FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEFrnrnFoto: Lu00CAER
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEFrnrnFoto: Lu00CAER

Eerder tuis as by die skool

Armoede, afstande, familieverpligtinge
Sommige ouers glo steeds sodra ’n kind ’n sekere ouderdom bereik, moet hulle trou.
Eliot Ipinge

Meer as 2 400 leerlinge het verlede jaar die skool in die Kavango-Oosstreek verlaat, met armoede, familieverpligtinge en onstabiele huishoudings wat as die dryfvere uitgesonder word. 

Kinderhuwelike het net ’n klein persentasie van die voorvalle uitgemaak.

Data van die ministerie se streekkantoor toon die grootste aantal skoolverlaters is verbind aan leerlinge “wat by die huis wil bly”, met 184 gevalle wat in die eerste semester aangemeld is en 234 in die tweede semester.

Beamptes beklemtoon dié kategorie word dikwels misverstaan en weerspieël dieper sosioëkonomiese uitdagings eerder as blote stokkiesdraaiery. 

Altesaam 2 417 leerlinge het oor beide semesters die skoolbanke verlaat. Hiervan is 1 220 in die eerste helfte van die jaar en 1 197 in die tweede helfte aangeteken.


SKOOLBERADER

Volgens ’n skoolberader in die streek, Mercy Bupilo, dui dié syfers op moeilike werklikhede wat menige leerlinge tuis in die gesig staar.

“Wanneer leerling aandui dat hulle by die huis wil bly, is dit nie altyd uit eie keuse nie,” het Bupilo verduidelik. 

“Dit kan wees weens persoonlike probleme, die afstand vanaf die skool of omstandighede by die huis wat nie stabiel is nie.”

Volgens Bupilo word baie leerlinge deur armoede geraak. Dit sluit in ’n gebrek aan kos en ordentlike klere, asook voldoende ondersteuning wat gereelde skoolbywoning moeilik maak.

“Hierdie is onderliggende kwessies. ’n Kind mag sê hulle wil by die huis bly, maar as jy dieper kyk, is daar ernstige uitdagings in die huishouding,” het sy gesê.

Seisoenale migrasie by families wat betrokke is by bestaansboerdery is nog ’n sleuteldryfveer. 

Gedurende tydperke wanneer hulle op boerdery fokus, “trek” die ouers na die landerye – algemeen bekend as die “mapia” om die gewasse te beskerm. Die kinders word in die nedersettings agtergelaat.

“In sulke gevalle word een van die ouer kinders in beheer van die huishouding gelaat,” het Bupilo verduidelik.

“Daar is geen toesig om te verseker die kinders gaan skool toe nie en mettertyd begin hulle klasse misloop.”

Teen die tyd dat die ouers terugkeer, vind leerlinge dit dikwels moeilik om die skoolwerk in te haal en kan later selfs skool heeltemal verlaat.

Swangerskap is nog ’n dryfveer agter skoolverlatingsyfers, met 114 voorvalle wat in die streek aangeteken is. Dit is egter nie noodwendig dat hierdie leerlinge die skoolstelsel permanent verlaat het nie.

Namibië se onderwysbeleid laat swanger leerlinge toe om verlengde verlof van tot ’n jaar te neem en dan terug te keer skool toe. Die manier hoe skoolverlaters aangeteken word, kan egter tot opgeblaasde syfers bydra.

“As ’n leerling vir 30 agtereenvolgende dae afwesig is, word hulle as ’n skoolverlater beskou,” het Bupilo gesê.

“Selfs al is daar geldige redes soos siekte of kraamverlof, word hulle steeds in die statistiek ingesluit.”

Oorplasings tussen skole word ook in die data weerspieël, maar word nie as werklike skoolverlaters beskou nie, aangesien dié leerlinge dikwels trek op soek na beter geleenthede of weens hul families wat hul elders gaan vestig.

Ten spyte van openbare kommer oor kinderhuwelike, is slegs 30 voorvalle in 2025 aangeteken, met 16 in die eerste semester en 14 in die tweede. Volgens die data was die jongste voorval ’n seun in graad 4, terwyl die jongste meisie ’n leerling in graad 6 was.

Hoewel die syfers laag is, het Baupilo gewaarsku dat sommige voorvalle nie aangemeld word nie en veral in gemeenskappe voortduur waar informele reëlings dié van ’n huwelik weerspieël.

Pogings om faktore te takel wat daartoe lei dat leerlinge die skoolbanke permanent verlaat, word gerig deur die kindersorg- en beskermingswet in samewerking met die ministerie van geslagsgelykheid en welsyn en die Regshulpsentrum (LAC).

Op skoolvlak speel voorligtingonderwysers ’n kernrol om kwesbare leerlinge te identifiseer en vroegtydig in te gryp. Maatskaplike werkers hanteer die meer ingewikkelde gevalle. 

Kulturele oortuigings bly egter ’n groot uitdaging.

“Sommige ouers glo steeds sodra ’n kind ’n sekere ouderdom bereik, moet hulle trou,” het Bupilo gesê. “Wanneer ons ingryp, sê hulle vir ons: ‘Hierdie is my kind, julle kan niks doen nie.’”

In sommige gevalle kies ouers om hul kinders van die skool te onttrek eerder as om die leiding van opvoeders te volg.


INGRYPINGS

Christine Shilima, die direkteur van onderwys in Kavango-Oos, het gesê die streek het pogings verskerp om op skoolvlak in te gryp in faktore wat skoolverlating dryf. 

Sy het onlangs met skoolhoofde – vergesel deur amptenare van die afdeling vir spesiale onderwys – vergader. Dié afdeling is verantwoordelik om die uitdagings te takel wat leerlinge se prestasie beïnvloed en daartoe bydrae dat hulle skool verlaat. 

“Ek het hulle saamgebring sodat hulle skoolhoofde kan lei oor hoe om hierdie probleme te hanteer,” het Shilima gesê.

Sy het verduidelik dat skole ondersteun word deur lewensvaardigheids- en voorligtingonderwysers, wat die taak het om kwessies wat leerlinge raak, te identifiseer en dienooreenkomstig te reageer. 

Skole met meer as 200 leerlinge kwalifiseer vir ’n lewensvaardigheidsonderwyser.

“Wanneer gevalle geïdentifiseer word, word hulle na hierdie onderwyser verwys wat die probleem moet aanspreek en met die skool moet saamwerk om oplossings te vind,” het sy gesê.

Shilima het bygevoeg dat daar van skole verwag word om die data te gebruik om geteikende programme te ontwikkel.

“Ons verwag dat dié onderwysers hierdie statistieke sal gebruik om aan leerlinge te wys waarom ander skool verlaat het en om met aktiwiteite vorendag te kom om te verhoed dat dieselfde met hulle gebeur,” het sy gesê.

Shilima het beklemtoon dat skoolhoofde die leiding moet neem, veral om kwessies soos kinderhuwelike te takel.

“Hulle moet hul onderwysers betrek en vra hoe hulle leerlinge gaan bemagtig om nie in huwelike betrokke te raak wat daartoe lei dat hulle skool verlaat nie,” het sy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer