Headspring wil omgewingsertifikate vir eksplorasie hernu

Skriftelike besware by omgewingskommissaris
Aangesien die landbouministerie die Russiese maatskappy se boorpermitte in 2021 teruggetrek het, wat parallel met die omgewingsertifikate (ECC's) vereis word, sal die maatskappy voorlopig nie sy eksplorasiebedrywighede in die Stampriet-akwifer kan voortsit nie, selfs al word die ECC's suksesvol hernu.
katharina moser
Namibiese boere het skriftelike besware teen die hernuwing van omgewingsklaringsertifikate vir eksplorasiebedrywighede in die Stampriet- artesiese kom (SAB) deur Headspring Investments ingedien.

Die maatskappy wil hê die omgewingsklaringsertifikate (ECC’s) vir agt eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL’s) moet hernu word. Sulke sertifikate is vir drie jaar geldig en moet gereeld heraansoek gedoen word.

Aangesien die destydse ministerie van landbou, water en grondhervorming Headspring se boorpermitte in 2021 teruggetrek het, wat parallel met die omgewingsertifikate vereis word, sal die maatskappy voorlopig nie sy eksplorasiebedrywighede in die Stampriet-akwifer kan voortsit nie, selfs al word die ECC’s suksesvol hernu.

“Die kalf is in die put,” het ’n boer op ’n WhatsApp-groep gesê en ’n beroep op boere gedoen om skriftelike besware by die omgewingskommissaris, Timo Mufeti, van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme in te dien.

“Die wet is baie duidelik dat die Stampriet-akwifer beskerm moet word. Om Headspring se bedrywighede voort te sit, is ’n skending daarvan en sal die water besoedel,” het Divan Opperman van die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma), wat daartoe verbind is om die Stampriet-akwifer te beskerm, gesê.

Mufeti het die ontvangs van die hernuwingsaansoek vir die omgewingsertifikate wat in Augustus 2025 verval, bevestig. Volgens hom is dit in Maart vanjaar ingedien en word tans nog hersien.

“In hierdie stadium van die hersieningsproses sou dit voortydig wees om te voorspel of die aansoek hernu sal word of nie.

“Die finale besluit sal aan die einde van die hersieningsproses geneem word en sal gebaseer wees op die data en inligting wat tydens die hersiening ingedien en geverifieer is,” het hy aan Network Media Hub (NMH) gesê.



‘BESWARE OORWEEG’

Mufeti het ook bevestig dat hy ’n aantal skriftelike besware rakende hierdie aansoek ontvang het. “Hierdie bekommernisse en besware sal deeglik hersien en oorweeg word as deel van die proses, in ooreenstemming met die bepalings van die wet op omgewingsbestuur (EMA),” het hy gesê.

“Headspring Investments het nog altyd volgens die wette, reëls en regulasies van Namibië gewerk en sal sy bedrywighede streng dienooreenkomstig voortsit,” het Kirill Egorov-Kirillov, direkteur van Headspring, aan NMH gesê.

“Ons is vol vertroue dat indien ons toegelaat word om ons eksplorasiewerk (wat navorsingswerk is) te voltooi in ooreenstemming met die aanbevelings van die parlement se staande komitee oor natuurlike hulpbronne, alle relevante belanghebbendes ’n beter begrip sal hê van die huidige toestand van die water, die teenwoordigheid van uraan en selfs of dit op ’n veilige manier onttrek kan word.”

Die maatskappy Headspring Investments is in Namibië geregistreer en word ten volle deur Uranium One besit, wat weer ten volle deur Rosatom, Rusland se staatsbeheerde kernenergiemaatskappy en een van die grootste uraanprodusente ter wêreld, besit word.

Enigiemand wat in Namibië vir minerale wil boor, moet eers by die ministerie van myne en energie aansoek doen vir EPL’s, wat elk vir drie jaar geldig is. Daarna moet die maatskappy aansoek doen vir ECC’s van die omgewingsministerie.

Indien boorwerk plaasvind in ’n gebied wat ’n waterbeskermde gebied is, moet die landbouministerie ook betrokke wees om boorpermitte uit te reik.

Headspring Investments het agt EPL’s verkry wat in die streke van Omaheke en Hardap geleë is. Volgens die landbouministerie het Headspring in 2012 met eksplorasie begin. Tot op hede het die maatskappy sowat 600 eksplorasieboorgate en 36 hidrogeologiese boorgate op 39 plase geboor, sê die landbouministerie.

Sauma, wat ’n veldtog voer vir die beskerming van die Stampriet-akwifer, sê egter dat Headsprings Investments meer gate geboor het as wat toegelaat word.

Volgens Headspring is die bedrywighede tot dusver, in ooreenstemming met die wet, uitsluitlik eksplorasie, wat die eerste van drie fases is en hoofsaaklik vir die eksplorasie van hulpbronne.

Omdat Headspring Investments nie aan die voorwaardes van die boorpermit soos deur die landbouministerie voldoen het nie, is die permitte per brief gedateer 9 November 2021 teruggetrek.



BOORPERMITTE HERROEP

Permit 11561 vir die boor van 19 boorgate vir eksplorasiedoeleindes en permit 11562 vir die boor van 18 boorgate vir hidrogeologiese doeleindes is herroep, volgens ’n brief van die landbouministerie, onder meer omdat die boorgate wat vir hidrogeologiese ondersoeke bedoel was, soortgelyk volgens die in situ-logingstegniek geboor is en die boorgate in die Kalahari-akwifer te diep geboor is.

Boorwerk word dus nie meer in die betrokke 37 boorgate toegelaat nie weens die gebrek aan boorpermitte. Volgens inligting wat die landbouministerie in Februarie 2024 aan die Nasionale Vergadering verskaf het, het Headsprings geen verdere boorwerk onderneem sedert die herroeping van die boorpermitte nie.

Die nuwe ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming word nou deur minister Inge Zamwaani gelei, wat Mac Hengari opgevolg het nadat hy slegs ’n paar weke in die amp was. Hy is steeds agter tralies ná sy inhegtenisneming. Kritici het daarop gewys dat die bedryfsdirekteur van Headspring sy broer, Aldo Hengari, is.

Laasgenoemde het dit aan NMH bevestig, maar ook verduidelik dat hy as tegniese direkteur slegs in kontak met die landbouministerie is tot op die vlak van die uitvoerende direkteur.

Die nuwe wet op waterhulpbronbestuur, wat in Augustus 2023 onder die destydse landbouminister, Calle Schlettwein, in werking getree het, verbied die besoedeling van grondwaterbronne.

Bewaringsbewustes, boere en wetenskaplikes waarsku al jare lank oor die gevolge van uraanontginning deur die in situ-logingsproses op waterbronne in Suider-Afrika.

Sauma sê die grootste deel van landelike Namibië is afhanklik van ondergrondse water vir drinkwater en landboubedrywighede. Selfs dorpe soos Tsumeb, Kombat, Outjo, Otjiwarongo en dié in die SAB soos Leonardville, Aranos, Aminuis, Stampriet, Gochas en Koës bestaan net as gevolg van die ondergrondse water, volgens Sauma.

“Groot hoeveelhede ondergrondse water in die kom word vir besproeiing gebruik om die nasie te help voed.”

Bowendien strek die SAB tot in Botswana en Suid-Afrika waar dieselfde akwifers drinkwater verskaf. Volgens Sauma het albei buurlande groot kommer uitgespreek as sulke mynbou in Namibië sou voortgaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer