Foto ter illustrasie/CCF
Foto ter illustrasie/CCF

Nog ’n terugslag vir Project Cheetah in Indië

Elfde jagluiperd vrek
Indië se jagluiperdbevolking staan tans op 26, volgens die Times of India, waarvan nege volwasse jagluiperds is en 17 welpies wat in dié land gebore is.
Iréne-Mari van der Walt
Indië se Project Cheetah het weer ’n terugslag beleef toe nog ’n jagluiperd wat van Namibië in die Kuno Nasionale Park (KNP) in die Madhya Pradesh-provinsie hervestig is, gevrek het.

Die jagluiperdwyfie, Nabha, het glo haar been tydens ’n jagtog in die park beseer.

“Die Indiese regering het my onmiddellik van haar dood in kennis gestel. Hulle het haar vir ongeveer ’n week behandel voor sy weens haar beserings dood is,” sê dr. Laurie Marker, die uitvoerende direkteur van die Jagluiperdbewaringsfonds (CCF) in Namibië.

Nabha is die 11de jagluiperd wat sedert die begin van die projek in die park gevrek het.

Altesaam 20 jagluiperds – agt van Namibië en 12 van Suid-Afrika – is in 2022 in die park hervestig nadat dié spesie meer as 70 jaar gelede in Indië uitgesterf het.

Indië se jagluiperdbevolking staan tans op 26, volgens die Times of India, waarvan nege volwasse jagluiperds is en 17 welpies wat in Indië gebore is.

Sestien jagluiperds is vrygelaat en Indië se velddirekteur vir Project Cheetah, Uttam Sharma, het volgens die Press Trust of India (PTI) gesê al die oorblywende jagluiperds is gesond. Twee mannetjies wat van KNP na die Gandhi Sagar-bewaringspark verskuif is, is ook gesond, volgens Sharma.

“Hulle het goed by die habitat aangepas en geleer om saam met ander roofdiere te leef en gereeld te jag,” het Sharma gesê.

Hy het ook bygevoeg dat die twee wyfies, Vera en Nirva, goed aansterk nadat hulle onlangs geboorte geskenk het.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme kon egter nie Nabha se dood bevestig nie.

“Ons het op hierdie berigte in die media afgekom en is in hierdie stadium nie in ’n posisie om enige besonderhede te verskaf nie.

“Ons volg egter op met die betrokke owerhede en sal inligting verskaf sodra ons amptelike bevestiging het," het die ministerie se woordvoerder, Ndeshipanda Hamunyela, by navraag aan Network Media Hub (NMH) gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer