Minder renosters word gestroop
Namibië het verlede jaar sy laagste vlak van renosterstropery in meer as ’n dekade aangeteken, maar die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, het gewaarsku dat misdadigers wat die land se wild en natuurlike hulpbronne teiken, vinniger aanpas as die stelsels wat ontwerp is om hulle te stuit.
Daniel het gister by die derde nasionale forum vir wild- en omgewingsbeskerming in Windhoek Daniel gesê 43 renosters is in 2025 gestroop teenoor die 91 in 2024. Nietemin is 24 renosters reeds vanjaar gestroop, wat toon dat die bedreiging aktief bly.
Daniel het gesê die afname dui aan dat Namibië se strategieë resultate lewer, maar het gewaarsku dat die land nog nie uit die gevaar is nie.
“Misdadigers wat ons wild en natuurlike hulpbronne bedreig, het ook geleer om aan te pas en soms pas hulle vinniger aan as wat ons stelsels doen,” het sy gesê.
Die minister het gesê die forum behoort ’n duidelike boodskap aan stropers, smokkelaars en onwettige handelaars te stuur dat Namibië se instellings, gemeenskappe en vennote verenig is en vasbeslote is om die land se natuurlike hulpbronne vir toekomstige geslagte te beskerm. Wild- en omgewingsmisdaad, het sy gesê, hou ’n diepgaande bedreiging in vir die integriteit van Namibië se natuurlike hulpbronne, die nasionale ekonomie en die bestaansmiddele van gemeenskappe. Na die eerste forum in 2022 het Namibië sy fokus verder as wildmisdaad uitgebrei om ook flora- en bosboumisdade in te sluit, wat die veranderende aard van omgewingsmisdaad en die groei van onwettige markte weerspieël.
Daniel het gesê omgewingsmisdaad bring ’n hoë ekonomiese koste mee en raak toerisme, bewaringsjag, plaaslike gemeenskappe en die breër ekonomie.
Sy het ook die aansienlike finansiële hulpbronne uitgelig wat deur die regering, die privaat sektor en internasionale agentskappe bestee word om omgewingsmisdaad te bekamp.
“Dit is broodnodige hulpbronne wat na ander noodsaaklike nasionale ontwikkelingsprioriteite kon en behoort gekanaliseer te word,” het sy benadruk.
Volgens Daniel moet Namibië ook verder as sy grense kyk om internasionale misdaadsindikate wat by stropery en smokkelary betrokke is, te takel. Sy het gepleit vir sterker oorgrens-samewerking en groter betrokkenheid met internasionale vennote om die wêreldwye vraag te verminder wat die onwettige handel in wild en natuurlike hulpbronne aandryf.
“Om stropery en smokkelarty te takel, moet ons die vraag sny deur te verseker ons sny die lyn na die swartmark af,” het sy gesê.
Daniel het ook korrupsie in die middelpunt van die stryd teen omgewingsmisdaad geplaas en gesê wild- en omgewingsmisdade kan nie suksesvol aangepak word sonder om dié te takel wat kriminele bedrywighede van binne instellings moontlik maak nie.
Sy het gevra vir sterker interne beheermaatreëls en ’n einde aan wat sy die “korrupsiedriehoek” van geleentheid, regverdiging en optrede genoem het. Die kwessie is besonder dringend, het sy gesê, gegewe ’n onlangse oplewing in die onwettige smokkel van plante, wat vinnig tot ’n winsgewende kriminele onderneming ontwikkel het.
Daniel het gesê Namibië het gereageer deur wetgewing te versterk en maksimum strawwe te verhoog om as werklike afskrikmiddels te dien.
Sy het ook gewys op die rol van wetstoepassingsagentskappe, nasionale veiligheidsmagte, die regbank, kommunale bewaringsgebiede en renosterbewaarders.
Gespesialiseerde strukture, insluitend die afdeling vir wildbeskermingsdienste en die eenheid vir omgewingsmisdaad van die kantoor van die eerste minister, is ook ingestel om die reaksie te versterk.
Die minister het verder vordering deur die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge verwelkom met die finalisering van die lank verwagte wetsontwerp oor die bestuur van wild en beskermde gebiede, wat volgens haar, sodra dit in werking gestel word, wildbewaring en -beskerming verder sal ondersteun.
Sy het gesê die stryd om Namibië se natuurlike hulpbronne te beskerm is nie net ’n ekonomiese en ekologiese verantwoordelikheid nie, maar ook ’n grondwetlike en morele verpligting.
Daniel het gesê die nasionale strategie oor wild- en omgewingsbeskerming 2026 tot 2035, wat by die geleentheid bekend gestel is, sal die land se reaksie verder lei.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie