91% van Namibiërs kan glo lees en skryf

Ministerie wil leeskultuur kweek
Namibië se geletterdheidsyfer het vanaf onafhankwording tot verlede jaar met 26 persentasiepunte toegeneem.
Aldo Horn
Die persentasie Namibiërs wat kan lees en skryf het gestyg van ongeveer 65% in 1990 tot 82% in 2000 en 89% in 2011, met ’n geraamde 91% van Namibiërs wat nou as geletterd geklassifiseer is.

Dit is volgens statistieke van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur wat verlede week bevestig is tydens die bekendstelling van die September Readathon-veldtog by die nasionale biblioteek in Windhoek.

Die September Readathon word vanjaar aangebied onder die tema “Lees Namibië: Ontdek die krag van kuns en kultuur deur te lees” en die veldtog het ten doel om geletterdheid in Namibië te bevorder.

Terwyl huidige berekeninge nie gefinaliseer is nie, het die onderwysministerie bevestig dat die geletterdheidsyfer in 2023 na raming sowat 91% was – ’n toename van 26 persentasiepunte vanaf die 65% wat in 1990 aangeteken is.

Die minister van onderwys, Anna Nghipondoka, het tydens die bekendstelling verduidelik dat geletterdheid gemeet word aan die vermoë om te lees en te skryf – selfs op ’n baie basiese vlak – in ten minste een taal.

Hierdie drempel is voldoende om te verseker dat Namibiërs toegang het tot nuus en werksgeleenthede om hul lewens te verbeter, het sy bygevoeg.

Nghipondoka het opgemerk dat indien Namibië ’n 100%-geletterdheidsyfer wil behaal, mense in alle uithoeke van die land bereik moet word.

“As ons die geletterdheidsyfer nog wil verhoog, sal ons na die streke en gemeenskappe moet gaan om die laaste paar mense te bereik,” het sy gesê.

Die adjunkminister van onderwys, Faustina Caley, het ook daarop gewys dat die sleutelgebiede vir die verbetering van die geletterdheidsyfers gemeenskappe in die Tsumkwe-kiesafdeling in die Otjozondjupastreek insluit, asook gemeenskappe in die Omaheke- en Kunenestreek.

Statistieke toon ook dat die geletterdheidsyfer onder jongmense hoër is as onder ouer volwassenes, grootliks as gevolg van verbeterde toegang tot onderwys.

LEESKULTUUR

Die direkteur van erfenis- en kultuurprogramme in die onderwysministerie, Manfred Gaeb, het gesê die doel van die Readathon, benewens die verbetering van geletterdheid, is “om ’n leeskultuur binne ons samelewing te bevorder”.

Nghipondoka het ook ouers aangemoedig om met die projek te help.

“Ek doen ’n beroep op alle ouers om hul kinders na biblioteke te neem en leesafsprake te reël.”

Al betrek die Readathon slegs diegene wat geletterd is, meen Nghipondoka dat dit steeds sal help om ’n kultuur te skep waar Namibiërs lees waardeer en om sosioëkonomiese ontwikkeling deur kuns te verbeter.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer