en besighede lewer, en sluit ook “Leer in Kleur” in, wat fokus op opleiding in studiemetodes.

“Ek is dus bevoorreg om die nuwe EQ4kids-ontwikkelingsprogram vir emosionele intelligensie vir ouers en kinders in Namibië te open,” sê Nita.

Die program is beskikbaar vir vanaf drie- tot 18-jariges.

“Ons het reeds ’n paar kleuterskole wat deel is van hierdie projek en weekliks klasse ontvang. Vyf EQ4kids-fasiliteerders is opgelei en is reeds besig met weeklikse kleuterskoolsessies, asook slypskole gedurende vakansies.”

Die fasiliteerders is in Windhoek, Otjiwarongo, Gobabis en Swakopmund. Vir die graad 1- tot 12-leerlinge word slypskole gedurende die vakansies aangebied, met die pas afgelope Meivakansie waartydens verskeie slypskole reeds aangebied is.

By die EQ4kids Namibia bekendstelling op Woensdag 24 Junie gaan Lynette praat oor die invloed wat ouers en opvoeders op kinders se emosionele intelligensie het. Die praatjie vind by die NG Kerk Eros in Windhoek plaas, met registrasie wat 16:30 open. Die amptelike bekendstelling is van 18:00 tot 20:00.

Kaartjies is N$160 per persoon, waarvan N$50 ’n geskenkbewys is om by die jaarlikse Wintermark te bestee, wat terselfdertyd op die kerkperseel aangebied word. Kaartjies is via webtickets beskikbaar. 

’n Opsie vir aanlyn deelname is ook beskikbaar vir diegene wat die geleentheid nie self kan bywoon nie. 

Vir meer besonderhede kan Nita by 081 808 5944 gekontak word of stuur ’n e-pos aan [email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer