Die rol van toerisme in bewaring
Namibië se sentrale kus lok menige avonturiers en natuurliefhebbers van oraloor die wêreld.
Swakopmund en Walvisbaai bied valskermspring, vierwielmotorfiets-avonture, branderplankry en ’n verskeidenheid ekotoere – van Sandwich Harbour se 4x4-ritte en kameelritte tot kajakvaart en walviskyk.
Besoekers wat die dorpe per passasierskepe, of per pad en lug besoek, word deur die streek se asemrowende see- en kuslewe betower.
Maar wat baie besoekers dalk nie besef nie, is dat hul teenwoordigheid en die pogings van die toeroperateurs wat hierdie ervarings moontlik maak, ’n belangrike rol speel in die beskerming van die einste natuurwonders wat jaarliks duisende besoekers lok.
TOERISME
Toerisme is een van die drie hoofpilare van inkomste vir Namibië. Met net meer as 860 000 mense wat die land in 2023 besoek het, het toerisme 6,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) in dié jaar uitgemaak.
Ongelukkig is geen presiese data beskikbaar oor toeriste se besoeke spesifiek aan die Namibiese kus nie. Die feit dat 4,2% van besoekers wat per passasierskip die land aandoen en dat Swakopmund en Walvisbaai as ’n “moet” op die besoekerslysie van elke toeragent se reisplan aangebied word, is ’n duidelike aanduiding van die waarde van die sentrale kus vir toerisme-inkomste.
Terwyl toerisme die omgewing waarop dit staatmaak, kan beïnvloed, veral deur verhoogde verkeer van voertuie langs die strande na Sandwich Harbour en Pelican Point, speel dit ook ’n belangrike rol in die ondersteuning van bewaring. Benewens die duidelike sosioëkonomiese voordele, vergemaklik toerisme veral mariene beskerming.
Die 4x4-toere, kajakvaarte en walviskyk-uitstappies dien as die voorste waarnemers van die “gesondheid” van die oseaan. Hulle is dikwels die eerstes om verstrengelde of beseerde seediere, potensiële gevalle van siektes en/of gestrande walvisse aan te meld. Dié tydige aanmeldings stel wetenskaplikes en bewaringsbewustes in staat om vinnig en doeltreffend te reageer, wat toerisme ’n kragtige bondgenoot vir oseaanbewaring maak.
Tweedens is toerisme ’n kragtige instrument vir onderrig en bewusmaking. Enigiemand wat al ooit vir ’n kind hul eerste dolfyn of walvis gewys het, weet watter vonk dit kan aansteek. Vir baie besoekers van stedelike gebiede in Europa of die Verenigde State van Amerika (VSA) bied Namibië ’n werklik seldsame nabye ervaring met wilde diere en ongerepte landskappe.
Dié oomblikke laat blywende indrukke en bevorder ’n diepgaande verbintenis met die natuur. Plaaslike toergidse speel ’n sleutelrol deur kennis te deel oor biodiversiteit en die bedreigings wat ekosisteme in die gesig staar. Hul lewensbestaan is afhanklik van gesonde omgewings wat hulle motiveer om bewaring en volhoubare praktyke te bevorder.
Direkte ondersteuning aan bewaring kom van sommige toermaatskappye wat die nodige finansiering en hulpbronne vir bewaringswerk verskaf. Op sy beurt lok ’n goed beskermde gebied ryk aan wildlewe
meer toeriste, wat ’n groter inkomste genereer wat in bewaringspogings herbelê kan word.
Die jong Marine Eco-stigting op Walvisbaai is tans nou sterk betrokke by die bevordering van navorsing en die bewaring van walvisse en dolfyne met die direkte finansiële ondersteuning van toerisme-inkomste.
Mariene toerisme kan egter skadelik word wanneer beleide vir omgewingsbeskerming, soos
gesien in Namibië se sektor vir walvis- en dolfynkyk swak is.
Bestaande regulasies word selde afgedwing, wat daartoe lei dat sommige operateurs te naby aan walvisse beweeg, wat soms botsings of stres vir die diere kan veroorsaak.
Andries Brummer van die Marine Eco-stigting, met die ondersteuning van die Internasionale Walviskommissie (IWC), takel die kwessie direk.
“Ek wil hê Walvisbaai moet ’n walvis-erfenisgebied word,” sê Andries.
Volgens hom is “toerisme tans ’n knelpunt. Sonder regulasies kan ons dit nie laat gebeur nie”.
OCN
Terwyl dié stigting direk deur toerisme gefinansier word, werk ’n ander plaaslike organisasie meer onafhanklik, maar na ’n soortgelyke doelwit.
Ocean Conservation Namibië (OCN) is toegewy aan die beskerming van die hele Namibiese kuslyn en sy mariene omgewings, met ’n spesiale fokus op robbe en seevoëls.
Die Kaapse pelsrobkolonie by Pelican Point is ’n “moet-sien”-hoogtepunt vir enige kajak- of mariene
toer op Walvisbaai, maar dit word egter steeds erg deur geraas- en plastiekbesoedeling beïnvloed.
Talle operasies om verstrengelde diere te red, word eintlik moontlik gemaak danksy die waarskuwings van plaaslike gidse.
Deur werklike wêrelddata oor hierdie bedreigings in te samel, beoog OCN om beleide te beïnvloed wat op sy beurt die langtermyn-volhoubaarheid van ons kustoerismebedryf sal ondersteun.
Mariene en kustoerisme is diep verweef met mariene bewaring – die een kan nie sonder die ander floreer nie. Toeroperateurs en gidse speel ’n belangrike rol as die oë in die veld, wat onderrig, bewusmaking en direkte bewaringsondersteuning bevorder.
Wanneer regeringsraamwerke egter swak is of swak toegepas word, ontstaan uitdagings.
In sulke gevalle word bewaringsorganisasies noodsaaklike voorstanders, wat voorspraak maak dat sterker beleide toegepas word en verseker dat toerisme en omgewingsbeskerming saam vorentoe beweeg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie