Nuwe blafgeitjie-spesies in Namibië ontdek
Geskiedenis van Afrika se ’singende’ akkedis herskryf
Dr. Francois Becker en sy internasionale span se ontdekking het die bekende aantal geitjiespesies laat verdriedubbel en nuwe lig gewerp op die evolusie en bewaring van hierdie unieke akkedisgroep.
In Namibië lê daar steeds verrassings onder die sand.
Ná jare se veldwerk, genetiese ontledings en noukeurige luisterwerk het dr. Francois Becker van die Nasionale Museum van Namibië saam met internasionale kollegas ses nuwe blafgeitjie-spesies geïdentifiseer.
Daarmee is die bekende aantal van drie tot nege verhoog.
Die studie, onlangs gepubliseer in die vaktydskrif Vertebrate Zoology, maak gebruik van ’n metode wat “integratiewe taksonomie” genoem word: Die kombinasie van genetiese data, roepklanke, kleurpatrone, liggaamsvorm en habitatvoorkeure om nuwe spesies te onderskei. Hierdie benadering het gewys dat wat vroeër as enkele spesies beskou is, in werklikheid miljoene jare van evolusie van mekaar geskei is.
Becker se reis het in 2017 begin, toe hy by die Gobabeb Namib-navorsingsinstituut gewerk het. Tydens nagtelike toere oor die Namibduine het hy agtergekom dat die “geblaffery” van die geitjies in die Namib-Sandsee duidelik verskil van dié op die nabygeleë gruisvlaktes. “Ek het dadelik besef iets is hier aan die gebeur,” vertel hy.
Deur roepklanke op te neem, monsters te versamel en DNS te ontleed, het Becker bewys dat hierdie populasies verskillende spesies is, elk uniek aan hul omgewing.
Tydens sy doktorale navorsing het Becker saam met twee Suid-Afrikaanse reptielkenners gewerk, asook mede-outeurs, prof. Krystal Tolley van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit-instituut (SANBI) en nou by die Universiteit van Johannesburg, en prof. Graham Alexander van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Hulle het as sy studieleiers en wetenskaplike mentors gehelp om die omvang van die navorsing te lei en te verfyn.
Die nuwe spesies is:
1.Ptenopus kenkenses, die Nama-blafgeitjie, endemies aan die noordelike Nama-Karoo.
2. Ptenopus adamanteus, die diamantkus-blafgeitjie, gevind in die Sperrgebiet/Tsau ||Khaeb Nasionale Park.
3. Ptenopus circumsyrticus, die duinstraat-blafgeitjie, wat tussen die duine van die Namib leef.
4. Ptenopus sceletus, die Skedelkus-blafgeitjie, met sy beenwit kop en ribagtige strepe.
5. Ptenopus australis, die suidelike blafgeitjie, beperk tot die suidelike Nama-Karoo in Suid-Afrika.
6. En Ptenopus maculatus, die Damaraland-blafgeitjie, waarvan die naam ná 159 jaar weer “herleef” het.
SKAAM EN SKUGTER
Becker en sy medewerkers het boonop ’n dichotomiese sleutel ontwikkel waarmee navorsers blafgeitjies volgens hul roep kan identifiseer, ’n eerste in die wêreld vir reptiele. Hierdie harde stemmetjies is maklik om te hoor, maar die diertjies self is skaars te sien: Hulle woon in diep gate, is uiters skugter en verdwyn met die minste beweging of geluid.
Die ontdekking het belangrike implikasies vir bewaring. Omdat elke spesie net in ’n beperkte gebied voorkom en dikwels aan ’n spesifieke grondsoort aangepas is, is hulle uiters sensitief vir ontwikkeling, mynbou en klimaatsverandering. In plekke soos die kus tussen Swakopmund en die Kuisebrivier, waar Ptenopus carpi leef, bedreig stadsuitbreiding en toerisme reeds hul brose habitatte.
Becker, tans hoofkurator van natuurwetenskap by die Nasionale Museum, sê die studie wys hoe baie nog in Namibië ontdek kan word:
“Hulle is vreemd en ongelooflik oulik, ’n fassinerende klein groepie wat beslis meer aandag verdien.”
Die blafgeitjies se stories, vasgevang in hul nagtelike liedere, herinner ons daaraan dat Namibië se woestyne steeds lewe en geheimenisse fluister, selfs vir dié wat bereid is om stil te luister.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie