Kaza ontvang 5 miljoen euro van EU

Brigitte Weidlich
Die Europese Unie (EU) het 5 miljoen euro (sowat N$103,6 miljoen) aan die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) toegeken as deel van die Kaza EU-Nature Africa-program.

Die doel is om natuurbewaring en volhoubare ontwikkeling te ondersteun. Volgens ’n onlangse aankondiging deur die Namibiese ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT), sal die fondse gebruik word om natuurbewaringspogings te versterk, groen ekonomie-inisiatiewe te bevorder en administrasie in die streek te verbeter.

Die EU het die aankondiging tydens ’n vergadering van die ministers verantwoordelik vir die omgewing en toerisme van die Kaza-oewerstate in Livingstone, Zambië, gemaak. Die gebied is geleë in die opvangsgebied van die (O)Kavango- en Zambezirivier. Dit dek gebiede in die vyf lidlande van Namibië, Angola, Botswana, Zambië en Zimbabwe. Dit beslaan ongeveer 520 000 vierkante kilometer en is die grootste beskermde oorgrensbewaringsgebied in die wêreld.

“Die toekenning is ook daarop gemik om langtermyn- sosioëkonomiese voordele en ekologiese veerkragtigheid te bevorder deur die gebruik van die streek se natuurlike kapitaal en kulturele erfenis,” het Namibië se omgewingsministerie aangekondig.

Die toelaag is die resultaat van een van verskeie strategiese vennootskappe wat Kaza handhaaf. Benewens die EU, is ander samewerkingsooreenkomste onlangs met die Britse hoëkommissariaat in Botswana, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), die Zambezi-rivierkomkommissie (Zamcom), die Wêreldnatuurfonds (WWF) en die Wild Bird Trust onderteken. Duitsland gee ook al etlike jare finansiële steun aan Kaza.

MEFT het ook aangekondig dat Kaza samewerking met die Wêreldbewaringsorganisasie (IUCN) soek. Daarbenewens word Kaza – gebaseer in Botswana – nou as ’n internasionale organisasie erken en die regering van Botswana het diplomatieke immuniteit en voorregte aan hulle verleen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer