‘Maak netheid ’n gewoonte’

Windhoek moet weer skoonste stad in Afrika wees
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het opdrag gegee dat toegang tot sanitasie as deel van die land se risikobestuur as prioriteit hanteer word.
Desmarius Hansen

President Netumbo Nandi-Ndaitwah het gewaarsku die swak bestuur van afval en rommel lok bobbejane en ander diere na menslike nedersettings, wat gevolglik tot ’n kwessie van openbare gesondheid, veiligheid en sanitasie lei. 

Die president het by monde van eerste minister Elijah Ngurare tydens die herbekendstelling van die Cleanup Namibia-veldtog by die Okapale-sokkerveld in die Samora Machel-kiesafdeling veral na gebiede soos Goreangab en Havana verwys. 

Ngurare het namens Nandi-Ndaitwah gemaan swak afvalbestuur kan probleme skep wat verder as “rommel en ’n vuil omgewing” strek. 

“Bobbejane mag dalk onskadelik lyk wanneer hulle van ’n afstand gesien word, maar wanneer hulle gewoond raak aan menslike nedersettings en by huishoudings en in openbare ruimtes begin soek na kos, kan hulle ’n ernstige oorlas en, in sommige omstandighede, ’n gevaar vir die gemeenskap word,” het Ngurare gesê wat die president se toespraak namens haar gelewer het. 

Veral kinders, bejaardes en ander kwesbare lede van gemeenskappe word so blootgestel. Nandi-Ndaitwah het beklemtoon Namibië moet sanitasie as ’n nasionale prioriteit in al 121 kiesafdelings in die land se 14 streke aanpak. 

“Die dringende pleidooi is vir sanitasiegeriewe vir elke Namibiër in al ons plaaslike owerhede, ons skole, klinieke en dorpe,” het sy gesê. 

Volgens die president moet toegang tot “behoorlike en toeganklike toiletgeriewe” stedelike sowel as landelike gebiede insluit. Die president het in die konteks van ramprisikobestuur vir Ngurare opdrag gegee om toegang tot sanitasie en behuising te prioritiseer, aangesien sy dit as onderling verbind beskou. 

Die Cleanup Namibia-veldtog is dus uitgebrei van ’n inisiatief teen die afvalstortring na ’n breër poging wat fokus op sanitasie, openbare gesondheid, waardigheid en dienslewering.

Volgens Nandi-Ndaitwah skep swak afvalbestuur toestande vir die verspreiding van siektes, besoedel die omgewing en waterbronne, lok plae en diere en plaas bykomende druk op munisipaliteite en openbare gesondheidstelsels. Sy het dit hou ook ’n bedreiging vir vee, biodiversiteit, toerisme en die aantreklikheid van Namibië se dorpe en stede in.

Die president het verwys na Windhoek wat eens as Afrika se skoonste stad beskou is, maar dat toenemende onwettige afvalstorting, plastiekbesoedeling en swak afvalbestuur daartoe gelei het dat Windhoek sy topposisie as die vasteland se skoonste stad aan Kigali in Rwanda moes afstaan. 

Die regering het in 2018 die Cleanup Namibia-veldtog in reaksie en met die leiding van die ministeries van die omgewing, bosbou en toerisme, asook inligting en kommunikasietegnologie van stapel gestuur as deel van die program vir nasionale identiteit en trots.  

Nandi-Ndaitwah het gemaan wetgewing en munisipale dienste kan nie alleen Namibië se rommelprobleem oplos nie. 

“Ons het ’n gedragsverandering nodig,” het sy beklemtoon. Sy het Namibiërs aangemoedig om afval te verminder en te herwin en besighede, skole, munisipaliteite en gemeenskappe aangemoedig om verantwoordelikheid te neem vir die afval wat hulle genereer.

Die president het jong Namibiërs uitgedaag om afval nie bloot te sien as iets wat weggegooi word nie en het entrepreneurs aangemoedig om ekonomiese waarde te vind in gebruikte plastiek, glas, papier, metale en organiese afval. 

Sy het na Windhoek se herwinningsentrum verwys as ’n voorbeeld van hoe afval in ’n ekonomiese geleentheid omskep kan word.

Nandi-Ndaitwah het gesê die land moet netheid ’n gewoonte eerder as ’n eenmalige gebeurtenis maak. 

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer