Annual Ace samel N$101 000 vir onderwys in

Annemarie du Toit

Die tweede Annual Ace-gholftoernooi by die Windhoek-gholfklub was Vrydag ‘n reuse-sukses met N$101 000 wat vir die African Child Development Trust (ACDT) se nasionale onderwysprojek ingesamel is.

Uit die 18 spanne wat deelgeneem het, het Kasi Golf koning gekraai. Die span het bestaan uit Gerald Kariwo, Wisdom Moyo, Vilho Ndaikile en A.N Other.

Pupkewitz Motors het tweede geëindig met Janse Janse van Rensburg, Charine Janse van Rensburg, Norman Glen-Spyron en Jaco Schoonbee as spanlede.

Old Mutual was derde met Rex Mutelo, Fabio do Rego, John Hesekiel en Tommy Nangombe.

Deur die inskrywings van die 18 spanne, borgskappe en ’n veiling is N$81 000 ingesamel. Tesame met ’n wins van N$20 000 uit die gholfdag, sal ’n totaal van N$101 000 aan ACDT se onderwysprojek toegeken word.

Dit sal ’n aansienlike verskil in duisende jong leerlinge se lewens sal maak.

“Annual Ace 2026 was meer as net ’n suksesvolle geleenthei. Dit was ’n bewys van wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamstaan agter ’n gedeelde missie. Die ondersteuning wat ons ontvang het, sal die lewens van duisende kinders oral Namibië direk verander,” het Sharnay Botha, uitvoerende direkeur van ACDT gesê.

Die toernooi versterk jaarliks sy posisie op die korporatiewe sportkalender, met ’n duidelike fokus op volhoubare ondersteuning vir onderwys in Namibië.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer