Leeuwyfie saai amok in kraal
’n Boervrou van Kuiperpos 3 in die Sesfontien-kiesafdeling in die Kunenestreek het Woensdagaand 20 bokke en sewe skape verloor nadat ’n leeuwyfie hulle aangeval het.
“Die leeuwyfie het in die kraal gespring en 20 bokke en sewe skape doodgemaak, insluitend sewe boklammers,” het die boervrou, Merinda ||Gowases (52), Vrydag emsioneel aan Republikein gesê.
Haar broer het vir haar die vee gegee om mee te boer aangesien sy werkloos is.
“Die vee is vir my gegee om ’n lewensbestaan te maak, omdat ek werkloos is. My hart is baie seer.”
Sy vra hoe sy haar veewagter hierdie maand moet betaal, want die meeste van haar vee is nou uitgewis.
Volgens die boervrou vind leeu-aanvalle gereeld in hul gebied plaas. Dit was egter die eerste keer dat hul plaas dit ervaar het.
Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Vilho Hangula, het die voorval bevestig.
“Die voorval is waar. Twintig bokke en see skape is deur die leeuwyfie doodgemaak. Die leeuwyfie is later van kant gemaak.”
Die leeuwyfie dra ’n satellietnekband.
Die polisiebevelvoerder van die Kunenestreek, kommissaris Eric Clay, het gister aan Republikein bevestig ’n polisiebeampte wat deel was van die reaksiespan, het geringe beserings opgedoen toe hy deur die leeuwyfie aangeval is. Volgens hom en Hangula is die polisiebeampte behandel en “oukei”.
Sesfontein se kiesafdelingraadslid, Bernadus ||Hoëb, het gesê dat leeu-aanvalle daagliks plaasvind.
Hy het gesê dat die heining by die Etosha Nasionale Park beskadig is en leeu-aanvalle vind gereeld plaas.
“Die omgewingsministerie sê hulle het nie hulpbronne om dit reg te maak nie. Die heining moet reggemaak word," ||Hoëb het gemaan en bygevoeg dat boere net verliese ly.
Die omgewingsministerie betaal sedert September 2024 N$800 vir bokke en skape onder sy mens-dier-konflikskema uit.
||Hoëb het bygevoeg: “Die geld wat deur die regering betaal word, sal billik wees as die boer die uitbetaling bepaal. Dit sou regverdig gewees het.”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie