'Wettiging van handel in renosterhoring verg 'n spanpoging'
John Hume se arrestasie glo 'n heksejag
Nadat die grootste renosterboer ter wêreld verlede week in die buurland in hegtenis geneem is, is daar vrae of dit 'n negatiewe impak sal hê op Namibië se aansoek by Cites om handel in renosterhorings te wettig.
Die grootste renosterboer in Namibië sê die arrestasie van sy Suid-Afrikaanse held en mentor, John Hume, is ‘n heksejag en polities gedrewe.
Jaco Muller van die Rhino Momma Project het sy mening uitgespreek nadat die grootste renosterboer ter wêreld verlede week in hegtenis geneem is.
Op ‘n vraag of dit Namibië se aansoek by Cites vir die wettige handel in renosterhoring negatief sal beïnvloed, het Muller gesê dit is juis weens die verbod op die wettige handel in renosterhoring waarom Hume bankrot gespeel het.
“As daar nie ‘n verbod was nie, dan was hy nog steeds die grootste renosterboer in die wêreld, nog steeds besig om die wêreld se renosterbevolking met 200 kalfies per jaar te vermeerder.
“Ek is 110% seker hy is onskuldig en dit is polities gedrewe. Die feite sal uitkom en as ek verkeerd is, sal ek verskriklik geskok wees,” het Muller aan Republikein gesê.
Muller het al twee keer by Hume gaan kuier en kers opgesteek hoe om met witrenosters te boer.
Namibië het intussen 'n aansoek by die 20ste sitting van die Konferensie van die Partye (COP20) by die Verenigde Nasies se Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) ingedien om die aantekening van sy bevolking van suidelike witrenosters binne Cites Aanhangsel II te wysig. Volgens die dokument wat by Cites ingedien is, sal dit uitsluitlik wees om internasionale handel in lewende diere vir in situ-bewaring, jagtrofeë en handel in renosterhoringvoorrade van oorsprong in die land wat deur die regering en private grondeienaars besit word, toe te laat. Dit sal gekonfiskeerde renosterhoring en dié van onbekende oorsprong uitsluit.
Namibië se dokument aan Cites verklaar die witrenosterbevolking verkeer steeds onder voortdurende bedreiging van onwettige stropery, hoofsaaklik gedryf deur die hoë waarde van renosterhoring.
“In reaksie op die groeiende stroperyrisiko’s het hierdie private grondeienaars hoë sekuriteitskoste gedra, insluitend opgegradeerde heinings, veldwagterpatrollies en toesigstelsels.”
SPANPOGING VAN SUIDELIKE AFRIKA
Nóg ‘n bekende Namibiese wildboer wie se witrenosters telkemale onder stropers deurgeloop het, Gerrie Odendaal, het gesê die probleem is die tweederde meerderheidstemme by Cites. “Ek kan nie sien hoe ons dit gaan regkry nie. Dit gaan regtig n spanpoging van suidelike Afrika kos met baie dreigemente en druk dat hulle van Cites gaan wegstap. Maar kan hulle dit bekostig?” vra Odendaal
“Nie regtig met die sterk jagbedryf en wat die gevolge daar gaan wees nie.”
Die voormalige minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het al gedreig dat Namibië Cites sal verlaat.
Ongeveer 77% van Namibië se witrenosters kom op grond in private besit voor. Die dokument lui dat baie eienaars gedwing is om hul renosterkuddes te verminder of handdoek ingegooi en al hul renosters verkoop.
“Ongelukkig, wanneer private eienaars renosters van hul eiendomme verwyder, daal die totale hoeveelheid witrenosterhabitat in Namibië.”
Namibië het sedert 2022 124 witrenosters na Angola, Suid-Afrika, Zambië en die Amerika uitgevoer. Muller se renosters is na Texas uitgevoer en hy het gister bevestig dit gaan baie goed met hulle.
Die Cites-beraad sal van 24 November tot 5 Desember in Oezbekistan plaasvind.
Hume, wat daarvan beskuldig word dat hy by 'n internasionale sindikaat betrokke was wat in renosterhoring handel dryf, hou vol hy is onskuldig. Hume (83) het in 'n brief aan sy vriende en familie gesê hy werk sedert 2020 aktief saam met die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPS) om met die ondersoek te help.
"Gedurende dié tydperk het ek aan elke versoek voldoen en openlik met wetstoepassing geskakel om met hul ondersoeke te help. Dat borgtog onbestrede was, spreek boekdele. Dit weerspieël die staat se vertroue in my bereidwilligheid om die proses met waardigheid te trotseer en ek glo dit beklemtoon hul erkenning van my integriteit en aanspreeklikheid," skryf Hume.
Hy het verlede week saam met vyf medebeskuldigdes, onder wie 'n familielid, sy voormalige prokureurs en sy plaasbestuurder, in die landdroshof in Pretoria verskyn op 55 aanklagte wat verband hou met die onwettige handel in renosterhoring. Die aanklagte wissel van bedrog, geldwassery en diefstal, die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit 2004 tot rampokkery.
Intussen is nóg 'n renosterboer in Suid-Afrika, Derek Lewitton (55), wat bykans twee jaar gelede in Limpopo in 'n dramatiese klopjag in hegtenis geneem is omdat hy glo onwettig in die besit van renosterhorings was, vir eers 'n vry man. Al die aanklagte teen Lewitton, wat in Suid-Afrika gebore is en Amerika grootgeword het, is verlede week in die landdroshof in Namakgale buite Phalaborwa laat vaar.
Lewitton is die eienaar van die Black Rock Rhino-bewaringsoord op die Harmony-plaas buite Gravelotte.
- [email protected]
Klik op die skakel https://q.my.na/71DE.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie