Parke beskerm teen mynbou

Openbare vergadering lok min reaksie
Nuwe prospektering en mynboubedrywighede word in onder meer die Namib-Naukluft en Dorob Nasionale Park verbied.
Adam Hartman
Die rustigheid in dele van Namibië se mees ikoniese beskermde gebiede word toenemend deur mynboubedrywighede versteur.

Só beweer sommige omgewingsbewustes, toeroperateurs en plaaslike waarnemers.

In die Dorob- en Namib-Naukluft nasionale parke en veral in die gebied wat strek vanaf Bloedkopje deur die Swakopriviervallei tot die uitkykpunt by die Maanlandskap, is die grootste klagtes die voortgesette gedreun van masjinerie van nabygeleë uraanmyne, sigbare wielspore, boorgatinstallasies en mobiele toilette wat oraloor die andersins ongerepte landskappe versprei is.

“Jy kan nêrens meer gaan om net niks te hoor nie,” het ’n plaaslike toergids vandeesweek aan Network Media Hub (NMH) gesê.

“Dit maak nie saak hoe diskreet hulle probeer wees nie, daar is altyd iets wat iewers gebeur.”

Dis teen hierdie agtergrond dat die hersiene nasionale beleid oor prospektering en mynbou in beskermde gebiede en ander gebiede met hoëwaarde-spesies Dinsdag tydens ’n openbare konsultasie in Swakopmund bespreek is.

Ten spyte van die verreikende implikasies van die dokument, het die openbare vergadering min reaksie onder die publiek gelok, met sommige wat meen dit het “onder die radar” plaasgevind.

Van die belangrikste elemente van die hersiene beleid is die volle uitsluiting van die Kaap Kruis-natuurreservaat, Namib-Naukluft Nasionale Park, Dorob Nasionale Park asook die Skedelkus Nasionale Park van enige nuwe mynboubedrywighede.

Dié gebiede wat almal in die Erongo- en Kunenestreek geleë is, is vir hul ekologiese, toerisme- en erfenisbelang uitgelig.

Kaap Kruis, wat jaarliks N$4,2 miljoen tot die staatskoffers bydra, bly gesluit vir nuwe mynboubedrywighede buiten vir bestaande soutontginning wat as volhoubaar beskou word. Die park is die tuiste van die wêreld se grootste Kaapse pelsrobkolonie, broeiplekke vir skaars voëlspesies en historiese ligeenvelde.

Die Namib-Naukluft Nasionale Park, wat jaarliks sowat N$20 miljoen in inkomste uit toerisme genereer, sluit die Namib Sandsee-wêrelderfenisgebied en die voorvaderlike grond van die Topnaar-gemeenskap in. Die woestynkors-ekostelsels is veral broos en kan nie herstel as dit eers beskadig is nie.

Die Dorob Nasionale Park, met wêreldwye belangrike Welwitschia-bevolkings, argeologiese erfenis en die broeigebiede van die bedreigde Damara-sterretjie, word ook ten volle beskerm. Kommer duur egter voort oor die mate waarin vorige en voortgesette nywerheidsbedrywighede in en om die park reeds die omgewing beskadig het.

Die Skedelkus Nasionale Park, wat in die hersiene beleid geïdentifiseer is as “moontlik die sensitiefste en mees skilderagtige deel van Namibië”, is ook van alle nuwe mynboubedrywighede uitgesluit. Die park sluit skaars riviermondingstelsels, historiese skeepswrakke en habitatte vir endemiese spesies soos die Nyl-sagtedopskilpad in.



ONDERSTEUN

Hoewel die uitsluitings omvattend is, maak die hersiene beleid net vir ’n beperkte aantal voorsiening.

Bestaande eksplorasie- of mynregte wat voor die nuwe sonering uitgereik is, sal eerbiedig word. In sekere gevalle kan mynbou steeds in sensitiewe gebiede goedgekeur word as dit in nasionale belang geag word, mits onder meer streng omgewingsmaatreëls en planne vir rehabilitasie in plek is.

Die beleid maak ook voorsiening vir tydelike uitsluitings in gebiede waar die beskerming van biodiversiteit aan aktiewe ooreenkomste verbind is, soos skemas vir voogdyskap of vennootskappe met gemeenskappe. Soutontginning by Kaap Kruis gaan byvoorbeeld onder so ’n erkende uitsondering voort.

Die hersiene beleid het ook ’n ondersteuningshulpmiddel bekend gestel om lisensiebesluite te lei, wat op ekologiese en erfenis-sensitiwiteit gebaseer is. Dit gee ook die mandaat vir rehabilitasie- en biodiversiteitsprogramme wat ondersteun word deur uitvoerbare finansiële waarborge.

“Potensieel kan beskermde gebiede negatief deur mynbou en ander grondgebruike beïnvloed word,” maan die ministeries van nywerheidsontwikkeling, myne en energie en die omgewing, bosbou en toerisme in die voorwoord van die beleid.

“Omdat Namibië se beskermde gebiede omgewingsensitiewe woestyn- en droë streke insluit waar die koers van ekologiese herstel uiters stadig is, is die potensiaal vir regenerasie baie stadig,” erken die omgewingsministerie in die beleid.

Hoewel mynbou steeds ’n kritieke bydraer tot Namibië se ekonomie is – sowat 17% van die bruto binnelandse produk (BBP) – erken die hersiene beleid dat meer as 70% van hierdie inkomste uit bedrywighede binne of naby beskermde gebiede kom. Die doelwit is om praktyke uit te faseer wat nie in lyn is met volhoubare ontwikkeling en omgewingstandaarde nie.

Die beleid brei die uitsluitings uit om biodiverse kommunale bewaringsgebiede, wildplase en gemeenskapswoude in te sluit, veral dié met langtermyn-bewaringsvennootskappe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer