Knopvelsiekte eis kameelperde

Sterftes in sentrale Namibië
Van die 14 vraelyste ontvang, het 71,4% van die boere in April en Mei meer muskiete, bytende vlieë en muggies as in 2024 waargeneem.
Wildlife Vets Namibia


Tussen middel April tot einde Mei verlede jaar het heelwat kameelperdsterftes in Namibië voorgekom.

Baie boere het dooie kameelperde aangemeld en verskeie het siek kameelperde gesien wat abnormaal opgetree het. 

Die simptome wat waargeneem is:

● Fisiese tekens: Baie boere het siek kameelperde met slap of hangore aangemeld. ’n Paar het oormatige kwyl en oogafskeidings waargeneem en sommige het gemeld dat die kameelperd blykbaar blind was. Verskeie kameelperde het velbeserings gehad wat soos knopvelsiekte gelyk het.

● Lomerigheid: Kameelperde staan bewegingloos in die veld en reageer nie op naderende voertuie of mense nie.

● Ataksie: Die kameelperd lyk “dronk” en struikel oor bosse en heinings. Sommige beskryf ’n wankelende loopgang.

Die sterftes is oor sentrale Namibië aangemeld: Wes en noord van Okahandja, tot by Omaruru en Waterberg. Verdere berigte het gekom van plase suidwes, suid en oos van Okaukuejo in die Etosha Nasionale Park, Outjo en in die rigting van Maroelaboom. Gerugte dui ook op kameelperdsterftes binne die Etosha Nasionale Park.

Daar is ongelukkig te min monsters en voltooide vraelyste ontvang om die presiese oorsaak van die sterftes te bepaal. Die kliniese tekens by baie kameelperde dui egter sterk op knopvelsiekte.

Verskeie ander moontlikhede is uitgeskakel:

● Aangesien die sterftes oor ’n baie wye gebied met dramaties verskillende plantegroeitipes voorgekom het, was plantvergiftiging uiters onwaarskynlik.

● Sommige het hondsdolheid voorgestel, wat uitgeskakel het aangesien verskeie kameelperde negatief getoets het.

● Ander het weerlig genoem, maar weerlig veroorsaak onmiddellike vrekte en heelwat siek kameelperde is buite reënperiodes waargeneem.

Die sterftes was aan knopvelsiekte te wyte met Namibiië wat ’n baie goeie reënseisoen beleef wat ook abnormaal hoë insekgetalle tot gevolg gehad het (veral vlieë en muggies). 

Van die 14 vraelyste ontvang, het 71,4% van die boere in April en Mei meer muskiete, bytende vlieë en muggies as in 2024 waargeneem. 

Terselfdertyd is verskeie knopveluitbrekings by beeste in noordelike Namibië aangeteken. 

Belangrik is dat die kameelperdsterftes opgehou het met die aanvang van die eerste kouefront in die winter, wat saamgeval het met ’n dramatiese afname in insekgetalle.

Dit ondersteun verder die mening dat ’n insekoordraagbare siekte soos knopvelsiekte waarskynlik die oorsaak was.

Daar was al enkele berigte van knopvelsiekte by individuele kameelperde, maar dit is die eerste keer dat ’n grootskaalse uitbreking van die siekte, soos in Namibië in 2025, aangemeld is. Afgesien van een kameelperd in die studie, het verskeie boere siek of dooie kameelperde met tipiese knopvelbeserings aangemeld.

Skape en bokke, asook ander hoefdiere, met die uitsondering van rooibokke en springbokke, blyk weerstandig teen die siekte te wees, hoewel redelik baie hoefdiere op ander vastelande die siekte kan kry.


WAT IS KNOPVELSIEKTE?

Knopvel is ’n siekte wat deur ’n (kapri)pokkevirus veroorsaak word en knopperige velbeserings (abnormale weefselgroei) op die liggaam veroorsaak. Mense kan nie met knopvel besmet word nie.

Hierdie siekte kom algemeen oraloor Afrika voor en versprei tans na Europa, Rusland, die Midde-Ooste en Asië.

Die siekte versprei hoofsaaklik deur onder meer bytende vlieë soos die stalbosluisvlieg (Stomoxys calcitrans), muskiete en Culicoides-muggies. Eksperimente dui aan dat sekere bosluissoorte ook die siekte kan oordra. Besmetting via kontak (speeksel, direkte kontak, besmette voer, kalfies wat melk drink) is ’n ander moontlike roete, maar word nog nie ten volle verstaan nie.

Uitbrekings bereik dikwels ’n hoogtepunt tydens warm, nat weer wanneer hierdie insekte meer algemeen is. Wanneer nuwe uitbrekings verder weg voorkom, word dit gewoonlik gekoppel aan die beweging van besmette diere eerder as insekte. Die knopvelvirus kan tot ’n maand lank in droë rowe en vyf maande lank in semen oorleef.


SIMPTOME

’n Dier wat met knopvel besmet is, ontwikkel eers koors, is lusteloos en sonder eetlus. Daar is oormatige afskeiding uit die oë, neus en bek, met opgeswelde limfkliere.

Dit word gevolg deur die vorming van groot, vaste velknoppies van 0,5 cm tot vyf cm in deursnee. Hulle kan oral op die liggaam gevind word, maar veral rondom die kop, nek, uier, skrotum en perineum (die gebied tussen die anus en geslagsorgane). Daar kan net ’n paar knoppies wees, maar dit kan ook honderde wees.

Wanneer die knoppies oopbreek, sal vloeistof uitlek.

Sekondêre infeksie kan ’n probleem word, die knoppies kan begin etter vorm en nekroties raak (selle sterf af). 

By ernstig aangetaste diere kan hierdie beserings na die asem- en spysverteringskanale versprei. Veral melkbeeste in piekproduksie kan ernstig aangetas word en ’n merkbare afname in melkproduksie toon.

Knopvelsiekte is nie altyd sigbaar nie – tot 50% van gevalle in ’n uitbreking is subkliniese gevalle, wat beteken dat die diere geen tekens toon nie. 

Die sterftesyfer bly gewoonlik onder 10%, maar weens verminderde melkopbrengs, verlies aan kondisie en die verminderde waarde van die huid kan die ekonomiese verliese aansienlik wees.


DIAGNOSE

Knopvel is ’n aanmeldbare siekte, dus as enige tekens waargeneem word, moet die plaaslike staatsveearts in kennis gestel word. Die veearts kan ’n diagnose maak deur ’n velmonster te neem.

Vals knopvelsiekte, wat deur ’n herpesvirus veroorsaak word, kan soortgelyke simptome as knopvelsiekte toon en Dermatophilus congolensis veroorsaak ook velknoppies. Dit is dus belangrik dat die veearts monsters kontroleer en na die laboratorium stuur. 


BEHANDELING, VOORKOMING

Daar is geen behandeling vir knopvelsiekte nie. Nie-spesifieke behandeling met antibiotika, anti-inflammatoriese middels en vitamiene mag nodig wees om sekondêre bakteriese infeksies te behandel en die koors te verlaag.

Die belangrikste is om knopvelsiekte te voorkom. Goeie somerreëns met hoë insekladings moet dien as ’n dringende waarskuwingsteken van ’n moontlike uitbreking.

Voorkoming by beeste word maklik gedoen deur beeste met die verswakte Neethling-stam entstof in te ent. Hierdie entstof bevat ’n verswakte weergawe van knopvelsiekte. Ná inspuiting sal die liggaam

teenliggaampies produseer en die dier immuun teen knopvelsiekte maak. Alle beeste van ses maande en ouer moet jaarliks ingeënt word, verkieslik voor die reënseisoen. 

Oorweeg dit om ernstig aangetaste diere binne ’n kudde te slag om die verspreiding van die siekte in die kudde te beperk. Die virus kan vir weke in die vel van geslagte diere oorleef.

’n Ander belangrike aspek om siektes wat deur vlieë oorgedra word te voorkom, is om vlieë te beheer. Plaas vlieglokvalle rondom die kraal en dip of spuit beeste met ’n insekdoder.


WILD

Daar is baie min data beskikbaar oor die rol van wild in die verspreiding van knopvelsiekte. Oor die algemeen is die kapripokkevirusse baie gasheerspesifiek, wat beteken dat dit slegs in een spesie van gasheer leef. 

Kliniese tekens van knopvelsiekte by rooibokke en kameelperde is gesien nadat hulle met die knopvelsiekte-virus ingespuit is. In verskeie ander

studies het navorsers vir teenliggaampies teen die kapripokkevirus getoets en gevind dat blou- en swartwildebeeste, springbokke, elande, rooibokke, koedoes, waterbokke, rietbokke, kameelperde Afrikabuffels ’n vorm van teenliggaampies in hul bloedmonsters gehad het. Huidige navorsing dui daarop dat Afrikabuffels waarskynlik nie, of slegs effens, vatbaar is. Dit kan beteken dat die diere besmet was, maar nie noodwendig die virus oorgedra het nie.

Die werklike aantal herkouers wat met knopvelsiekte besmet is of was, is moontlik hoër as wat ons dink, aangesien velbeserings by wild dikwels moeilik waarneembaar is en hulle waarskynlik meer geneig is om deur roofdiere gevang te word – wat lei tot ’n gebrek aan berigte van knopvelsiekte by wild.

Dit is bekend dat kameelperde knopvelsiekte kan kry. In 1970 is ’n kameelperdkalf in Suid-Afrika eksperimenteel met die knopvelsiekte-virus ingespuit en het met tipiese simptome en beserings van die siekte gesterf. Die knopvelsiekte-virus is ook geïsoleer uit ’n kameelperd wat in ’n Viëtnamese dieretuin gesterf het. Hoewel kameelperde vatbaar is, is sterfte nie altyd noodwendig nie. Dit hang af van die erns van die infeksie, die hoeveelheid insekte wat die siekte kan oordra en die algehele gesondheid van die dier.

Boere word aangemoedig om Wildlife Vets Namibia te kontak as enige vrektes ervaar word en of siek kameelperde op plase gesien word. 

Soos verlede jaar het Namibië ’n goeie reënseisoen gehad, maar gelukkig het is nie dieselfde hoë insekgetalle gesien nie en berigte van knopvelsiekte by beeste was baie laag. 

Met die kouefront wat reeds intree, is daar hoop dat dieselfde sterftes nie as verlede jaar beleef sal word nie. – Wildlife Vets Namibia


Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer