Die twee nuwe vragmotors saam met die padskraper wat kritiek is vir bedrywighede in die Etosha Nasionale Park. Foto MEFT
Die twee nuwe vragmotors saam met die padskraper wat kritiek is vir bedrywighede in die Etosha Nasionale Park. Foto MEFT

Nuwe swaar voertuie ’n hupstoot vir Etosha

Ellanie Smit
Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het twee nuwe vragmotors beskikbaar gestel om kritieke bedrywighede in die Etosha Nasionale Park te ondersteun.

Die swaar voertuie sal ’n belangrike rol speel in die bekamping van stropery, die instandhouding van paaie en heinings, die skep en instandhouding van brandpaaie, asook vir die algehele bestuur en bewaring van Etosha.

Minister Indileni Daniel het die amptelike oorhandiging van die voertuie ter waarde van N$7,1 miljoen op Okaukuejo behartig en gesê die voertuie is deur die ministerie uit die wildleweprodukte-trustfonds verkry.

“Die vragmotors sal ons operasionale kapasiteit beduidend verhoog deur noodsaaklike watervoorrade aan teenstropingspatrollies en -personeel in die veld te verskaf, terwyl dit ook gebruik sal word vir die skep en instandhouding van brandpaaie om veldbrande te bestuur,” het sy gesê.

Waar nodig sal dit ook in ander nasionale parke en bewaringsgebiede ontplooi word.

“Ek doen ’n beroep op elkeen van ons om te verseker dat hierdie noodsaaklike bates verantwoordelik gebruik en goed in stand gehou word, omdat dit ’n sleutelrol in die bewaring van die park se natuurlike erfenis speel,” het die minister gesê.

Kantoor-, kombuis- en huishoudelike toerusting is ook aan die sentrum vir omgewingsonderrig op Namutoni oorhandig. Die sentrum is ’n noodsaaklike deel van Namibië se onderwyssektor en het ten doel om bedrywighede en dienste hier ’n hupstoot te gee.

Van die toerusting sluit skootrekenaars, kussingslope en lakens in, sowel as eetgerei en glase. Die toerusting, ter waarde van N$151 128, is ook deur die wildleweprodukte-trustfonds aangekoop.

Daniel het gesê die onderrigsentrum speel ’n noodsaaklike rol om omgewingsbewustheid onder skool- en universiteitsgroepe en jongmense te bevorder. Programme by die sentrum dek belangrike temas soos die bewaring van biodiversiteit en beroepsleiding in omgewingsbestuur, afvalbestuur, klimaatsverandering, wildbeskerming, sowel as die bestuur van mens-dier-konflik.

“Terwyl die sentrum voortgaan om hierdie groepe doeltreffend te dien, het dit nodig om sy beeld te verbeter en beter dienste aan skole, universiteite en ander gebruikersgroepe te verskaf,” het die minister gesê.

Volgens Daniel is die oorhandiging van die toerusting bloot ’n begin.

“Vir die toekoms beplan ons kleinskaalse opknappings aan die gebou en die verfraaiing van die omgewing rondom die sentrum.

Die minister sê dié pogings is om te verseker die onderrigsentrum verskaf omgewingsonderrig van ’n hoë gehalte aan Namibiese kinders en ander verbruikersgroepe wat die park besoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer