Sparky se groot dag
Katharina Moser
Eers hoor jy ’n geritsel, dan ’n gekrap en toe is hy daar voor ons in al sy glorie: Die ietermagô wat die afgelope maande harte oraloor Namibië geraak het.
Sparky is sy naam en nou skarrel hy besig deur die Namibiese grasveld. Sy gunstelingkos is termiete. Sy gunstelingvoorwerp is skoene – verkieslik leer, effens ingeloop.
Met blink oë wat ondeund vonkel terwyl hy rondkyk, hou die ietermagô sy versorgers op hul tone – op hierdie wintersaand kan niks Sparky keer nie.
Maar dit was nie altyd so nie. Inteendeel, dat Sparky nou gesond en lewendig deur Namibië se grasvelde rondskarrel, is niks minder nie as ’n mediese wonder – en dit is heeltemal te danke aan die onbaatsugtige sorg van die Pangolin Conservation & Research Foundation (PCRF). Vier maande gelede het dit heel anders gelyk.
Vroeg in Maart het Sparky in ’n elektriese heining verstrengel geraak– wat in wese ’n doodsvonnis vir ietermagôs is.
“Sparky is die eerste ietermagô in Namibië waarvan ons gehoor het wat ’n elektriese skok oorleef het. Ons weet nie hoe nie,” sê Kelsey Prediger, stigter en voorsitter van die PCRF.
“Gewoonlik rol ietermagôs teen die heining vas en word letterlik doodgeskok. Maar wonderbaarlik het Sparky oorleef totdat hy by ons uitgekom het. Ons het nie gedink hy gaan dit maak nie,” het Kelsey gesê.
Sparky was inderdaad in ’n haglike toestand.
“Hy het vloeistof om sy hart gehad, so daar was moontlike hartskade. Hy het vloeistof in sy longe gehad en waarskynlik ook in sy brein. Boonop het hy ’n septiese wond aan sy stert en ’n gewas op sy oog gehad,” verduidelik Kelsey.
“Hy kon nie loop of eet nie. Wanneer hy probeer loop het, het hy in sirkels beweeg of sommer omgeval.”
Hy het wel probeer eet, sê Kelsey, maar sy tong was deur die elektriese skok so beskadig dat dit opgerol het – wat dit onmoontlik gemaak het om miere of termiete so te vang.
Dit het dus regtig glad nie goed gelyk vir Sparky nie, maar die PCRF het intensiewe sorg vir hom gekies. As Sparky nie wou opgee nie, sou die PCRF ook nie opgee nie.
“Hy het hierdie onwrikbare vonk van lewenswil gehad en ons gee nooit op met ’n dier wat nie op homself opgegee het nie,” het Kelsey gesê.
“As ’n dier wil leef, veg ons daarvoor.”
INTENSIEWE SORG
Makliker gesê as gedaan. Sparky se gesondheid was ’n enorme veeartsenykundige uitdaging. Selfs in intensiewe sorg het die ietermagô aanvanklik aansienlik gewig verloor en moontlike orgaanskade gesukkel. Maar ná twee maande van op-en-af het hy verbetering begin roon.
“In Mei kon ek vir die eerste keer dink dat Sparky dit dalk regitg kan maak.”
Tydens die hoogs ingewikkelde, tydrowende en duur proses het Sparky begin herstel. Die veeartsrekeninge alleen het N$100 000 beloop, maar dit was die moeite werd.
Sy gewig op die skaal het stadig maar seker begin klim en sy wonde het genees. Sparky het weer rondgeloop en miere gejag. En skielik het sy ware persoonlikheid – ontspanne, liefdevol en laf – na vore gekom. Sparky was sonder twyfel die klasnar van die PCRF.
Die tyd het uiteindelik aangebreek dat die PCRF met absolute sekerheid en vreugde kan aankondig dat Sparky in goeie gees en gesondheid is en gereed vir die volgende groot stap – vrylating in die natuur.
Die PCRF, wat nou saam met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) werk, het baie jare se ervaring met gevalle soos Sparky s’n en met hul suksesvolle rehabilitasie en vrylating in die natuur.
Sparky wat nou ’n indrukwekkende 11,3 kg weeg, is reeds die 47ste van 48 ietermagôs wat deur die PCRF gered is.
“Vir die eerste 16 diere was die oorlewingsyfer net 40%. Maar in 2023 kon ons die regering oortuig dat ons beter gestruktureerde veeartsenykundige sorg en ’n meer doelgerigte rehabilitasieprogram moes instel. Sedertdien kon ons die oorlewingsyfer van die diere wat ons gered het tot bo 90% verhoog,” verduidelik Kelsey.
“Die kern is noukeurige monitering van die diere selfs nadat hulle in die natuur vrygelaat is. Só kan ons seker maak dat dit goed gaan met die diere, selfs nadat hulle ons rehabilitasieprogram voltooi het.”
Sparky gaan ook deur ’n “sagte vrylating” terugkeer na die natuur. Anders as ’n “harde vrylating”, waar die dier bloot onmiddellik sonder inleiding, ondersteuning of monitering vrygelaat word, het die PCRF die dier reeds as deel van die “sagte vrylating”-proses met sy nuwe tuiste vertroud gemaak.
Toegerus met GPS- en VHF-sendertoestelle sal Sparky ook ná sy vrylating noukeurig gemonitor word, sodat daar opgetree kan word indien iets met hom gebeur.
“Ons wil baie seker maak dat hy werklik oorleef.”
Ietermagôs met hul agt subspesies wêreldwyd is uiters bedreig. Hulle is die mees gesmokkelde soogdier ter wêreld.
ELEKTRIESE HEININGS
Temminck se ietermagôs soos Sparky word deur die Wêreldbewaringsorganisasie (IUCN) as bedreig geklassifiseer. Dit is omdat hulle nie net slagoffers van wildstropery word nie, maar ook van dieselfde elektriese heinings wat Sparky byna bokveld toe gestuur het.
Die PCRF verwys na ’n studie wat aandui dat een ietermagô jaarliks vir elke 11 km elektriese heining sterf.
“In Suid-Afrika sterf meer ietermagôs weens elektriese heinings as aan wildstropery, ’n bedreiging waarvan die meeste mense heeltemal onbewus is,” sê Kelsey.
“Ek weet dit is ’n moeilike tussenoplossing om die heiningregulasies vir die aanhou van roofdiere en natuurlik die beskerming van wild met die beskerming van ietermagôs te versoen, maar dit is beslis moontlik.
“Een oplossing is om die onderste draad op ’n hoogte van 10 tot 15 cm te installeer en die eerste werklike lewendige draad eers op ’n hoogte van 30 cm te begin,” beveel sy aan.
Hoewel elektriese heinings ’n enorme gevaar vir ietermagôs inhou, kan ’n deurdagte ontwerp lewens red.
Verlede week is Sparky met ’n opsporingstoestel toegerus en in sy vervoerkas op ’n bakkie gelaai. Die son sak bloedrooi wanneer die PCRF by die plek aankom wat hulle vir Sparky se vrylating gekies het. Dit is veilig, beskerm deur teenstropery-eenhede, groot, ryk aan miere en termiete en in ooreenstemming met die habitat waar Sparky hoort.
Die PCRF laat sy ietermagôs altyd in die aand vry, want ietermagôs is immers nagdiere en slaap bedags.
Terwyl die maan reeds hoog in die lug hang, gaan die tralies van die vervoerkas oop en terwyl die PCRF-span hul asems op hierdie spesiale oomblik ophou, stap Sparky sorgeloos die donkerte in, gretig op soek na termiete.
Die PCRF volg hom nog ’n hele ruk om seker te maak dat Sparky werklik gemaklik is, suksesvol vreet en in sy habitat vestig.
Inderdaad, want toe die span die volgende oggend terugkeer om na Sparky te kyk wat hulle via die GPS-sender tot binne ’n meter lei, slaap hy rustig in ’n erdvarkgat wat lyk asof dit vir hom gemaak is, wat hy in sy eerste nag ontdek het. Vryheid het vir Sparky begin, want hy het dit verdien.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie