Hemelwater

Francoise Steynberg

Die hemel het sy sluise vandeesweek oopgetrek en hoë reënvalsyfers is wyd en syd aangeteken.

Piet (Pens) Oelofse beskryf dit op die Facebookgroep Namibië Reënval as “’n elmbooglengte lys van hemelwaterverslae” wat tussen Dinsdag en gister aangemeld is.

Die Suide was inderdaad geseën met selfs Helmeringhausen waar 50 mm op die plaas Sorento geval het, maar net 7 mm op die buurplaas Kunjas. 

In Aranos se omgewing is tussen 55 mm en 90 mm op die plaas Mooigeleë gemeet, 61 mm op die plaas Uitkoms en 36 mm op die plaas Tranedal suid van Gochas. 

 By Koës het die reënwolke 65 mm by Vaalpan 50 km suidoos van die dorp uitgegooi, 21 km noordoos het die plaas Katzies 25 mm gekry en Gochuras, 40 km noord van Koës 16 mm. 

Otjosondu by Hochfeld spog met 60 mm, die plaas Omateva, 15 km oos van Omitara met 19 mm en die plaas Onverwacht, 20 km suidoos van Dordabis, 9 mm. Op die plaas Kleeberg, 48 km vanaf die Hosea Kutako Internasionale Lughawe op die Ninapad, het 34 mm uitgesak, 30 mm is 25 km noordnoordoos van Seeis gemeet en 13 mm by Sonnleiten naby die lughawe.

Op die plaas Dixi, 30 km wes van Leonardville, is 18 mm uit die reënmeter gegooi, 12 mm by Arnhem, 20 km wes van Leonardville, en suidwaarts op die plaas Reitz 8 mm. Dassiesfontein, 35 km wes van Mariental het 5 mm gehad. Suid van Rehoboth het paaie Dinsdagaand verspoel wat tydelik gesluit was. 

In die Noorde is die plaas Emilienhof, 20 km suid van Tsumeb, baie gelukkig hiedie reënsiesoen met nóg 41 mm. Grootfontein het 21 mm gehad, Otjiwarongo 11 mm en Plaas 390, 19 km suidoos van Klein Waterberg, 7 mm waar die reën dié seisoen maar nog skraps was. Net buite Okahandja op die Karibibpad het 32 mm geval. 

Die plaas Ombujomenge, 10 km wes van Wilhelmstal, spog met 40 mm, asook dele oos van Omaruru. Die plaas Omburo, 35 km oos van die dorp het 29 mm gehad en die plaas Ombona tussen Kalkfeld en Omaruru 30 mm en 20 mm op die plaas Etaneno, ook naby Kalkfeld.

In en om die hoofstad het harde buie geval met 26 mm in Eros en Khomasdal, 24 mm in Ludwigsdorf, tussen 4 mm en 12 mm in Suiderhof en 11 mm by Finkenstein. 

Volgens Erongo was die bo-Kuisebrivier gister in vloed met motoriste wat gemaan word om versigtig op die Bosua- en Usspas te bestuur. 

Die weerkantoor het ’n weerwaak vir vandag uitgereik met matige donderstorms word oor die noordwestelike, sentrale en suidoostelike gebiede verwag word. Vir die binneland word verspreide donderbuie en reën oor die Kunene, Erongo en sentrale en die suidoostelike streke voorspel. Elders kan enkele tot geïsoleerde donderbuie en reën voorkom.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer