Himba-leiers neem vandag Baynes-besware na minister

Adam Hartman

Leiers van die OvaHimba en OvaTjimba sal na verwagting vanoggend ’n klagskrif teen die voorgestelde Baynes-hidrokragprojek aan die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, in Windhoek oorhandig.

Die oorhandiging van die klagskrif sal na verwagting by die voormalige gebou van die ministerie van handel en nywerheidheidsontwikkeling plaasvind. Die afvaardiging word deur Mutaambanda Kapika van die Ombuku-Kapika Tradisionele Owerheid gelei.

Die klagskrif het meer as 2 000 handtekeninge van OvaHimba- en OvaTjimba-mense in Namibië en Angola en meer as 500 mense het die klagskrif aanlyn ter ondersteuning onderteken.

Die projek is ’n gesamentlike Namibiese en Angolese plan om ’n hidrokragdam van 860MW by die Kunenerivier te bou, sowat 45 km stroomaf van die Epupa-waterval. Gemeenskapsverteenwoordigers uit die Epupa-kiesafdeling het in April 2024 ’n klag by die kantoor van die ombudsman ingedien en gesê hulle is nooit geraadpleeg nie. Die ombudsman het die gebied in April vanjaar besoek en sy verslag op 27 Mei onderteken.

Die gemeenskappe het nou hul antwoord op daardie verslag uiteengesit in ’n skriftelike reaksie, gedateer 7 Augustus, wat deur die afvaardiging aan Republikein beskikbaar gestel is.

Hul hoofklag is dat die liggaam wat ingestel is om hervestiging te hanteer, nie die mense verteenwoordig wat deur die dam geraak sal word nie. Die bestuurskomitee van belanghebbendes oor hervestiging het 18 lede wat uit 11 instellings kom. Die gemeenskappe sê slegs vyf het regsbevoegdheid oor die projekterrein.

Hulle plaas die Otjikaoko Tradisionele Owerheid op ongeveer 225 km vanaf die terrein en die Kakurukouje Tradisionele Owerheid op ongeveer 335 km. Albei tradisionele owerhede dien op die komitee. Die Vita-koningshuis, ongeveer 120 km vanaf die terrein, is ook verteenwoordig.

Die skuld vir die komitee se samestelling word voor die deur gelê van die permanente gesamentlike tegniese kommissie (PJTK), die Angola-Namibië-liggaam wat die projek bestuur het totdat die Laer Cunene-hidrokragowerheid in November 2024 oorgeneem het.

“Die PJTK het ’n bevooroordeelde maatstaf gebruik by die aanstelling van lede van hierdie komitee, omdat dit nie logies is om iemand te raadpleeg wat meer as 300 km van ’n projekterrein woon en die een uit te sluit wat binne 100 km woon nie,” lui die verklaring.

Dit lys 33 nedersettings binne ongeveer 100 km vanaf die terrein waarvan die inwoners, volgens hulle, nie geraadpleeg is nie.

Die verklaring betwis ook hoe die Ombuku-Kapika Tradisionele Owerheid op rekord geplaas is dat hulle die projek ondersteun. Hulle sê ’n brief wat as die owerheid se standpunt voorgehou is, is onderteken deur ’n persoon uit die Vita-koningshuis wat geen posisie in die owerheid beklee nie en geen volmag gehad het om namens hulle op te tree nie.

“Hierdie brief is nie deur hoofman Mutaambanda Kapika of ’n gemagtigde verteenwoordiger van die tradisionele owerheid onderteken nie”.

Die gemeenskappe vra die ombudsman om die brief te ondersoek, om sy bevinding te heroorweeg dat mense by Omuhonga en omliggende gebiede nie direk geraak word nie en om ’n onafhanklike proses te vereis om alle geraakte gemeenskappe en tradisionele owerhede wat erken en nie erken word nie, te identifiseer.

Hulle sê hulle is nie teen ontwikkeling gekant nie.

“Ons bekommernis is dat ontwikkeling nie ten koste van ons voorvaderlike grond, grafte, kulturele erfenis, pastorale bestaanswyses en heilige plekke mag kom nie,” lui die verklaring.

Republikein het in Augustus berig die ombudsman het bevind dat die konsultasies nie aan die wet op omgewingsbestuur voldoen het nie. Die Baynes-projek se eenheid vir implementering het daardie bevinding verwerp, met projekdirekteur Muyenga Muyenga wat dit “misplaas en feitelik verkeerd” genoem het. Die eenheid hou vol die geraakte gemeenskappe is geraadpleeg en ondersteun die projek.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer