Geen gekrokte krokke

Phillipus Josef

Geen krokodil (of mens) is beseer toe ’n grasdak Maandag by ’n krokodildam van die krokodilplaas op Otjiwarongo vlamgevat het nie.

Brandbestryders moes noodgedwonge om die  krokodille werk om die vlamme te blus en te keer dat dit verder versprei en die diere deur die rook oorweldig word. 

Die brand het na bewering in nabye plantegroei ontstaan, voordat sterk winde ’n brandende voëlnes bo-op die grasdak gewaai het wat dit aan die brand laat slaan het. 

Die hoofbrandweerbeampte van Otjiwarongo se munisipaliteit, Daniel Pavaza, het die brandbestryding as “baie riskant” beskryf, omdat brandbestryders noodgedwonge om die krokodille moes werk om te keer dat die vlamme verder versprei. 

Pavaza het gesê die wind het die brandende voëlnes in die krokodildam ingewaai en van die 

brandende gras het op die grasdak beland, wat veroorsaak het dat dit aan die brand geslaan het.

Brandbestryders het die dam ingegaan en die krokodille na ’n veiliger gedeelte geskuif terwyl rook versprei het.

Volgens Pavaza is die diere uiters sensitief vir rook en was dit baie belangrik om die krokodille uit die geraakte gebied te kry, terwyl brandbestryders die vlamme blus. 

“Dit was ’n gewaagde operasie met ’n baie, baie hoë risiko,” het hy gesê.

Danksy die heldhaftige optrede en ten spyte van die risiko is geen brandbestryder beseer of geeneen van die krokodille beseer of dood nie.

Brandbestryders het uiteindelik die brand geblus en die geraakte gedeelte van die grasdak verwyder om te verhoed dat dit aanhou brand.

Slegs die grasdak van die krokodildam is beskadig.

Dit is na bewering die eerste brand by die krokodilplaas sedert dit in 1985 gevestig is.

Die brandweer is later weer na ’n ander grasbrand by die Paresis-skouterrein op die dorp ontbied, met die vlamme wat in die rigting van die C’est Si Bon-hotel en nabygeleë grasdakstrukture beweeg het. Ook hierdie brand is suksesvol onder beheer gebring. 

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-08-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer