’n Natuurlike ‘diamant’
In Namibië is die verhaal van natuurlike diamante onlosmaaklik verbind aan een van die wêreld se mees buitengewone én kwesbare omgewings, asook aan die seldsame spesies wat hierdie gebied hul tuiste noem.
Namdeb is operasioneel binne die Tsau //Khaeb Nasionale Park – ’n beskermde gebied wat erken word as ’n brandpunt vir biodiversiteit en deel vorm van die sukkulente Karoo-bioom.
Dit beteken dat ’n wye verskeidenheid endemiese en rooilys-spesies (plante en diere) binne Namdeb se mynlisensiegebiede voorkom.
Om in só ’n omgewing te werk, skep nie net regulatoriese verpligtinge nie, maar ook ’n morele en strategiese verantwoordelikheid: Om te verseker dat ekonomiese bedrywighede tot die beskerming, begrip en langtermyn-volhoubaarheid van biodiversiteit bydra.
Een van die byna bedreigde groot karnivore wat binne Namdeb se mynlisensiegebiede voorkom, soos geklassifiseer deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) is die strandwolf, ook bekend as die strandjut.
Die strandwolf word beskou as een van die skaarste hiënaspesies en kom slegs in Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek, Eswatini en Suid-Afrika voor.
Die Namibiese strandwolf is bekend vir sy uitgebreide rondlooppatrone en sy vermoë om by strawwe omgewings aan te pas. Dit maak van hulle ’n veerkragtige roofdier in hierdie meedoënlose kus- en woestynomgewings.
As aasdiere en reguleerders van die ekosisteem, speel hulle ’n kritieke rol: Hulle lê groot afstande af, oorleef op skaars en onvoorspelbare voedselbronne en beïnvloed die breër ekosisteem wesenlik.
Deur aas te vreet – insluitend mariene voedselbronne soos die Kaapse pelsrob – help die strandwolf om die verspreiding van siektes te beperk en die ekologiese balans in woestyn- en kusstelsels te handhaaf.
Dit is noodsaaklik om hul bewegings, genetika, dieet en gedrag te verstaan – nie net vir die beskerming van die spesie nie, maar ook vir die bewaring van die integriteit van die breër ekosisteem. Namdeb is bevoorreg om tot hierdie bewaringspogings by te dra.
ONDERSTEUNING
Sedert 1997 ondersteun Namdeb die Strandwolf-navorsingsprojek (BHRP) in samewerking met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme.
Die doel is om bewaringskwessies rakende die strandwolf en sy hoofprooispesie, die Kaapse pelsrob, te takel.
As deel van die maatskappy se omgewingsverantwoordelikheid, doen Namdeb voortgesette navorsing oor die rondlooppatrone en gedragsaspekte van die strandwolf by Elizabethbaai en Pocket Beach om die moontlike impak van mynbou beter te verstaan.
Sedert 2025 is hierdie werksaamhede uitgebrei na Namdeb se Suidelike Kusmyn (SCM) en Karingarab. Die fokus is om kennis oor bevolkingsdinamika, bewegings- en rondlooppatrone, genetiese diversiteit en dieetvereistes verder uit te brei. Dit geskied in samewerking met die BHRP en die Universiteit van Namibië, wat ondersteuning bied met studie-ontwerp en navorsingsmetodologie.
Deur nuwe inligting te bekom en ’n beter begrip te ontwikkel van die rol wat hierdie spesie in die harde, maar beeldskone Namibiese woestyn-ekosisteem speel, kan benaderings tot grondgebruik en habitatbestuur meer verantwoordelik en ingelig wees.
UNIEKHEID
Groter insig in hierdie spesie het die wêreld gewys hoe uniek Namibië se biodiversiteit is.
Een van die belangrikste lesse uit die strandwolfnavorsing is dat bewaring nie as beperkend gesien moet word nie, maar as verantwoordelike bestuur.
Om te verstaan hoe ’n seldsame karnivoor die landskap benut, maak beter besluitneming moontlik – van waar infrastruktuur geplaas word tot hoe rehabilitasie aangepak en langtermyn-grondgebruik beplan word.
UITDAGINGS
Biodiversiteitsprojekte is nie sonder uitdagings nie, maar dit behoort in ’n maatskappy se kernstrategie geïntegreer te wees.
Waar wetlike nakoming histories die dryfveer vir biodiversiteitsaksie was, erken maatskappye vandag toenemend die wesenlike én strategiese waarde van ekosisteembeskerming vir langtermyn-sakeveerkragtigheid.
Biodiversiteitsbewaring hoef nie in konflik met ekonomiese doelwitte te wees nie; inteendeel, die twee behoort mekaar te versterk.
Deur bestuursplanne te ontwikkel wat biodiversiteit in beide die maatskappy en sy bedryfsomgewing takel, word bewaring deel van operasionele strategie, nie bloot ’n byvoeging nie.
Die sogenaamde versagtingshiërargie – ’n raamwerk vir die bestuur van omgewings- en biodiversiteitsrisiko’s (vermy, minimaliseer, rehabiliteer/herstel en verreken) – stel maatskappye in staat om potensiële impakte verantwoordelik te hanteer sonder om ekonomiese volhoubaarheid in die gedrang te bring.
NAVORSING EN BETROKKENHEID
Ewe belangrik is die deel van navorsingsbevindinge op nasionale platforms en met sleutelinstellings, sodat kennis tot beleide, openbare bewustheid en langtermyn-bewaringsuitkomste kan bydra.
By Namdeb gaan dit oor meer as net ’n finansiële bydrae. Die maatskappy skakel ook met plaaslike skole en gemeenskappe om bewustheid te skep oor die belangrike rol van die strandwolf en die waarde van die navorsing wat ondersteun word.
Die bewaring van die strandwolf wys hoe verantwoordelike mynbou kan bydra tot ’n beter toekoms deur biodiversiteit aktief te beskerm terwyl ekonomiese ontwikkeling steeds ondersteun word.
Hierdie pogings toon dat Namibië meer as net natuurlike diamante bied. Dit bied bewyse dat ontwikkeling, wanneer dit met toewyding, samewerking en kennis benader word, ekosisteme kan versterk – ’n nalatenskap wat sowel die land as sy natuurlike edelstene waardig is.
* Dene Namukomba is ’n omgewingsbeampte by Namdeb.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie