Die Suide blom

Tuyeimo Haidula

FRANCOISE STEYNBERG

EN TUYEIMO HAIDULA



Boere in die suide van die land jubel en juig nadat hulle Paasnaweek met goeie reën geseën is.

Die Visrivier vloei sterk in die Visrivier-canyon wat ’n asemrowende uitsig vir besoekers gebied het. Dit was nie al lus vir die oog vir besoekers nie met die plaas Sandhof wat weer sy pienk baadjie aangetrek het met plate en plate lelies in blom. Boonop het die grootste dam in die land Neckartaldam Saterdag sy walle oorstroom.

Paaie tussen Helmeringhausen en Aus het in riviere verander, die Konkiep- en Tsauchabrivier het geloop en roetes na gewilde toeristebestemmings versper. Sommige paaie, veral in die omgewing van Sossusvlei, is verspoel met die D463-pad vanaf die Fish River Lodge na Witputz wat gister nie toeganklik was nie, asook die D459 en die D462 wat gesluit was. 

Reënvalsyfers in die Suide wat gister op Reënval Namibia aangemeld is, is 59 mm op Umub Ranch, 30 km noord van Bethanie; 46 mm op die plaas Manubi, 35 km noord van Koës, asook die plaas Gocharus, 40 km noord van Koës; 40 mm op die plaas Vaalpan, 50 km suidoos van Koës; 36 mm op die plaas Nuwerus, 63 km noord van Koës; 32 mm op die plaas Soetdoringvlei, 35 km suidoos van Helmeringhausen en 14 mm by Maltahöhe.


NOORDOOSTE

Intussen is riviervlakke in die noordooste van die land steeds hoog met veral gemeenskappe langs die Zambezirivier wat ontwrig word. 

Leerlinge van drie skole in die vloedgeteisterde gebied van Kabbe-Suid in die Zambezistreek is verskuif nadat stygende watervlakke die skole genoop het om hul deure te sluit waar onderrig vir weke ontwrig het.

Volgens die woordvoerder van die kantoor van die eerste minister, Maximus Halwoodi, is saam met belanghebbendes besluit dat geraakte leerlinge van die skole van Nankutwe, Mpukano en Muzii tydelik by die Schuckmannsburg Gekombineerde Skool in die Luhonono-gebied en by die Lusese Gekombineerde Skool gehuisves word.

Halwoodi het gesê die verskuiwing is daarop gemik om te verseker dat leerlinge normale akademiese onderrig sonder verdere vertragings hervat - ná ’n geraamde twee tot drie weke se verlore onderrigtyd weens oorstromings.

Hy het gesê streekamptenare het ook aangedui dat planne aan die gang is om inhaal- of vakansieklasse in te stel om leerlinge te help om lesse wat misgeloop is, in te haal.

Halwoodi het gesê die jongste ingryping sal na verwagting onderrig in die geraakte gebiede stabiliseer, terwyl langertermyn-oplossings vir ontwrigtings van vloede steeds ondersoek word.

Vir vandag word geïsoleerde donderbuie oor die sentrale streke, asook die Kunene, Hardap en ||Kharas verwag.

[email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer