Plaasgrond in die Omaruru-distrik wat afgebrand het. Foto VERSKAF
Plaasgrond in die Omaruru-distrik wat afgebrand het. Foto VERSKAF

N$8 000 vir 10 000 verbrande hektaar

16 plase nog nie geïnspekteer nie
Die boete is vir die nienakoming van permitvoorwaardes en nie vir die reusebrand wat veroorsaak is nie.
Adam Hartman

’n Houtskoolprodusent is ’n boete van N$8 000 opgelê vir die veldbrand wat meer as 10 000 hektaar in die Omaruru-distrik vernietig het. 

Dit volg nadat die direktoraat bosbou in die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme geen brandpaaie of brandbestrydingstoerusting by die brandpunte op die plaas gevind het nie.

Volgens die ministerie se woordvoerder, Vilho Hangula, is die boete opgelê omdat daar nie aan die voorwaardes van die houtskoolpermit voldoen is nie en nie omdat die produsent die brand veroorsaak het nie.

“Dis nie omdat hy die brand veroorsaak het nie. Grondeienaars wat veronreg voel, is vry om die persoon wat die brand veroorsaak het, hof toe te neem of te dagvaar," het Hangula gesê. 

Geen strafsaak is aanhangig gemaak nie. Volgens Hangula is daar geen aangewese brandbestuurgebiede of brandgevaarsones in die Erongostreek nie.

In reaksie op ’n vraag of die bosbouwet se bepalings oor brandoortredings ook op ’n brand op ’n kommersiële plaas van toepassing is, het Hangula erken Artikel 40 maak nie melding van kommersiële plase nie. 

Volgens hom kan grondeienaars egter steeds vergoeding eis van enigiemand wat volgens hulle die brand veroorsaak het.

“Bewyse moet aan die hof voorgelê word en soms is dit baie moeilik," het Hangula gesê.

Tydens ’n noodvergadering van die Erongo-streekraad se komitee vir ramprisikobestuur op 27 Augustus, wou die raadsvoorsitter, Lazarus Kanelombe, weet “waarom is niemand tot dusver in hegtenis geneem of aangekla nie, ten spyte van hektaar na hektaar se vernietigde plaasgrond?”.

Die voorwaardes vir houtskoolpermitte vereis brandbestrydingstoerusting moet te alle tye op die perseel beskikbaar wees en dat alle verbrandingsoonde voortdurend gemonitor word.

Hangula het gesê daar is 58 aktiewe plase in die streek wat houtskool produseer. Sedert Januarie 2026 is 42 daarvan geïnspekteer, insluitend hul houtskoolproduksie- en verbrandingsterreine. Die oorblywende 16 is nog nie geïnspekteer nie. 

Hy het gesê steekproefinspeksies word gereeld uitgevoer, en dat gevalle van nienakoming dikwels aangetref word, wat tot die opskorting van bedrywighede lei.

Wat hulpbronne betref, het hy gesê die direktoraat het geen begroting vir individuele kantore nie en dat slegs een voertuig vir Omaruru beskikbaar is.

“Die werklikheid is dat hulpbronne – hetsy mannekrag, toerusting of finansiering – onvoldoende is om in die behoeftes van hierdie groot gebied te voorsien,” het hy gesê.

Die direktoraat het nie die vergadering op 27 Augustus weens vervoerprobleme bygewoon nie, maar het die volgende dag die hoofstreekbeampte, Mupenzeni Ntelamo, ontmoet. Die direktoraat word as die leidende instansie aangewys vir bykans elke maatreël in die streek se konsepplan vir veldbrandbestryding wat op 27 Augustus ter tafel gelê, maar nie aanvaar is nie.

Hangula het gesê die bosbouwet word hersien om uitdagings te takel wat oor die jare waargeneem is.

Die hoofstreekbeampte wou by navraag geen kommentaar lewer nie. 

“Ons lewer geen kommentaar nie, aangesien ons daarvan oortuig is dat bosbou binne die omvang van sy mandaat optree,” het Ntelamo gesê.

Die brande is op 31 Augustus onder beheer gebring. Die Omaruru Boerevereniging het gesê ten minste ses plase is geraak – hoofsaaklik veeplase en ’n wildplaas. Net op die plaas Kompaneno is 6 000 hektaar deur die veldbrand verwoes.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer