Sesde natste April in 45 jaar
Namibië het die sesde natste Aprilmaand beleef wat in die afgelope 45 jaar aangeteken is met wydverspreide swaar reënval wat voorgekom het.
Mei het ook nie teleurgestel nie met buie wat Maandag verras het.
Volgens die jongste reënval- en klimaatbulletin wat deur die Namibiese Meteorologiese Dienste (Meteona) uitgereik is, was April 2026 oorwegend natter as normaal oor die meeste dele van die land, met die meerderheid reënvalstasies wat minstens dubbel hul gemiddelde maandelikse reëntotale aangeteken het.
Aroab in die ||Kharasstreek het die hoogste reënval vir die maand aangeteken met ’n uitsonderlike 300,2 mm, gevolg deur Maltahöhe met 182 mm en Snyrivier met 179,2 mm.
Die klimaatbulletin lui groot dele van Namibië het gedurende April bonormale reënval ontvang, wat verligting gebring het ná ongelyke reënvalpatrone vroeër in die seisoen.
Geïsoleerde kolle van ondernormale reënval het egter voortgeduur in gebiede wat van Kongola tot Sachona in die Zambezistreek, Korridor 13 in die Omaheke, Rooisand in westelike Khomas en Lüderitz in ||Kharas strek.
Suidelike Otjozondjupa het hoofsaaklik gemiddelde reënvalvlakke aangeteken, veral in gebiede tussen Ojikururume en La Paloma langs die grensstreke van Khomas en Omaheke.
Die reënseisoen van 1 Oktober 2025 tot 30 April 2026 is grootliks deur normale tot bonormale reënval oor Namibië gekenmerk, volgens Meteona. Nietemin was daar tekorte oor die verre westelike gebiede en geïsoleerde dele van suidelike Otjozondjupa, noordoostelike Kunene en westelike Omusati.
“Die vroeë deel van die seisoen, veral Oktober tot Desember 2025, het ’n beduidende rol gespeel om die seisoenale reënvalsyfers op te stoot.
“Daardie tydperk is as die tweede natste sedert 1981 gelys, hoofsaaklik ween buitengewone swaar reëns in Desember 2025,” lui die bulletin.
Reënval het in Januarie 2026 aansienlik verswak, met die meeste gebiede wat ondernormale toestande ervaar het.
“Reënval het egter in Februarie en Maart herstel, met normale tot bonormale neerslae in baie streke, hoewel westelike Namibië relatief droog gebly het.”
Volgens die verslag het die Kunene, westelike Omusati, Erongo, Khomas, Hardap en ||Kharas tussen Januarie en Maart konsekwent droër as normale toestande ervaar voordat April se wydverspreide stortreëns die seisoenale totale reënvalsyfers verbeter het.
Die bulletin het ook aangedui dat El Niño en die Suidelike Ossillasie, ook bekend as Enso-neutrale toestande, in die ekwatoriale Stille Oseaan voortduur, met die El Niño-3,4-indeks wat vroeg in Mei 2026 +0,4 °C gemeet het.
Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie verwag egter dat El Niño-toestande tussen Mei en Julie sal ontwikkel en teen die einde van die jaar sal versterk.
Intussen het gemiddelde lugtemperature oor groot dele van sentrale en suidelike Namibië gedurende April onder 22 °C gebly weens aanhoudende reënval en wolkbedekking, terwyl noordwestelike gebiede temperature bo 25 °C aangeteken het.
KOUEFRONT
Die eerste kouefront van die winterseisoen het volgens Meteona op 19 April aangekom en 4 mm reënval na Oranjemund gebring, met skerp koeler toestande inwaarts na die binneland.
“Temperature het tot 18,6 °C by Karios gedaal, terwyl Narais-Duruchaus op 20 April vroegoggend slegs 3,5 °C gemeet het.”
Met die oog op die winter dui Meteona se voorspellings op meestal normale minimum temperature tussen Junie en Augustus 2026 aan. Kouer as gemiddelde minimum temperature word egter oor die streke van Khomas, Omaheke en suidelike Otjozondjupa verwag namate El Niño-toestande begin ontwikkel.
Intussen, volgens die jongste vloedbulletin, bly watervlakke langs die Oranjerivier relatief hoog en alle riviergebruikers en gemeenskappe langs die rivier word aangeraai om versigtig te wees en waaksaam te bly.
Die totale inhoud van die land se damme het volgens NamWater se jongste weeklikse dambulletin van Maandag op 81,4% gestaan. In die Suide is die Nautedam oorvol op 109,5% en die Neckartaldam byna vol op 99,5%. In die sentrale gebied is die Swakoppoortdam 80% vol en Von Bachdam 66,2%.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie