Namib Naukluft se staproetes wink

Ann-Kathrin Truter

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) het ’n 120 kilometer lange inspeksiestaptog oor agt dae van die Naukluft-staproete voltooi om toestande te evalueer en die veiligheid van toeriste en plaaslike stappers te verseker.

Onder leiding van die adjunkdirekteur van die sentrale streke se nasionale Parke, Marthin Kasaona, het die span die roete van 23 tot 30 Augustus 2026 geïnspekteer en roetemerkers, skuilings, toilette, bankies, waterbeskikbaarheid en die veiligheid van ysterkettings langs steil gedeeltes beoordeel. 

Al sewe skuilings, insluitend Putte, Ubusis, Adlerhorst, Tsams Ost, Die Valle, Tufa en Kapokvlakte, is geïnspekteer. 

Die span het die skuilings skoon en oor die algemeen in ’n goeie toestand gevind, met die meeste dakke wat onlangs herstel of vervang is. Gebreekte bankies word vervang met meer duursame spoorwegdwarslêers, terwyl verdere instandhouding van skuilings beplan word wanneer padtoegang verbeter.

Die inspeksie het ook die belangrikheid beklemtoon van die instandhouding van die kettings wat deur stappers op steil klimme gebruik word. 

Kasaona het beklemtoon dat hierdie veiligheidskenmerke betroubaar moet wees, aangesien stappers daarvan afhanklik is op uitdagende gedeeltes soos die Tufa-ketting.

“Die evaluering bewys die ministerie se verbintenis tot die handhawing van veilige en aangename stapervarings vir beide internasionale besoekers en plaaslike stappers,” lui ’n verklaring van die ministerie. 

Johannes Beck van die Bridge-finansieringsprojek en Johanness Laufs van die Namibië Natuurstigting (NNF) het die inspeksiespan gevorm, met die ministerie se natuurbewaarder in die Namib Naukluft Nasionale Park, Elvis Lilungwe, wat op die vierde dag by Tsams Ost by die span aangesluit het.

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-10-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer