Deure swaai oop vir 73 jongmense
Altesaam 73 werklose jongmense het praktiese beroepsopleiding by die Open Doors Education Centre op Swakopmund onder ’n nuwe drie jaar lange program begin wat daarop gemik is om indiensneming, selfindiensneming en verdere opleiding te skep.
Die tegniese en beroepsonderwys- en opleidingsprogram (TVET), bedryf deur Tangeni Shilongo Namibia, is Donderdag amptelik onder die tema “Van werkloosheid na entrepreneurskap”, bekend gestel.
Senior TVET-bestuurder Aletta (Koesha) Martin het gesê die eerste span is in April ingeskryf en neem deel aan intensiewe kort beroepsopleidingskursusse van drie maande lank. Daar word verwag dat die studente teen die einde van Junie sal gradueer.
“Baie jongmense voltooi hul skoolopleiding net om ’n volgende struikelbok teë te kom – die uitdaging van werkloosheid. Vir te veel bly die pad van die klaskamer na betekenisvolle ekonomiese deelname onseker,” het Martin gesê.
BOU ’N BRUG
Sy het gesê die program is ontwikkel om hierdie gaping te takel deur ’n brug te bou sodat benadeelde jeug van onaktiwiteit na opleiding, werk, verdere onderrig of mikro-ondernemings kan beweeg.
Die program sal van 2026 tot 2028 strek en teiken werklose en benadeelde jongmense tussen 16 en 25 jaar. Dit kombineer praktiese vaardigheidsopleiding met werkplek-gereedheid, ontwikkeling van entrepreneurskap, mentorskap, loopbaanvoorligting en samewerking met belanghebbendes.
Die eerste opleidingskursusse sluit gasvryheid en toerisme, sonkrag-energiestelsels en instandhouding, hidroponika en stedelike landbou, klere- en modeontwerp, leerwerk, digitale geletterdheid en grafiese ontwerp, asook entrepreneurskap en finansiële geletterdheid in.
Martin het gesê die eerste inname sal gevolg word deur ’n tweede groep deelnemers nadat die huidige groep gegradueer het.
“Ons doel is nie bloot om jongmense op te lei nie, maar om hulle te bemagtig om werksgeleenthede na te jaag, hul eie ondernemings te stig, toegang tot verdere onderwys en beroepsopleiding te kry en aktiewe bydraers tot Namibië se ekonomiese groei en ontwikkeling te word,” het sy gesê.
Die minister van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur, Sanet Steenkamp, het gesê die program teiken kwesbare en werklose jongmense wat nie in die skool is nie en aan enige vorm van onderwys of opleiding deelneem nie.
Erongo se goewerneur, Nathalia /Goagoses namens onderwysminister Sanet Steenkamp waargeneem.
“Ongeveer 30 persent van jong Namibiërs tussen 14 en 24 jaar val in hierdie kwesbare kategorie. Baie staar beperkte toegang tot opleidingsgeleenthede, werksvooruitsigte en ekonomiese deelname in die gesig,” het die minister gesê.
Steenkamp het gesê TVET moet aan die behoeftes van die ekonomie en werkgewers gekoppel wees.
“Opleiding kan nie in isolasie plaasvind nie. Dit moet deur die behoeftes van die bedryf, werkgewers en gemeenskappe ingelig word. Dit moet op die realiteite van die ekonomie reageer en toekomstige geleenthede vooruit sien,” het sy gesê.
Die minister het gesê Erongo beklee ’n strategiese posisie in Namibië se ekonomie, in die sektore van mynbou, visserye, logistiek, toerisme, konstruksie en energie, asook opkomende groen nywerhede.
Volgens Steenkamp vereis hierdie sektore ’n bestendige toevoer van vaardige, aanpasbare en innoverende jongmense, terwyl die streek steeds jeugwerkloosheid en onderindiensneming ervaar.
“Dit maak inisiatiewe soos die ODEC TVET-program beide tydig en noodsaaklik,” het sy gesê.
Steenkamp het gesê ODEC moet nie as ’n mededinger van bestaande opleidingsinstellings beskou word nie, maar as ’n aanvulling daarop deur grondliggende praktiese vaardighede, blootstelling aan entrepreneurskap, mentorskap en na paaie van verdere onderwys, indiensneming en die ontwikkeling van ondernemings kan lei.
Sy het ook gesê die bekendstelling kom terwyl Namibië poog om TVET deur die sesde nasionale ontwikkelingsplan (NDP6) te versterk, insluitend die transformasie van geselekteerde beroepsopleidingsentrums van die staat in gespesialiseerde tegniese kolleges wat kwalifikasies tot NQF-vlak 6 kan aanbied.
Die minister het gesê die ministerie se werkgeïntegreerde leerbeleid wat in 2026 bekend gestel is, is daarop gemik om jeugwerkloosheid deur gehalte-opleiding en blootstelling aan die werkplek te verminder.
“Dit erken dat gehalte-onderwys alleen nie genoeg is nie. Jongmense moet ook geleenthede hê om hul kennis en vaardighede in werklike werkplekomgewings toe te pas,” het sy gesê.
SONKRAGSTELSEL
Martin het gesê die program plaas ook klem op volhoubaarheid. ODEC funksioneer volledig op sonkrag en het ’n hidroponiese stelsel by die sentrum, wat, volgens haar, deelnemers in staat stel om aan hernubare energie, energie-doeltreffendheid en volhoubare landboupraktyke bekend gestel te word.
Die program word deur die internasionale ontwikkelingsvennoot Crossing Borders ondersteun.
Martin het gesê die langtermyn-doel is om die kort kursusse vanaf 2027 uit te brei tot nasionaal erkende beroepsopleidingsprogramme.
Sy het ’n beroep op regeringsinstellings, werkgewers, opleidingsverskaffers, bedryfsverteenwoordigers, ontwikkelingsvennote en gemeenskapsorganisasies gedoen om die program deur internskappe, mentorskap, indiensneming en ondersteuning vir besigheidsontwikkeling te ondersteun.
“Saam kan ons geleenthede skep, gemeenskappe versterk en die volgende geslag Namibiese entrepreneurs, innoveerders en vaardige professionele mense bemagtig wat sal help om ons land se toekoms te vorm en tot sy groei en voorspoed by te dra,” het Martin gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie