Die skerpioen met die ‘moordenaarsnaam’
’n Skerpioen wat naby Kalkrand in ’n seldsame blik gewaar is, is aanvanklik na ’n Amerikaanse reeksmoordenaar vernoem. Harpe se graweskerpioen se naam sal nou egter ’n Namibiese baadjie kry en voortaan as die Kalkrand-graweskerpioen bekend staan.
Volgens die Suid-Afrikaanse aragnoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria, dr. Ian Engelbrecht, is die spesienaam Opistophthalmus harpe en is daar aanvanklik kop gekrap oor waar die oorspronklik naam vandaan kom.
“Ons kon aan niemand met die van Harpe dink wat in Namibië met skerpioene of die studie daarvan te doen gehad het nie,” het hy gesê.
Toe hy egter navorsing begin doen, het dit geblyk die skerpioen is vernoem na Micajah Harpe wat by die Amerikaanse Burgeroorlog betrokke was, die pad byster geraak en ’n reeksmoordenaar geword het.
“Hy word beskou as een van die eerste reeksmoordenaars in die Verenigde State van Amerika (VSA). Dit is nogal ’n vreemde persoon om ’n skerpioen na te vernoem!” het Engelbrecht gesê.
Micajah (Big) en Wiley (Little) Harpe word onthou as struikrowers wat in die laat 1700’s in die Amerikaanse deelstate Illinois, Kentucky, Mississippi en Tennessee bedrywig was en word beskou as Amerika se eerste aangetekende reeksmoordenaars.
Die vermoede is dat die twee tussen 39 en 50 mense vermoor het. Hoewel Micajah en Wiley dikwels as broers beskou word, dui sommige bronne hulle was eintlik neefs.
Volgens Engelbrecht is daar niks in die oorspronklike beskrywing van die spesie wat verduidelik waarom die outeur besluit het om dit na Harpe te vernoem nie.
“Daar staan bloot dit is na hom vernoem sonder om ’n rede te gee. Die Kalkrand-graweskerpioen is daarom dalk ’n beter naam om hierdie dier mee te onthou,” het Engelbrecht gesê.
HERBENOEM
Alhoewel die herbenoeming van spesies in sommige wetenskaplike kringe ’n burokratiese proses is, sal dit nie noodwendig die geval van Kalkrand se skerpioen so wees nie.
“Gelukkig is daar nie baie mense wat met skerpioene werk nie, so ons hoef nie komitees, voorstelle, ooreenkomste en dergelike dinge te hê nie.”
Volgens Engelbrecht is dit egter wel die geval met voëlname.
“Omdat so baie mense met voëls werk, het die algemene name van voëls oor die afgelope tien jaar verander en dit verander steeds. Dit word deur ’n komitee gepubliseer, bestaande uit ’n hele groep mense wat eers oor hieroor besluit.”
By skerpioene is daar volgens hom niks van dié aard nie. Met Engelbrecht se samestelling van ’n Suid-Afrikaanse veldgids vir skerpioene, moes hy letterlik name uitdink vir al die Suid-Afrikaanse skerpioenspesies, erken hy.
“Hulle het almal wetenskaplike name, maar toe ek mense se mening oor name vra, kon hulle nie saamstem nie.”
Volgens hom was daar uiteenlopende menings en gevoelens oor hoe algemene name geskep behoort te word. Die meeste mense verkies dat die naam direk van die wetenskaplike naam afgelei word - die wetenskaplike naam word in Engels vertaal en dit word die algemene naam.
Engelbrecht het gesê dikwels maak sulke name nie werklik sin nie en was daar talle voorbeelde waar hy gevoel het daar kan beslis met ’n beter Engelse naam vorendag gekom word.
Hy sal waarskynlik dieselfde benadering volg as wat hy vir die Namibiese veldgids gebruik.
“Ek dink ek gaan dieselfde doen vir die Namibiese skerpioene en die algemene name in die veldgids insluit. Dit is voorheen slegs een keer ‘Harpe’s burrowing scorpion’ genoem,” het Engelbrecht gesê.
“Ek dink nie enigiemand het geweet dat daar ’n skerpioen by Kalkrand met daardie naam bestaan nie, totdat ons dit neergeskryf het.
“Vir die boek sal ek dit waarskynlik net die ‘Kalkrand burrowing scorpion’ noem. Dis ’n goeie naam wat beskryf wat dit is.”
Engelbrecht sal na verwagting op 26 November ’n praatjie oor sy werk met skerpioene by die Namibiese Wetenskaplike Vereniging in Windhoek lewer.
BURGERWETENSKAPLIKE
Engelbrecht is tans in Namibië besig met veldnavorsing vir ’n gids oor Namibiese skerpioene, wat volg op sy werk aan ’n Suid-Afrikaanse veldgids vir skerpioene. Hy word in sy werk bygestaan deur ’n Namibiese burgerwetenskaplike, Murray Lewis, wat by hom was toe die ‘skerpioen met die moordenaarsnaam’ opgemerk is.
Lewis stel al sowat vier jaar “intens belang” in skerpioene. Danksy sy deelname aan Engelbrecht se WhatsApp-groep en die ontdekking van verskeie skerpioene, het hy naby Wlotzkasbaken waar hy woon, ’n spesifieke, klein grawende skerpioen met sy habitat langs die kus, waargeneem.
“Destyds was daar nie baie rekords van die spesie nie en was daar min oor hom bekend. Ek het daarin geslaag om talle eksemplare te fotografeer en ’n groot deel van sy verspreidingsgebied te karteer,” het Lewis gesê.
Hy erken dit het hom werklik geboei, want hy het besef dat iemand soos hy – ’n volstrekte leek sonder enige formele opleiding of dergelike kwalifikasies – kan help vasstel waar sekere spesies voorkom en watter spesies om waar te vind.
Lewis se belangstelling in skerpioene het ook deel van sy werk as toergids geword, ’n beroep wat hy saam met sy vrou beoefen.
“My vrou en ek werk saamen ons doen hierdie werk al sowat 20 jaar. Ongeveer tien jaar gelede het ons besluit dat, hoewel ons steeds baie plesier uit die werk put, ons ’n manier moes vind om onsself geïnteresseerd te hou en aan te hou leer.
“Ek was nog altyd lief vir slange en het gereeld na hulle gesoek, maar ek het agtergekom dat ek terwyl ek na slange soek, baie meer skerpioene as slange teëkom,” het Lewis gesê.
Hy het vir sy vrou gesê dat hulle eerder daarop moet fokus, omdat dit “iets werklik interessant” is wat hy kan vind. Met hul fokus wat verskuif het, het Engelbrecht se kennis en hulp met identifikasies gevolglik baie handig te pas gekom.
Hoewel die meeste toeriste aanvanklik skugter vir slange en skerpioene is, verlaat baie van hulle die land met ’n nuutgevonde liefde vir hierdie diere, verduidelik Lewis.
“Dit het regtig ’n prettige element van die toere geword. Toeriste sê gewoonlik met hul aankoms twee dinge: hulle wil nie ’n slang sien nie en hulle wil nie ’n skerpioen sien nie. Teen die einde van 15 dae saam met ons, wil hulle egter weet waar is die volgende skerpioen?
“As ons ’n slang op die pad gewaar, roep almal ons moet stop en vra dat ons na nog moet soek,” sê Lewis.
Alhoewel die indruk wat die toere skep, nie die algemene opvatting van skerpioene op groot skaal verander nie, is Lewis tevrede met die bydrae wat hy kan lewer om mense se siening van skerpioene te verander.
“Dit is weliswaar ’n baie klein groepie mense wie se sienings ons kan beïnvloed of verander, maar ons stuur beslis sommige toeriste terug na Duitsland met ’n heeltemal ander perspektief op skerpioene.
Hy sê dié wat aanvanklik glad nie een wou sien nie, kan teen die einde van die toer gewoonlik nie wag om die volgende een te sien nie.
“Hulle geniet dit werklik en besef dat hierdie wesens nie gevaarlik is of daarop uit is om jou leed aan te doen nie.
“Hulle is eintlik fantastiese klein diertjies wat bloot met hul eie dinge besig is. Hulle hou geen werklike bedreiging in nie en is beslis nie iets waaroor ’n mens jou hoef te bekommer nie,” verduidelik Lewis.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie