Min teengif vir slangbyte in voorraad

Patricia van Rooi

Die Slangbewaringsvereniging van Namibië (Scan) het die publiek gemaan om versigtig vir slange te wees, aangesien Namibië se voorraad teengif vir slangbyte steeds laag is. 

Kosie Henn van Scan het gemaan, met die somer wat om die draai is, is dit belangrik vir inwoners om ingelig oor slange te wees en ook watter stappe om te neem wanneer hulle een teëkom. 

“Moenie probeer om slange te vang of dood te maak nie! Hou jou afstand en bel ons. Hou die slang dop sodat ons weet waarheen dit beweeg en wag vir ’n slangvanger om op te daag,” het Henn beklemtoon.

Volgens hom ervaar Namibië ’n tekort aan teengif en werk Scan onverpoos om die proses te bespoedig om meer teengif in die land te kry.

“Ons ervaar tans ’n tekort aan teengif en moedig die publiek aan om Scan te bel en riskante gedrag te vermy wat tot slangbyte kan lei,” het hy gesê.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het vroeg vandeesmaand ’n verklaring uitgereik waarin bevestig word dat bykomende aflewerings in noodsaaklike medisyne in die komende weke verwag word.

“Die ministerie gaan voort om voorraadvlakke noukeurig te monitor, ingrypings met voorsieningskettings te versterk en met rolspelers saam te werk om uitdagings in die voorraad en voorsiening van noodsaaklike medisyne en gesondheidsprodukte landswyd te verbeter,” het die ministerie se uitvoerende direkteur, Penda Ithindi, gesê.


SLANGREDDINGS

Gedurende die 2025-’26-seisoen het Scan 578 slangreddings aangeteken, wat 35 spesies behels het. 

Volgens Scan se amptelike syfers was die hoogs giftige sebra-spoegkobra (sebraslang) boaan die lys as die spesie wat die meeste verwyder word. Die meeste oproepe om met dié slangspesie te help, is in die Khomasstreek aangemeld.

Die giftige sypikslang (stilleto snake) was verantwoordelik vir die meeste mens-slang-interaksies wat tot agt slangbyte gelei het. 

In die sentrale deel van Khomasstreek en wel Brakwater, is 265 gevalle van verwydering van slange aangeteken, wat sebraslange en pofadders ingesluit het. Hoë syfers is ook op Rehoboth aangeteken, waar 141 slange, hoofsaaklik sebraslange en kobras gevang en vrygelaat is. Op Otjiwarongo is 80 verwyderings van slange aangeteken, wat deur boom- en sebraslange oorheers is. 

Op Katima Mulilo waar 53 reddings in die ooreenstemmende tydperk aangeteken is, het die Anchieta se kobra, oorheers. Ander reddings en vrylatings sluit in 18 op Karibib, 17 op Grootfontein, 14 op Tsumeb en drie op Okahandja. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer