Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel. FOTO MEFT
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel. FOTO MEFT

Cop31: Namibië soek vennote

Nuwe nywerhede, werksgeleenthede
Namibië is gereed om met internasionale vennote saam te werk om hernubare energie, groen waterstof, biodiversiteitsbewaring en klimaatsveerkragtige ontwikkeling te bevorder.
Ellanie Smit

Namibië poog om sy klimaatsverbintenisse in tasbare beleggings, vennootskappe en ekonomiese geleenthede te omskep. 

Dít terwyl die land sy teenwoordigheid by die Verenigde Nasies (VN) se 31ste Konferensie oor Klimaatsverandering (Cop31) in Antalya, Turkye, wil versterk. Die klimaatberaad duur tot 20 November. 

Tydens die Namibiese paviljoen se amptelike opening Dinsdag by die klimaatberaad het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, gesê die land is gereed om met internasionale vennote saam te werk om hernubare energie, groen waterstof, biodiversiteitsbewaring en klimaatsveerkragtige ontwikkeling te bevorder.

Daniel het gesê Namibië se oorvloedige sonskyn, sterk windbronne, ryk biodiversiteit en uitgestrekte landskappe bied beduidende geleenthede om die ekonomie te diversifiseer, nuwe nywerhede te ontwikkel en werk te skep.

Sy het die land se vasberadenheid beklemtoon om sy natuurlike bates verantwoordelik te benut, terwyl energie-oorgang bevorder word op te verseker dat ekonomiese ontwikkeling sy mense bevoordeel.

Alhoewel Namibië ’n relatief klein bydrae tot globale kweekhuisgasvrystellings lewer, het die minister beklemtoon dat die land ’n aansienlike belang in internasionale klimaatoptrede het.

Namibië ervaar reeds die gevolge van klimaatsverandering deur herhalende droogtes, vloede, stygende temperature en toenemende druk op waterbronne, voedselstelsels en lewensbestaan.

Landelike gemeenskappe is veral kwesbaar as gevolg van hul afhanklikheid van grond, water en natuurlike hulpbronne, wat klimaatsverandering ’n ernstige ontwikkelingsuitdaging vir die Namibië maak.

Daniel het na Namibië se derde nasionaal bepalende bydrae (NDC 3) verwys wat in September as ’n sleutelraamwerk van stapel gestuur is om hierdie uitdagings te takel, terwyl ekonomiese geleenthede geskep word.

Die raamwerk beskryf 72 maatreëls en 216 optredes oor 13 sektore met ’n geraamde beleggingsvereiste van sowat US$14 miljard teen 2035.

Die plan verteenwoordig beide ’n klimaatsverbintenis en ’n beleggingsvoorstel, wat versagting- en aanpassingsprioriteite in projekte, infrastruktuur, werksgeleenthede en meer veerkragtige gemeenskappe omskep.

Daniel het gesê die land streef na hernubare energie en die ontwikkeling van groen waterstof, tesame met beleggings in klimaatsveerkragtige landbou, watersekerheid, biodiversiteitsbewaring, volhoubare grondbestuur en gemeenskapsgebaseerde natuurlike hulpbronbestuur.

Sy het beklemtoon die oorgang moet plaaslike waarde skep deur sterker binnelandse besighede, vaardigheidsontwikkeling, tegnologie-oordrag en werksgeleenthede, veral vir jongmense en vroue.

Die minister het gesê Namibië se deelname aan Cop31 gaan nie bloot oor die bywoning van besprekings nie, maar oor die bou van vennootskappe en die bevordering van praktiese samewerking met beleggers, ontwikkelingsfinansieringsinstellings, klimaatfondse, tegnologieverskaffers en navorsingsinstellings. 

– [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer