Voorgenome Franse jagtrofeeverbod ‘eensydig’

Frankryk raadpleeg nie Afrika
Die jagbedryf is bekommerd indien Frankryk die konsepwet goedkeur, ander lande in die Europese Unie in sy voetspore sal volg.
Francoise Steynberg

Skerp kritiek volg op ’n wetsontwerp van Frankryk om die invoer, uitvoer en heruitvoer van jagtrofeë van sekere spesies te beperk, veral uit die internasionale jag- en bewaringsgemeenskap.

Die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) het ’n sterk bewoorde brief aan die Franse eerste minister, Sebastien Lecornu, geskryf en dit ook aan die minister van ekologiese oorgang, Matthieu Lefevre, die president van die senaat, Gérard Larcher en die Franse ambassadeur in Namibië, Cécile Vigneau, gestuur.

“As ’n organisasie wat die nieregeringsorganisasies (NGO’s) van die omgewingsektor in Namibië verteenwoordig (met ’n lidmaatskap van 87 nieregeringsorganisasies), maak ons ​​sterk beswaar teen hierdie skynbaar eensydige besluit,” lui die brief wat deur die uitvoerende hoof van die NCE, dr. Chris Brown, onderteken is. 

“Na ons wete is geeneen van die betrokke regerings, gemeenskappe, organisasies of individue in Afrika voor hierdie besluit geraadpleeg nie. 

“Dit maak my seer om hierdie brief aan u te skryf, aangesien Namibië en Frankryk baie in gemeen het in hul benadering tot die bewaring van biodiversiteit. Die ‘bevordering van biodiversiteit’ word inderdaad as ’n bilaterale aksie tussen ons twee lande op die webwerf van die Franse ambassade in Namibië gelys,” lui die brief.

Brown sê beide lande deel die siening dat die verlies aan biodiversiteit die grootste omgewingsuitdaging is wat die planeet tans in die gesig staar.

“Ongelukkig het dit onder ons aandag gekom dat u regering beplan om die invoer van jagtrofeë wat wettiglik in Afrikalande verkry word, insluitend Namibië, te blokkeer.” 

Brown benadruk soos Frankryk, is Namibië ’n party by die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites) en hou dus by besluite oor handel wat deur hierdie beheerliggaam geneem word. 

“Indien die Franse regering bekommerd is dat ons wettige handel in spesies in Cites Aanhangsel I of II onvolhoubaar is, nooi ons u hiermee uit om meer te wete te kom oor ons jagstelsel en die wildlewe-ekonomie wat dit ondersteun,” nooi Brown die Franse eerste minister uit.

“In Namibië behels ons wildlewe-ekonomie beide jag en toerisme, wat komplementêre maniere is om waarde uit wildlewe te put en sodoende bewaring te stimuleer.” 

Brown beklemtoon dit is veral belangrik vir gebiede buite die land se nasionale parke waar mense met vee en gewasse boer. 

“Wanneer wildlewe geen waarde het vir mense wat op plaasgrond woon nie – wat die geval is in ’n groot deel van Europa – word dit vervang deur vee en ander vorme van landbou, tot nadeel van biodiversiteit,” lui die brief.

“Internasionale jagters wat Namibië besoek en hul trofeë huis toe wil neem, dra dus by tot ons suksesverhaal oor bewaring. 

Volgens data van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme dra internasionale jagters se safari’s direk (31 tot 40 miljoen euro) en indirek (58 tot 75 miljoen euro) by tot die nasionale ekonomie en skep meer as 2 500 werksgeleenthede in landelike gebiede wat onder hoë vlakke van werkloosheid ly. 

“In baie gebiede is jag die enigste manier om inkomste uit wildlewe te genereer, aangesien toerisme nie lewensvatbaar is nie. In ander gevalle dra jag en toerisme saam by tot finansiële volhoubaarheid,” lui die brief.

“As jaginkomste verwyder word, sal toerisme op sigself nie genoeg wees om ’n ekonomie gebaseer op wildlewe te stimuleer nie en biodiversiteit oor die algemeen sal daaronder ly.”

Brown meen soortgelyke of groter impakte sal gevoel word deur Namibië se buurlande – Suid-Afrika, Zambië, Botswana en Zimbabwe – wat ook jag gebruik om bewaring te finansier en landelike lewensbestaan ​​te ondersteun.

“’n Eensydige besluit van die kant van die Franse regering om die invoer van jagtrofeë te voorkom,” stuur volgens Brown dus drie duidelike boodskappe aan Namibië en Afrika:

– Die reëls en regulasies van Cites betekenisloos is, en dat hierdie multilaterale omgewingsooreenkoms nie meer die raamwerk vir internasionale handel bied nie.

– Die Franse regering gekant is teen die bewaring van biodiversiteit deur middel van natuurgebaseerde nywerhede, wat Namibië en sy buurlande suksesvol bewys het om te werk – met Namibië se wildbevolkings wat oor die afgelope 50 jaar van ongeveer 500 000 tot ongeveer 3 miljoen stuks toegeneem het. 

– Die verlies aan inkomste en werksgeleenthede in Namibië wat sal voortspruit uit ’n verbod op die invoer van trofeë nie die Franse regering raak nie, ten spyte van die skade wat dit aan bilaterale diplomatieke betrekkinge sal berokken.

Brown sê teenstand teen trofeejag mag dalk polities voordelig wees in Europa waar die mense grootliks nie vertroud is met Suider-Afrika se wildlewebeleid en -suksesse nie, maar dit sal tot nadeel wees van baie Afrikalande wat hierdie bedryf gebruik om bewaring en plaaslike lewensbestaan ​​te ondersteun. 

“As Frankryk enigsins besorg is oor die bewaring van biodiversiteit of volhoubare ontwikkeling in Afrika, sal dit daarvan weerhou om politieke gebare en besluite te neem wat Afrikamense en -wildlewe benadeel,” skryf Brown.

“Botswana en Namibië is deur ’n wetenskaplike publikasie as die toptweelande ter wêreld aangewys in terme van die bewaring van groot soogdiere (megafauna). 

Volgens die publikasie is Frankryk 16de geplaas, “wat hoog is vir lande in Europa. Baie geluk,” skryf Brown. 

In teenstelling hiermee is die Verenigde Koninkryk 123ste geplaas uit die 152 lande wat beoordeel is. 

“Ons het regtig nie die hulp van lande in Europa nodig met ’n invoerverbod op trofeë wat onder die valse oortuiging beweer dat hulle bewaring in Afrika help nie,” kap Brown terug. 

“Ons is siek en sat van lande in Europa, waarvan die meeste swak rekords het in die bewaring van hul megafauna, wat gerieflike en eensydige politiek met Afrika se wildlewe speel en Afrikalande, baie met die beste rekords in megafauna-bewaring ter wêreld, as onbevoegde kinders behandel,” beaam Maxi Louis, direkteur van Namibië se sambreelorganisasie vir die Gemeenskapsgebaseerde Natuurlike Hulpbronnebestuursprogram (Nacso), asook John Kasaona, uitvoerende direkteur vir Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC), wat ook die brief onderteken het. 

“In werklikheid sal sulke optrede deur laer gerangskikte lande wat nie ons suksesvolle bewaringsmodel verstaan ​​nie, ons suksesvolle werk ondermyn”.

Volgens die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) moet jagverenigings, bewaringsorganisasies, safariklubs en Afrikalande ’n meer verenigde standpunt inneem ter verdediging van bewaringsjag en die volhoubare gebruik van wildlewe. 

Danene van der Westhuyzen van Aru Game Lodges het aan Republikein gesê hulle het juis onlangs ’n groep jagters uit Frankryk gehad.

“Ons het ’n goeie jagseisoen gehad, maar dan begin ons weer bekommerd raak oor wat die volgende seisoen kan gebeur.” 

Sy sê die groot kwessie is as Frankryk die verbod instel, gaan al die ander lande in die Europese Unie dieselfde dieselfde pad loop. 

“Ons kyk toekomstig na die hele Europa. Frankryk is net ’n voorsmakie,” het sy gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer