Die uitvoerende direkteur, Teofilus Nghitila, su00EA beperkte hulpbronne beteken die ministerie kan nie elke landelike gemeenskap betyds van water voorsien nie. FOTO ADAM HARTMAN
Die uitvoerende direkteur, Teofilus Nghitila, su00EA beperkte hulpbronne beteken die ministerie kan nie elke landelike gemeenskap betyds van water voorsien nie. FOTO ADAM HARTMAN

Helfte van Namibië se water gaan verlore

Pompe gesteel, boorgate droog
Verouderde infrastruktuur en verdamping plaas 'n reusedemper op watervoorsieing.
Adam Hartman

Dit is onaanvaarbaar dat Namibië reeds ’n land met waterskaarste is en meer as 50% van ons water tydens die voorsieningsproses verlore gaan.

Dit is die waarskuwing van die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, by die derde Namibië streekwatersimposium wat vandeesweek op Swakopmund plaasvind.

Zaamwani het die verliese aan verouderde infrastruktuur en verdamping uit kanale toegeskryf.

Alex Simalabwi, uitvoerende hoof van die Global Water Partnership-organisasie, het in Julie gesê NamWater se verliese beloop tussen 10% en 15%, terwyl sommige munisipaliteite tot 60% van hul behandelde water deur hul verspreidingsnetwerke verloor.

Zaamwani het ’n beroep op plaaslike owerhede en nywerhede in die Erongostreek gedoen om verliese te verminder, meetstelsels te verbeter en grondwaterbronne te beskerm. 

Die ministerie se uitvoerende direkteur vir water en mariene hulpbronne, Teofilus Nghitila, het intussen erken beperkte hulpbronne verhoed die regering om vinnig te reageer op elke landelike gemeenskap wat met watertekorte sukkel.

Volgens Nghitila was die tydperk van Augustus tot Desember veral uitdagend, met gereelde aanmeldings oor boorgate wat opgedroog het, pypleidings wat beskadig is en inwoners wat lang afstande moet aflê om water te kry.

Hy het gesê die ministerie het intussen watertenke verkry om water per vragmotor na afgeleë gemeenskappe te vervoer en dat sy span dag en nag werk.

“Dit is slegs weens die beperkte hulpbronne dat ons nie almal betyds kan bereik nie, maar daar word wel pogings aangewend,” het hy verserker.

Zaamwani het gesê die nasionale sensus van 2023 toon dat 91,4% van huishoudings toegang tot veilige drinkwater het, wat beteken dat 8,6% steeds sonder toegang is.

“Solank daar selfs een Namibiër is wat nie toegang tot water het nie, beteken die syfer van 91% niks nie,” het sy gesê. 


DIEFSTAL VAN TOERUSTING

Diefstal van toerusting en onvoldoende instandhouding het egter steeds landelike watervoorsiening ondermyn.

Gedurende die vorige boekjaar het die ministerie 94 boorgate gesink, 51 boorgate en 137 watervoorsieningspunte gerehabiliteer en 55 kort pypleidings gebou.

Om te verseker dat hulle aanhou werk, is nog ’n probleem.

“Drie maande later hoor jy die sonpaneel is gesteel is, die waterpomp is gesteel en weer eens doen die gemeenskap ’n beroep op die regering om vir hulle water te gee,” het Zaamwani gesê.


SANITASIE

Sanitasie bly steeds nóg ’n bron van kommer met toegang tot basiese sanitasie wat onder 40% is en openbare ontlasting wat op 39,% staan.

“Ons kan nie beweer dat ons SDG 6 alleen op grond van dekking vir drinkwater bereik het nie,” het Zaamwani gesê.

Die ministerie implementeer die Namibië Watersektor-ondersteuningsprogram van N3,3 miljard, wat gefinansier word deur lenings van ongeveer N1,9 miljard van die Afrika-ontwikkelingsbank, ’n toelaag van N50,4 miljoen en die regering se bydrae van N1,3 miljard. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer