Geheimsinnig. Gejag
Tussen 2016 en 2024 was ‘n beraamde 530 978 van die diere betrokke by 2 222 beslagleggings weens onwettige handel. Ietermagôs is die mees gejagte en gesmokkelde dier ter wêreld as gevolg van die toenemende vraag na hul skubbe, liggaamsdele en vleis, meestal vir gebruik in tradisionele medisyne. Maar omdat die skaam, grawende soogdiere alleenlopers en nagdiere is, is hulle moeilik om te vind – en dus om te bestudeer en te beskerm.
Daar is toenemende druk op die spesie, hoofsaaklik as gevolg van hul skubbe wat in tradisionele Chinese medisyne gebruik word, sê Kelsey Prediger, stigter van die Ietermagô Bewaring en Navorsingstigting.
“Vir byna 80 miljoen jaar het hul skubbe hulle teen roofdiere beskerm – nou is dit 'n rede waarom hulle doodgemaak word.”
Sowat 30% van die ietermagôs wat gestroop is is, het nog gelewe toe die smokkelaars gevang is, sê Kelsey. Hierdie ietermagôs is dikwels swak aangesien hulle dae of weke lank sonder enige kos of water in gevangenskap aangehou is. Ietermagôs eet slegs lewende miere en termiete in hul natuurlike habitat, wat dit moeilik maak om hulle te versorg, selfs nadat hulle gekonfiskeer is.
“Na 'n vinnige gesondheidsondersoek en behandeling deur 'n veearts wat deur die Namibiese Ietermagô Werkgroep (NPWG) goedgekeur is, word die diere vrygelaat. Wat ons nog nie weet nie, is hoe lank hierdie diere na hul vrylating oorleef.”
Volgens Kelsey is die ideaal dat alle lewende gekonfiskeerde individue gemonitor word totdat die diere 'n tuisgebied in hul vrylatingsplek gevestig het en vir meer as ses maande hier gebly het.
“'n Hoër standaard vir sukses, wat selfs langer moniteringstye sou vereis, sou wees om te wys dat die vrygestelde ietermagô in sy nuwe tuiste voortgeplant het. Om hierdie doel te bereik, is meer befondsing nodig om etikette gedurende die moniteringstydperk te pas en te vervang.”
Kesley se stigting werk met die ondersteuning van die Wêreld Wildlewefonds (WWF) om San-spoorsnyers te gebruik om ietermagôs te vind en te merk. Dit stel navorsers in staat om die diere se bewegings te monitor en hulle beter te verstaan.
Deur tradisionele vaardighede en kennis met moderne hulpmiddels te kombineer, versamel spoorsnyers ook data oor diëte, gedrag en habitatte – inligting wat noodsaaklik is om ietermagôs teen uitsterwing te beskerm.
Met geboorte is die diere sowat 15 cm lank en weeg dit 340 gram. Die skubbe is sag en bleek en begin teen die tweede dag verhard. Die kleintjies word veilig gehou in nesgate, met die ma wat beskermend om haar baba sal rol wanneer sy slaap of bedreig word. Baba-ietermagôs drink vir drie tot vier maande aan hul ma’s, maar eet al termiere en miere wanneer hulle ‘n maand oud is. Terwyl ma insekte soek, ‘ry’ hulle saam op haar stert.
Manlike en vroulike ietermagôs verskil en in die meeste spesies is die mannertjies 15 tot 20% swaarder. Ietermagôs bereik seksuele volwassenheid op twee jaar, en die meeste skenk geboorte aan 'n enkele nageslag.
Ietermagôs is bedek met harde, oorvleuelende skubbe. Hierdie soogdiere eet miere en termiete met 'n buitengewoon lang, klewerige tong, en kan hulself vinnig in 'n stywe bal oprol wanneer hulle bedreig voel. Agt verskillende spesies kom oraloor Asië en Afrika voor. Ietermagôs leef hoofsaaklik op 'n dieet van miere en termiete, wat hulle kan aanvul met verskeie ander ongewerweldes. Dit sluit in bylarwes, vlieë, wurms, erdwurms en krieke. Hierdie gespesialiseerde dieet maak hulle uiters moeilik om in gevangenskap te onderhou omdat hulle dikwels onbekende spesies verwerp of siek word wanneer hulle vreemde kos gevoer word.
Wilde ietermagôs vind neste van insekte met behulp van 'n goed-ontwikkelde reuksintuig. Hulle grawe miere en termiete gulsig uit onder meer stompe en gebruik hul uiters lang klewerige tonge om dit te vang en te eet.
Ietermagôs se onversadigbare aptyt vir insekte gee hulle 'n belangrike rol in hul ekosisteem en wel plaagbeheer. Dit word beraam dat ‘n volwasse ietermagô jaarliks meer as 70 miljoen insekte kan vreet. Die diere het spesiale spiere wat hul neusgate en ore toemaak en hulle teen aanvallende insekte beskerm. Hulle het ook spesiale spiere in hul monde wat verhoed dat miere en termiete ontsnap nadat dit gevang is.
Ietermagôs is alleenlopend, die meeste verkies om in die nag te dwaal en is uiters geheimsinnig. Dit maak dit vir wetenskaplikes moeilik om die diere in hul natuurlike habitat te bestudeer en is daar gevolglik nog baie van ietermagôs se gedrag en gewoontes wat steeds geheim is.
Sommige spesies soos die Chinese ietermagô slaap bedags in ondergrondse gate, terwyl ander, insluitend die swartpens- en Sunda-ietermagôs, bekend is daarvoor dat hulle in bome slaap. Die misterieuse diere maak saans hul verskyning om insekte te soek en is goed aangepas om vir dit te grawe. Die diere grawe gate met hul sterk voorpote en kloue, en gebruik hul sterte en agterpote vir ondersteuning en balans.
Chinese ietermagôs in gematigde gebiede bring die wintermaande in diep gate deur. Die winterskuilings word strategies gegrawe naby termietneste wat 'n blywende voedselbron bied. In Chinese vertellings word gesê ietermagôs reis ondergronds oor die hele wêreld en vertaal uit Kantonees beteken dit "die dier wat deur die berg grawe".
Op Wêreld-Ietermagôdag word ons herinner aan die dringende behoefte om een van die planeet se mees verhandelde soogdiere te beskerm. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie