Ruacanawaterval ’n skouspel

Lodges langs Kunene moet ontruim
NamPower het 'n waarskuwing aan gemeenskappe en toeriste langs die Kunenerivier uitgereik.
Francoise Steynberg
Die Ruacana-waterval is volgens toeriste tans ’n skouspel wat dekades laas so asemrowend mooi was.

Volgens NamWater se jongste dambulletin is die Caluequedam 95,1% vol teenoor verlede week se 80%.

Lodge-eienaars langs die Kunenerivier maak gereed om te ontruim nadat die dam se sluise al Sondag oopgemaak is.

Hanta Potgieter van die Omanjandi-ruskamp, wat sowat 8 km wes vanaf die Ruacana-waterval geleë is, het gister aan Network Media Hub (NMH) gesê, “ons het baie water. Die vloei is 2 400 kubieke meter per sekonde van Maandag om 01:00”.

“Die kamp is halfpad onder die water en die water bly styg. Ons is afgesny, mense kan nie by ons uitkom nie en die pad verder aan is toe. Die rivier stoot terug,” het Potgieter gesê.

“Ons sit basies op ’n eiland en wag en kyk wat vandag verder gaan gebeur. Ons sal moet ontruim.”

Sy sê die perde kan hulle uitry, maar die beeste, skape, bokke, hoenders en eende sal hulle na ’n hoër deel op die sogenaamde witbult moet verskuif. Die vorige keer wat Omanjandi oorstroom het, het die varke, eende en hoenders weggespoel.

Volgens Potgieter is dit die sewende vloed wat Omanjandi ervaar met die hoogste vloed in 2020.

Omanjandi bly gesluit tot verdere kennisgewing.

“Dit bly ’n belewenis, dit bly mooi,” het sy afgesluit.



WAARSKUWING

NamPower het die inwoners en gemeenskappe wat langs die Kunenerivier woon, gewaarsku dat as gevolg van swaar reënval in suidelike Angola, groot volumes water na Ruacana vloei.

Gevolglik het NamPower Maandag die tweede sluis van die omleidingswal by die kragstasie oopgemaak, wat die riviervloei tot meer as 1 600 kubieke meter per sekonde (1,6 miljoen liter per sekonde) verhoog het.

“Die uiters hoë riviervloei, wat laas in 2011 ervaar is, sal na verwagting aansienlike oorstromings stroomaf van die Ruacana-kragstasie veroorsaak.

“Inwoners in die gebied en riviergebruikers stroomaf van die Ruacana-kragstasie word aangeraai om dringend laagliggende gebiede te ontruim, vee en toerusting na hoër grond te skuif en om van die rivieroewer af weg te bly, aangesien die water sonder waarskuwing sal styg,” maan NamWater.

“Lodges en kampeerplekke in die gebied word ook aangeraai om kennis te neem van die vloedwaarskuwing en om alle nodige reëlings te tref om hul en hul besoekers se veiligheid te verseker.

“Inwoners en besoekers word verder versoek om weg te bly van die rivieroewer en om alle aktiwiteite naby die water te vermy.”



DAMVLAKKE

Weens die milde landswye reën is ander damvlakke ook besig om te styg met 11 damme wat die afgelope week beduidende invloei gehad het.

Die Olushandjadam in die Noorde is nou 72,9% vol. Die Omdeldam by Omaruru staan nou op ’n vlak van 26,3%.

Die Hardapdam by Mariental word met ’n arendsoog deur NamWater, die munisipaliteit en skemaboere dopgehou om die sluise oop te trek sodat die dorp nie weer ’n verwoestende vloed beleef nie. Hardap se vlak het gister op 74,9% gestaan nadat dit verlede seisoen slegs 12,2% vol en sowat ’n week gelede 64,3% vol was.

Ook in die Suide het die Nautedam binne ’n week van 55,7% tot 62,1% gestyg, die Neckartal van 88,3% tot 91,3%. By Rehoboth het die Oanobdam binne ’n week van 56,8% tot 68,9% gestyg.

Wat die sentrale damme betref, loop die Swakoppoortdam oor met sy vlak op 104,4%, die Von Bachdam by Okahandja het binne ’n week gestyg van 58,2% tot 64,9% en die Omatakodam van 46,2% tot 80,8%. Daan Viljoen in die Gobabisdistrik het van ’n skrale 34,7% tot 64,1% gestyg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer