Seevoëls se habitat word vernietig

Visseryeministerie reageer
Claudia Reiter,Tanja Bause
Claudia Reiter – “Wie? Hoekom? Met wie se toestemming?” wou die omgewingsorganisasie Lüderitz Marine Research weet.

Dié vrae is gevra nadat die duine op dele van Grossebucht se strand deur swaar masjinerie omgedolwe is.

Die duine is volgens die organisasie noodsaaklik om die kus te stabiliseer en bied ’n belangrike habitat vir voëls (inheemse en migrerende voëls), sowel as ontelbare ander organismes.

Die Salsola nollothensis – ’n endemiese bos wat tussen suidelike Namibië en die Noord-Kaap in Suid-Afrika voorkom – groei uiters stadig, en is noodsaaklik vir dié kusstreek. Die meeste van die plante op die Grossebucht-strand word ouer as ’n eeu geskat.

“Stranderosie, kusmynbou en kusontwikkeling bedreig die bos se habitat. Meer as ’n dekade gelede – as deel van die rehabilitasie van kusmynbou – het Namdeb plantkundiges gehuur in ’n poging om die plantegroei te herstel. Hierdie pogings duur vandag nog naby Bogenfels voort.”

Tans is daar drie groot populasies van dié spesie langs Lüderitzbucht wat hierdie duine vorm, by Shearwaterbaai, in Guanobaai en die meeste op Grossebucht.

“Nou het iemand besluit om die strand aan die onderkant van daardie duine te ploeg. Die onmiddellike impak is die verlies aan twee vaalstrandkiewiete, elk met twee eiers en die verdwyning van nog ’n paar van die spesie wat laas met ’n piepklein kuiken gesien is.”

Volgens Lüderitz Marine Research sal winderosie aan die voet van die duine toeneem, aangesien die sand geploeg is. Dit kan tot gevolg het dat die volgende groot springgety die duine vernietig.

“Die wet verbied hierdie optrede tensy ’n spesifieke omgewingsimpakstudie uitgereik is (ná behoorlike ondersoek en goedkeuring).

“Dit behoort ingevolge die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (die kuslyn is deel van ’n nasionale park) en die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se wetgewing te geskied,” sê Lüderitz Mariene Research.

MINISTERIE SE REAKSIE

Die voorval is verlede Woensdag by die ministerie van visserye en mariene hulpbronne aangemeld.

“Volgens die inligting wat tot ons beskikking is, is dit die optrede van ’n maatskappy wat tydelike goedkeuring gekry het om uitgespoelde seewier op die strand by Lüderitz te versamel,” het die ministerie gesê.

Volgens die regulasies van die Namibiese eilande mariene beskermde gebiede, mag ’n individu nie lewende seewier binne dié gebied afsny of oes nie.

Waar dit nodig geag word om seewier te sny, sal dit slegs met ’n permit toegelaat word nadat ’n aansoek by die streekkantoor van die departement van visserye en mariene hulpbronne ingehandig en goedgekeur is.

“Die maatskappy wat die permit ontvang het, het seewier – wat oor die jare onder die sand begrawe is – probeer opspoor en het ’n groot skraper gebruik om ’n klein gedeelte van die strand, naby die hoogwatermerk, te ploeg.

“Hulle het probeer om op dié manier die dieper seewier na die oppervlak te bring,” het die ministerie gesê.

“Die ministerie keur dit nie goed nie, aangesien dit die kusvoëls wat op die strande broei, versteur en stranderosie en duineskade sal verhoog. Die kollegas op die terrein sal verdere ondersoek instel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer