So word Cindy onthou
Haar lewe en ook haar dood op 31 jaar het mense oraloor in die wêreld diep geraak, hul siening oor bobbejane verander en hul lewenslesse geleer wat hulle nooit sal vergeet nie.
Sy het soveel mense gelukkig maak, skryf een van haar duisende volgelinge op haar Facebookblad, terwyl ’n ander beaam “ek dink almal het nou ‘n sagter hart wanneer dit by wilde diere kom”.
Namibië en die wêreld se gunsteling-bobbejaan Cindy is op 28 Desember verlede jaar op haar geliefde Simmenau omring deur haar mens- en dierfamilie dood, maar haar nalatenskap van liefde en hoop duur voort.
Tydens ’n baie spesiale onthou verlede week wat regstreeks op YouTube na haar duisende volgelinge uitgesaai is, is Cindy-staaltjies deur onder meer haar ‘ma’ Barista Lambrechts gedeel wat haar as bababobbejaantjie as deel van haar en haar man Malan en later die tweelingseuns se lewe het. Die Cindy’diens’ was moeilik, erken Ruben Lambrechts wat haar manewales met die ander vrylopende diere op Simmenau met die wêreld gedeel het.
“Dit het al die verlange terug gebring, maar op dieselfde tyd het ons met ‘n traan geglimlag as mens terug kyk na al die goeie tye saam met haar,” sê Ruben.
Anita en Jessica wat sowat vier jaar gelede by die Lambrechts begin werk het en gehelp het om Cindy te versorg toe sy siek word, het ook hul herinneringe tydens die spesiale uitsending gedeel.
“Hulle het Cindy baie goed geken en so mooi gehelp veral toe sy so siek geword het. Hulle het vertel van hul pad saam met haar en haar ‘grumpy’geite was soms hul werk moeilik gemaak het!”
Ruben, sy tweelingbroer Tersius en ma en pa Barista en Malan, het ook aan die wêreld se ondersteuners Cindy se finale rusplek gewys wat die Lambrechts vir haar gebou het.
Sy ‘ousus’ was meer as net ’n dier in hul sorg, sê Ruben.
“Sy was ons familie, ‘n onderwyser, ’n bron van vreugde en hoop vir baie en ‘n daaglikse herinnering aan die belangrikheid van verbintenis en begrip tussen mense en diere in die wêreld wat ons deel.”
As ’n weesdier wat ‘n kosbare tweede kans tot die lewe by sy gesin gekry het, wil die Lambrechts hierdie nalatenskap laat voortleef, vertel Ruben.
Midde hul seer aan hul groot verlies van Simmenau se matriarg, het die Lambrechts nou besluit om iets blywend en betekenisvol in Cindy se naam te skep.
Cindy’s Sanctuary sal bababobbejaantjies wat meestal hul ma’s weens mens-dier-konflik verloor het, danksy ’n rehabilitasiesentrum ‘n tweede kans gee.
“Ons gaan op klein skaal help en sodra hulle kan, die bobbejane in ’n groot kamp terug in die natuur plaas.”
Hul deure sal ook oop wees vir enige ander wees- of beseerde diertjie vir ‘n tweede kans op oorlewing.
Dis ’n duur storie, erken Ruben en tans is hulle besig met ‘n groot fondsinsameling om die sentrum te kan finansier.
“Ons is ook besig om die nodige permitte by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme reg te kry. Dis ’n lang proses, maar dit gaan so goeie doel dien. Deur dit gaan ons vir Cindy altyd onthou, sy was ‘n voorbeeld van hoe mens en dier kan saam leef,” verduidelik Ruben.
Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word vir onder meer ’n geëlektrifiseerde heining wat die diere op ‘n groot eiendom sal toelaat om in ’n veilige omgewing weer in die natuur vrygelaat te word, behuising vir vrywilligers asook voortgesette koste soos melk, kos en behoeftes aan veeartse.
Maar Cindy’s Sanctuary is net die begin, sê Ruben.
“Met voldoende ondersteuning is ons langtermyn visie om ons werk in bewaring in Namibië uit te brei en om wees-, bedreigde en beseerde wildlewe op ‘n groter skaal te help.”
Die Lambrechts wil Cindy nie net in herinneringe laat voortleef nie, beklemtoon Ruben, maar ook deur optrede.
“Cindy’s Sanctuary sal nie net ’n huldeblyk aan haar lewe wees nie, maar ook die begin van iets baie groter.”
Cindy se onthoudiens kan by https://q.my.na/QYSV gekyk word. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie