Namibië wil meer as 46 ton se ivoor verkoop

Formele voorstel reeds ingedien
Volgens Namibië se voorstel aan Cites sal die inkomste wat deur die verkope gegenereer word in die Wildprodukte-trustfonds betaal word.
Ellanie Smit
Namibië vestig sy hoop op die komende COP20 van die Konvensie van die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) vir goedkeuring om van sy ivoorvoorraad wettiglik te verkoop. ’n Formele voorstel is reeds ingedien.

Die beraad sal van 24 November tot 5 Desember in Oesbekistan plaasvind.

Volgens die voorstel wat deur Namibië ingedien is, het die land tans net meer as 92 386 kg ivoor met ’n waarde van sowat N$166 miljoen. Die ivoor is afkomstig van bevolkingsbestuur en beslagleggings, omtrent die helfte elk. Namibië vernietig nie sy ivoor nie.

“Met hierdie voorstel wil Namibië ’n bestaande voorraad van 46 268 kg geregistreerde rou ivoor (heel tande en stukke) van Namibiese oorsprong en wat deur die regering besit word, vir kommersiële doeleindes verhandel,” lui die versoek.

Die dokument lui voorts dat die ivoorvoorraad opgehoop het van olifante wat aan natuurlike oorsake gevrek het, sowel as deur bestuurspraktyke.

Volgens Namibië se voorstel sal handel gedryf word met vennote wat deur die Cites-sekretariaat goedgekeur is om voldoende nasionale wetgewing en binnelandse handelsbeheer te hê om te verseker dat ivoor wat uit Namibië ingevoer word, nie heruitgevoer sal word nie. Dit sal ook bestuur word in ooreenstemming met alle vereistes rakende binnelandse produksie en handel.

Namibië het sedert 1985, in 1999 en in 2008 wettige internasionale handel in ivoor beoefen, as ’n hoogs gereguleerde uitvoer van altesaam 19 870 kg na Japan en China. By beide geleenthede het die Cites-sekretariaat bevestig die handel het suksesvol plaasgevind en dat daar volkome nakoming van alle voorsorgmaatreëls was.



INKOMSTE

Volgens die voorstel sal die inkomste wat deur die verkope gegenereer word in die Wildprodukte-trustfonds betaal word.

Dit sal uitsluitlik vir olifantbewaring – insluitend monitering, navorsing, wetstoepassing en ander bestuursuitgawes – sowel as vir gemeenskapsbewaring- en ontwikkelingsprogramme aangewend word.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme sal voorts ’n jaarverslag aan die Cites-sekretariaat oor die gebruik van hierdie fondse verskaf.

Oor die jare het die Wildprodukte-trustfonds sleutelkomponente van Namibië se gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronbestuurstelsel gefinansier, insluitend die voorsiening van infrastruktuur om die saambestaan van mense en olifante in bewaringsgebiede te bevorder, die skep van bykomende waterbronne vir olifante en die ontwikkeling van gemeenskapsbestuurde kampeerplekke.

Die dokument het ook verwys na die hoë finansiële en sekuriteitsimplikasies van die berging van ivoorvoorrade, sowel as ivoor weens natuurlike sterftes en bestuur.

Die beheerde ivoorhandel sal ook direk die bewaring van die Namibiese olifantbevolkings bevoordeel deur olifante waardevol te maak vir die gemeenskappe waarmee hulle hulpbronne buite beskermde gebiede deel.



OLIFANTBEVOLKING

Die olifantbevolking in Namibië het gegroei van ’n geraamde 7 000 in 1990 tot meer as 25 000 olifante aan die einde van 2024.

“Namibië het nie olifante direk vir kommersiële handel of plaaslike verbruik uitgebuit nie, behalwe deur jag en fototoerisme,” lui die dokument.

Klein getalle olifante is in 1983 en 1985 geskiet om spesifiek geteikende bevolkingsverminderings vir bewaringsdoeleindes gedurende droogtetydperke in die Etosha Nasionale Park te bewerkstellig.

Daarbenewens het Namibië die afgelope jare ’n ernstige droogte ervaar, met die kabinet wat in 2024 ’n besluit geneem het om ’n klein aantal olifante te skiet.

Alle ivoor wat voorheen verhandel is, is opgehoop uit natuurlike en bestuursverwante sterftes en kan dus as ’n byproduk van doeltreffende langtermynbestuur beskou word.

Klem is ook gelê op die feit dat geen olifante spesifiek geskiet is of geskiet gaan word om ivoor of ander produkte vir handel te bekom nie. Ivoor word herwin van alle aangetekende natuurlike sterftes, sowel as van olifante wat as probleemdiere geskiet is.

Streng nasionale wetgewing vereis ook dat die publiek enige ivoor wat gevind word, moet oorhandig.

Kliek op die skakel vir ’n video van die Wêreldnatuurlewefonds oor onwettige ivoorhandel: https://q.my.na/OL74

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer