Namibië kry weer bloedneus by Cites

Handel in ivoor, renosterhoring afgekeur by CoP20
By die 20ste Konferensie van Partye (CoP20) van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Fauna en Flora (Cites) in Samarkand, Oezbekistan, het 'n tweederdemeerderheid partye Saterdag nee teen Namibië se voorstelle vir die wettige handel in ivoor en renosterhoring gestem.
Francoise Steynberg
Namibië se voorstelle is verwerp om streng gereguleerde handel in renosterhoring en ivoor toe te laat.

By die 20ste Konferensie van Partye (CoP20) van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Fauna en Flora (Cites) in Samarkand, Oezbekistan, het 'n tweederdemeerderheid partye Saterdag nee teen Namibië se voorstelle gestem.

Vir die voorstel vir handel in renosterhoring het 119 partye gestem met 70 daarteen, 31 het ja gestem en 18 het buite stemming gebly.

Vir die wettige handel in ivoor het 117 partye gestem met 81 wat nee gestem het, 22 ja en 14 het buite stemming gebly.

Namibië was by Cites CoP20 deur onder meer amptenare van die ministerie van die omgewing, bosbou (MEFT) verteenwoordig, Danene van der Westhuyzen, lid van die Namibië Professionele Jagtersvereniging (Napha) vir Dallas Safari Club (DSC), asook private renostereienaars en -bewaarders onder die vaandel van Help our Rhinos Now Namibia (HoRN.nam) deur die voorsitter Jaco Muller en lede Annette Oelofse en haar seun Alex.

Muller het Saterdag uit Samarkand aan Republikein oor die hul mislukte missie gesê "ons is baie teleurgesteld, maar in 2022 was die ja-stemme slegs 15%, nou was dit 30%, so dis darem positief". Amptenare van MEFT het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Namibië het toestemming gevra om 'n beheerde stelsel te implementeer wat die handel in renosterhoring uit wettig verkrygde bronne moontlik sou maak – soos horings wat onder veeartsenykundige toesig gedeeltelik onthoring word of horings wat van dooie diere herwin word.

In sy voorstel het Namibië aangevoer dat sulke handel volhoubare fondse vir renosterbeskerming kan genereer terwyl dit die swartmark wat stropery oraloor Suider-Afrika aanwakker, ondermyn.

HoRN.nam het gepleit dat Namibië reeds die moniteringstelsels, forensiese kapasiteit en toesigmeganismes het wat nodig is om 'n streng beheerde wettige handel te administreer.

Onder die voorstel sou slegs horings wat verkry word deur gedokumenteerde onthoring van lewende diere, gerugsteun deur volledige DNS-rekords, kwalifiseer vir handel.

"Elke horing word met 'n mikroskyfie toegerus, daar word gereeld DNS-monsters van horings geneem en gedokumenteer en deur 'n ononderbroke bewaringsketting opgespoor word, met onafhanklike ouditering en Cites-verifikasie wat deursigtigheid verseker," het hul verklaring gelui.

Muller het gesê die sleutel tot die renosterbewaarders se vertroue is RhODIS®, die Renoster-DNS-indeksstelsel wat ontwikkel is deur die Universiteit van Pretoria se veeartsenykundige genetika laboratorium in Suid-Afrika. Die databasis bevat meer as 40 000 DNS-profiele van renosters en is in meer as 120 suksesvolle ondersoeke na wildmisdaad oraloor Namibië, Suid-Afrika, Zimbabwe, Mosambiek, Eswatini en Kenia gebruik.

IVOOR

Namibië het ook goedkeuring by Cites gesoek om meer as 44 000 kilogram rou ivoor uit sy regeringsbeheerde voorrade te verkoop. Die ivoor, wat uit olifanttande en -stukke bestaan, kom slegs van olifante wat weens natuurlike oorsake gevrek het of as probleemdiere van kant gemaak is.

Namibië het gevra dat hierdie ivoor verhandel word met internasionale vennote wat deur Cites goedgekeur is as vennote met sterk binnelandse wette en beheermaatreëls om te verseker dat die ivoor nie heruitgevoer word nie en verantwoordelik bestuur word.

Namibië het aangevoer dat sy olifantbevolking stabiel is, aanhou groei en van ongeveer 7 500 diere in 1995 tot meer as 25 600 in 2023 toegeneem het. Volgens regeringsdata is onwettige stropery nie ’n beduidende bedreiging is nie.

Ondanks die pleidooie, was die stemme gekant teen onderskeidelik die handel in ivoor 78,64% en renosterhorings 65,31% by verre weer in die meerderheid.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer