Linda Grobbelaar
Linda Grobbelaar

Die terugkeer na die ou normaal

Linda Grobbelaar
Sjoe wat ‘n jaar tot dusver! Vir die eerste keer besef ek die jaar verloop glad nie anders as die vorige “normale” jare van ons skoolloopbaan nie. Ons het net eintlik die afgelope twee jaar effens onfiks geraak vir die warboel van skool-, buitemuurse aktiwiteite en atletiekbyeenkomste. Die onderwysers en leerlinge sukkel om hulle treë behoorlik in te kry, want kort-kort struikel iemand oor ‘n hekkie. Niemand vat grond nie!

Die leerlinge het fantasties gevaar in hulle akademie verlede jaar, ten spyte van al die uitdagings wat hulle moes trotseer.

Die tweede naweek het ons afgeskop met ons jaarlikse interhuis-atletiekbyeenkoms. Was dit nou ‘n affêre! Kyk, jy kon sommer sien die leerlinge en ouers was behoorlik honger vir ‘n lekker samekoms.

Tussendeur, moes die graad 8’s, oftewel saailinge, nog hulle sokkies optrek en hulle beste voetjie voorsit voor hulle as volwaardige Gobabis Gymnasium leerlinge ingelyf is. Kyk, dit was omtrent ‘n stinkerige storie vir ‘n ander dag.

Net soos almal weer in roetine begin verval het, het die skool se vier dae lange 21ste- feesvieringe afgeskop. Die fees het bestaan uit vroegoggende en laat aande, maar soos in ware Gimmie-style het die gees hoog geloop!

Ons top atlete en netbalmeisies is hard aan die oefen, want die skoolbusse vertrek binnekort na die kus, vir die NAPSO-Atletiekbyeenkoms en die Woenstynfees in Walvisbaai.

Hierdie is alles oomblike wat ons vir altyd sal koester. Dit help ons om te volhard en ons is dankbaar vir die normaliteit wat ons weer kan ervaar.

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer