Andrew Kharuxab van Khowarib. Foto IRDNC
Andrew Kharuxab van Khowarib. Foto IRDNC

Stap die ekstra myl

Die stille wildwagters teen mens-dier-konflik
'n Gemeenskapswildwagter was bereid om 36 km ver te stap nadat leeus bokke gevang het.
Francoise Steynberg

Daar was geen voertuig beskikbaar nie, maar hy het sy bedrol en sak aan 'n stok op sy skouer gehang en begin stap.

Andrew Kharuxab van Khowarib, ’n gemeenskapswildwagter van die Anabeb-bewaringsgebied, was bereid om letterlik die ekstra myl vir sy gemeenskap en bewaring te loop.

Gedurende die warmste deel van die dag het Andrew onlangs ’n oproep ontvang oor veeverliese in die Otjondumbu-gebied met leeus wat drie bokke gevang het. 

Die probleem is Otjondumbu is ongeveer 36 km ver en ’n voertuig was nie beskikbaar nie, volgens Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC). 

Namibië het 520 gemeenskapswild- en -veldwagters wat probeer om mens-dier-konflik in afgeleë landelike gebiede te bekamp en werk in uiters moeilike omstandighede.  

Volgens Lucky Kasaona, tradisionele hoofman van die Kasaona Tradisionele Gemeenskap wat van Anabeb tot Purros strek, en gemeenskapsverteenwoordiger vir Arid-Eden se People's Park, het Andrew te voet vertrek en gedra wat hy vir die reis nodig gehad het. 

Nadat hy ongeveer 11 km gestap het, het ’n verbygaande voertuig gelukkig gestop en hom ’n saamrygeleentheid gegee.

Toe hy daar aankom, het hy uitgevind dat die leeus nog tien bokke gevang het. Andrew het die gevalle aangeteken en die inligting ingesamel wat nodig was om die betrokke eienaars van die vee te ondersteun.

“Dit is die werk wat dikwels stilweg gebeur. Die stap. Die hitte. Die afstand. Die beperkte hulpbronne,” sê Lucky. 

“Die toewyding om op te daag wanneer gemeenskappe ondersteuning nodig het.”

Gemeenskapswildwagters is dikwels die eerste mense wat gebel word wanneer daar konflik tussen mense en wilde diere plaasvind. 

“Hul werk is nie altyd maklik nie, maar dit is uiters belangrik.

“Dankie, Andrew en die talle gemeenskapswildwagters en -veldwagters wat steeds beide bewaring en hul gemeenskappe onder moeilike omstandighede dien,” het Lucky gesê.

Jaarliks word die beste wagters in met die Grassroots Owen-Smith Community Ranger Awards (GOSCARS) beloon.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer