Die opgradering van die Etosha Nasionale Park se heining bly ’n prioriteit. Foto argief
Die opgradering van die Etosha Nasionale Park se heining bly ’n prioriteit. Foto argief

Minder as 150 km van Etosha-heining opgegradeer

Nóg 677 km oor vir rehabilitasie
Altesaam N$42 miljoen word begroot vir die opknapping van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se hoofkantoor in Windhoek en verskeie streekkantore en personeelhuise.
Ellanie Smit
Die opgradering van die Etosha Nasionale Park se grensheining, met ’n omtrek van 824 km, wat strek oor die streke van Oshikoto, Oshana, Omusati, Otjozondjupa en Kunene, is ’n sleutelprioriteit vir die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme hierdie finansiële jaar.

Die omgewingsminister, Indileni Daniel, het verlede week in haar begrotingsmotivering gesê die grensheining is oorspronklik in die 1970’s opgerig, maar dat dele mettertyd agteruitgegaan het.

Sy het gesê die ministerie het sedert 2020 pogings aangewend om die hele grensheining te rehabiliteer, met slegs 147 km voltooi en nog 677 km wat oorbly.

Volgens Daniel gebruik die ministerie sy hulpbronne en personeellede, personeel van die Nasionale Jeugdiens en gemeenskapsverteenwoordigers om hierdie projek te bevorder.

Altesaam N$33,7 miljoen is aan die infrastruktuurontwikkelings- en instandhoudingsprogram toegeken en staan sentraal om die doeltreffende uitvoering van die ministerie se mandaat te verseker.

Die program maak voorsiening vir die ontwikkeling, rehabilitasie en instandhouding van kritieke infrastruktuur, terwyl dit ook verseker dat programme, projekte en verwante bedrywighede betyds uitgevoer word volgens ooreengekome standaarde, gehalte en spesifikasies.



PAAIE IN PARKE

Volgens Daniel sluit beplande projekte onder hierdie program vir die 2025-’26-finansiële jaar die opgradering van 214 km-toeristepaaie in Etosha van gruispaaie na ’n lae seëloppervlak vanaf Okaukuejo na die King Nehale-hek via Namutoni in, insluitend die Halali-ompad. Dié projek is moontlik met ’n finansiële bydrae van die Padadministrasiefonds (RFA).

“Net so maak dit voorsiening vir die opgradering van toeristepaaie by Sesriem in die Namib-Naukluft Park.”

Verder is meer as N$4,8 miljoen toegeken om die konstruksie, instandhouding en opgradering van heinings van bewaringsgebiede en watergeriewe binne beskermde gebiede te ondersteun.

Dit sluit die herstel en elektrifisering van die olifant- en roofdierbestande heining in die suidwestelike hoek van Etosha aangrensend aan Kaross in, asook die verkryging van heiningmateriaal vir Etosha en die Mahango Nasionale Park.

Die program verskaf ook N$42 miljoen vir die opknapping van die ministerie se hoofkantoor in Windhoek en verskeie streekkantore en personeelhuise. Dit sluit die opknapping van personeelhuise en kantore by die Hardap-wildreservaat, Namutoni, Keetmanshoop, Karasburg, Oranjemund, Kanovlei-gemeenskapswoud en Ngoma in.

Daniel het gesê dit sal ook die herstel van die watertoevoer na die Galton-hek insluit deur die installering van nuwe boorgatpompe in Etosha en die boor van ’n nuwe boorgat in Mahango.

Sy het gesê die ministerie het gelyke begrotingsvoorsiening gemaak vir die hersiening en ontwikkeling van die Namibiese Toerisme-inligtingsbestuurstelsel.

’n Verdere N$5,29 miljoen is bewillig vir basiese infrastruktuur vir riool-, water- en kragnetwerke en ablusiegeriewe vir die Etotha-karnaval by die Kangonde-pan in die Oshikotostreek, om higiëniese toestande en die veiligheid van besoekers by die pan te verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer