Ultimate Safaris pomp N$18 m. in Kunene in

Gemeenskappe opgehef
Die toerisme-operateur versterk landelike ontwikkeling, bewaringspogings en indiensneming, ondanks ’n uitdagende 2025.
Aurelia Afrikaner

Ultimate Safaris het in 2025 meer as N$18 miljoen in die opheffing van gemeenskappe en omgewingsbewaring in die Kunenestreek belê.

Die maatskappy verwag dat dié syfer sal toeneem sodra voortgesette mynverwante uitdagings in die gebied opgelos is, wat moontlik bykomende werksgeleenthede kan skep, volgens 'n mediaverklaring.

Die belegging sluit meer as N$10 miljoen in wat na die kommunale bewaringsgebied Doro !Nawas en die Doros- gesamentlike bestuursgebied gegaan het. Dit is ’n samewerkende inisiatief waarby die bewaringsgebiede van Sorris Sorris, Uibasen Twyfelfontein en Doro !Nawas betrokke is.

Hierdie bedrag sluit N$3 miljoen in wat as direkte kontantuitbetalings via bedheffings uitbetaal is, terwyl N$6,7 miljoen vir salarisse en voordele vir werknemers bewillig is. Nog N$700 000 het programme vir bewaring en gemeenskappe ondersteun.

Hierdie jongste bydrae bring Ultimate Safaris se totale belegging in suidelike Kunene sedert 2021 op N$100 miljoen te staan.


ARBEIDSMAG VAN 140 LANDSWYD

Tans stel Ultimate Safaris 50 mense in suidelike Kunene in diens as deel van sy arbeidsmag van 140 oraloor Namibië.

"Beleggings in kommunale grond uiteindelik by die staat en plaaslike bewaarders berus, wat sulke bydraes noodsaaklik maak vir langtermyn-volhoubaarheid, landelike ontwikkeling en ’n positiewe impak op geslagte heen." lui die verklaring.

Deur sy nie-winsgewende arm, die Conservation Travel Foundation, het Ultimate Safaris ’n verdere N$7,8 miljoen in bewaring en gemeenskappe oraloor Namibië belê, hoofsaaklik in die Kunenestreek.

’n Bedrag van N$3,15 miljoen is na die leeuwagter-program gekanaliseer, ’n gemeenskapsinisiatief wat daarop gemik is om mens-leeu-konflik te verminder terwyl Namibië se woestyn-aangepaste leeubevolking beskerm word.

Meer as N$1,7 miljoen ondersteun ook bewaringsprojekte van organisasies soos AfriCat, Giraffe Conservation Foundation (GCF) en die Northwest Cheetah Project.


INFRASTRUKTUUR

Gemeenskappe het ook direk voordeel getrek uit meer as N$1 miljoen in ontwikkelingsprojekte. Dit het opgradering van infrastruktuur en ’n rekenaarlaboratorium by T.H.F. !Gaeb Laerskool in Khorixas ingesluit, asook die installering van ’n sonkragstelsel by Möwebaai. Uniforms en toerusting is vir bewaarders in bewaringsgebiede voorsien en beurse vir hul lede en leerlinge. Die beurse het deelnemers in staat gestel om kort kursusse aan die Universiteit van Namibië (Unam) in volhoubare toerismebestuur by te woon en toegang tot private skole in Windhoek te kry.

Daarbenewens het Ultimate Safaris die herlewing van die Granietkop-kampeerterrein ondersteun, ’n besigheid in besit van die bewaringsgebied. Die kampeerterrein het verlede jaar inkomste van N$784 000 gegenereer en vier nuwe poste geskep, met die maatskappy wat pro bono bestuursmentorskap en opleiding verskaf het.

Die bou van drie toegangsbeheerhekke in die gesamentlike bestuursgebied van Doros teen ’n koste van N$36 000, het bewaring en ekonomiese ontwikkeling verder ondersteun. Die inisiatief het ses nuwe poste geskep en tussen Mei en Desember 2025 fooie van N$160 000 in vir die bewaringsgebiede gegenereer.

Intussen het die instelling van ’n gemeenskaps- en bewaringsheffing by Ultimate Safaris se kampe ’n bykomende N$2 miljoen ingesamel. Hierdie fondse is geoormerk vir ’n beplande ekonomiese bemagtigingsprojek in Khorixas, gefokus op die ontwikkeling van ’n volhoubare toerisme-ekonomie.

Die maatskappy het aangedui dat vennootskappe met nie-regeringsorganisasies en ander operateurs reeds aan die gang is.


UITDAGINDE 2025

Ultimate Safaris se besturende direkteur, Tristan Cowley, het gesê die maatskappy bly daartoe verbind om betekenisvolle en blywende impak te skep ondanks verlede jaar se uitdagings wat hofgedinge ingesluit het.

“Ons is uiters tevrede dat ons kon bydra op ’n manier wat bedoel is om ’n positiewe nalatenskap oor geslagte heen te lewer in ’n jaar wat buitengewone uitdagings gestel en ons besigheid onder geweldige druk geplaas het,” het hy gesê.

Cowley het bygevoeg dat die maatskappy van plan is om sy pogings in die verre toekoms voort te sit, “in die gees daarvan om goed te doen terwyl ’n volhoubare besigheid bedryf word.”

Kommentaar

Republikein 2026-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer