Navorser dr. Marie Lemerle. Foto NAMDEB
Navorser dr. Marie Lemerle. Foto NAMDEB

Tot 300 bruin hiënas swerf in die Sperrgebiet rond

Namdeb ondersteun navorsing
Die Bruinhiëna-navorsingsprojek het merkwaardige insigte oor die spesie se bewegings, gedrag en oorlewing blootgelê.
Ellanie Smit

Namibië se beeld as ’n wêreldleier in bewaring word versterk deur voortgesette pogings om een van Afrika se mees ontwykende roofdiere, die bruin hiëna, te beskerm.

Deur Namdeb se langdurige belegging in navorsing en ondersteuning van die Bruinhiëna-navorsingsprojek (BHRP) help die mynmaatskappy wetenskaplikes om kritieke insigte in die ekologie en gedrag van die spesie te verkry, terwyl die langtermynbeskerming van brose woestyn-ekosisteme in die Sperrgebiet verseker word. 

Die Bruinhiëna-navorsingsprojek, gesetel in Lüderitz, het volgens Namdeb ’n inisiatief vir baanbrekersbewaring geword wat daarop toegespits is om die bruin hiëna te bestudeer en te beskerm deur innoverende navorsingsmetodes, insluitend GPS-opsporing, boskameras en die neem van genetiese monsters. 

Volgens die maatskappy het die bevindings waardevolle inligting gelewer oor die spesie se bewegings, voedingsgewoontes, sosiale dinamika en sy rol om ekologiese balans binne Namibië se unieke kuswoestynomgewing te handhaaf. Volgens die navorser op die terrein, dr. Marie Lemerle, bly dit uitdagend om die bruinhiëna-bevolking binne Namdeb se mynlisensiegebiede te beraam weens die uitgestrekte en afgeleë landskap. 

“Ons beraam rofweg daar is om en by 200 tot 300 bruin hiënas in die hele Sperrgebiet, maar hulle is nader aan die kus as in die binnelandse gebiede,” het sy gesê. 

Namdeb het gesê dat baie van die hiënas wat in die binneland leef, steeds aansienlike afstande aflê om die kuslyn te bereik – veral robkolonies, wat ’n deurslaggewende voedselbron bied. 

Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om oop wildkorridors te handhaaf en hindernisse soos heinings en besige paaie te vermy wat hul bewegings kan ontwrig en hul oorlewing kan bedreig. 

Hoewel daar wel sterftes voorkom, veroorsaak deur mense, veral padsterftes, het Lemerle aangedui dat suksesvolle voortplanting gehelp het om ’n stabiele bevolking te handhaaf sedert monitering in 1997 begin het. 

Die relatief ongerepte aard van die Tsau Khaeb Nasionale Park (voormalige Sperrgebiet Nasionale Park het ’n sleutelrol gespeel om die spesie te bewaar. 

“Namdeb is steeds die hoofborg van die projek en sy jaarlikse skenkings aan die projek is vir ons baie belangrik,” het Lemerle gesê. 

Namdeb het gesê dat dit, benewens finansiële ondersteuning, ook praktiese hulpbronne verskaf het, insluitend ’n vierwielaangedrewe voertuig wat navorsing in die veld aansienlik verbeter het. 

Die maatskappy het navorsers ook gehelp om toegang tot gespesialiseerde toerusting te kry en langtermyn-moniteringsprogramme in stand te hou. Navorsing vind in verskeie kerngebiede binne die Sperrgebiet plaas. By Baker’s Bay het langtermynwaarneming baanbreker-ontdekkings opgelewer, insluitend bewyse van “tydelike verdeling”, waar verskillende hiëna-groepe robkolonies op verskillende tye besoek om mededinging te vermy. 

Volgens Namdeb het hierdie gedrag navorsers in staat gestel om bruin hiënas tydens die dag te sien vreet – iets wat voorheen selde gedokumenteer is. Verder het GPS-halsbanddata ook getoon dat sommige hiënas meer as 90 kilometer reis om robkolonies te bereik, wat die belangrikheid van hierdie kusvoedingsgebiede benadruk. 

Navorsers het selfs ’n bruin hiënawyfie gedokumenteer wat daarin geslaag het om volwasse Kaapse pelsrobbe te jag – die eerste aangetekende geval dat die spesie prooi groter as homself jag. 

Die projek monitor ook hiëna-bevolkings by Elizabeth Bay, waar die diere merkwaardig by die verlate mynnedersetting aangepas het en dikwels ou infrastruktuur, soos pype, as lêplekke gebruik. Ander gebiede, insluitend die Pocket Beaches naby Bogenfels en Chameis, huisves meer individue wat verby reis, terwyl Karingarab blykbaar laer hiëna-getalle het. 

Die maatskappy het gesê dat huidige studies ondersoeke insluit na blootstelling aan swaar metale en genetiese diversiteit binne bruinhiëna-bevolkings. 

Ten spyte van dekades se navorsing heers daar groot gebrek in kennis. 

“Ons weet nie die presiese bevolking van die bruin hiëna in die land nie,” het Lemerle gesê. 

Sy het gesê dat groot karnivore soos bruin hiënas noodsaaklik vir gesonde ekosisteme is, maar kwesbaar bly vir habitatfragmentasie en negatiewe openbare persepsies. Bewusmakingsveldtogte en die bewaring van uitgestrekte, onderling gekoppelde beskermde gebiede is daarom noodsaaklik. 

Met die oog op die toekoms beoog die projek om genetiese navorsing uit te brei en samewerking met die Universiteit van Namibië (Unam) te versterk om begrip van bruinhiëna-bevolkings in Namdeb se suidelike kusgebied te verbeter.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer