Olifante saai amok noord van Etosha
’n Totaal van 52 wilde diere, insluitend 34 olifante, 12 leeus en ses luiperds, is oor die afgelope drie jaar in gebiede noord van Etosha Nasionale Park as probleemdiere van kant gemaak.
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, het dit gesê toe sy in die parlement gereageer het op kwessies wat verband hou met wildbewegings – veral olifante – en die brande in Etosha Nasionale Park. Daniel het gesê die diere is van kant gemaak in reaksie op spesifieke voorvalle waar daar risiko’s vir mense, vee of eiendom was, met die doel om mens-dier-konflik te voorkom en te verlaag.
Sy het gesê die besluit om ’n probleemdier te verklaar en van kant te maak, is uiteindelik daarop gemik om mense te beskerm terwyl konflik met wild bestuur word.
“Ons wil nie hê hierdie wilde diere moet die probleme met mense veroorsaak nie,” maar bygevoeg dat diere slegs in spesifieke voorvalle as probleemdiere verklaar word waar ingryping nodig is.
Daniel het egter beklemtoon dat mens-dier-konflik nie altyd uitsluitlik aan wilde diere toegeskryf kan word nie.
“Soms is die probleem nie die diere nie, maar die mense.”
Sy het benadruk dat Namibië se benadering daarop gefokus behoort te wees om mens-dier-konflik te bestuur sodat mense en wilde diere saam kan leef.
Daniel het spesifiek na die onlangse jag van ’n olifant in die Omusatistreek verwys en gesê die dier was deel van ’n geskatte bevolking van sowat 300 olifante wat buite die Etosha Nasionale Park leef, hoofsaaklik in die noordelike streke. Sy het verduidelik dat hierdie olifant nie uit die park gemigreer het nie en deel is van die sowat 300 olifante wat buite Etosha leef.
“Amptenare het die dier se bewegings nagespoor en bevestig dat dit nie uit Etosha afkomstig was nie.”
Alhoewel die ministerie opsporingstelsels gebruik om olifantbewegings te monitor, dra nie elke olifant ’n halsband nie – ook nie die spesifieke dier wat betrokke was nie.
Die minister het gesê die olifant het van sy trop geïsoleer geraak en na ’n gebied tussen nedersettings uitgewyk waar baie mense woon.
Volgens Daniel het die dier aggressiewe gedrag begin toon wat ’n ernstige risiko vir mense en hul eiendom geskep het. Die minister het die idee verwerp dat die olifant bloot terug Etosha toe aangejaag kon word.
“’n Olifant, veral ’n alleenlopende dier, is nie ’n dier wat jy sommer reguit op een manier kan aanjaag om te gaan waar jy hom wil hê nie.”
Sy het gewaarsku dat ’n poging om die grootpoot in ’n bepaalde rigting te dwing dit meer aggressief kan maak en die situasie kan vererger. Daniel het ook gewys op die aansienlike koste wat betrokke is by die hervestiging van so ’n dier.
Volgens haar het die ministerie daarom geen ander keuse gehad as om die olifant as ’n probleemdier te verklaar en dit van kant te maak nie.
Die minister se opmerkings beklemtoon die ingewikkelde uitdagings in Namibië terwyl ’n balans probeer vind word tussen wildbewaring en die veiligheid en lewensbestaan van gemeenskappe wat saam of langs groeiende wildbevolkings leef.
ETOSHA-BRANDE
Met betrekking tot vrae oor die impak van die verwoestende veldbrande in Etosha verlede jaar, het Daniel gesê daar was geen massaverskuiwing van wild uit die park ná die brande nie.
Sy het gesê ongeveer 38% van die vlagskippark het in 2025 afgebrand, maar die diere het binne die park gebly, omdat daar voldoende en geskikte habitat beskikbaar gebly het.
Volgens Daniel het die tydsberekening van die brande – wat kort voor die eerste reëns plaasgevind het – ook daartoe bygedra dat plantegroei in die geraakte gebiede vinnig kon herstel.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie