‘Cop31 ’n historiese mislukking’
António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het Sondag gesê hy is “diep teleurgesteld” nadat die VN se klimaatberaad in Turkye geëindig het sonder dat lande konsensus oor fossielbrandstowwe kon bereik.
“Ek deel die diepe frustrasie van almal wat verwag het dat regerings sou voldoen aan die dringendheid wat die klimaatkrisis vereis,” het Guterres in ’n verklaring gesê.
“Diegene wat voordeel trek uit die vernietiging van ons planeet, moet nooit die voorwaardes bepaal vir die stryd om dit te red nie. Fossielbrandstowwe dryf die klimaatkrisis aan.”
Die Cop31-klimaatberaad het Sondag op ’n historiese mislukking afgestuur nadat die Europese Unie (EU) en verskeie ander lande geweier het om ’n ooreenkoms te steun waarin daar geen melding van fossielbrandstowwe gemaak is nie.
Die hoofvoorstel is 44 uur ná die beraad se amptelike sluitingstyd deur verskeie lande verwerp. Dit het die beraad in die Turkse stad Antalya in chaos gedompel.
Darragh O’Brien, lerland se minister van klimaat, energie en die omgewing, het gesê hulle “sal nie ’n finale besluit steun wat nie eens fossielbrandstowwe noem nie, terwyl dit die belangrikste dryfveer van klimaatsverandering is”.
Ierland beklee tans die EU se roterende presidentskap.
Murat Kurum, president van Cop31, het erken die voorstel nie konsensus kon bereik nie.
Australië, wat die onderhandelinge gelei het, het probeer om ’n oorkoepelende finale besluit te bereik waarin die lande se ooreenkomste by Cop31 saamgevat sou word en ’n rigting vir toekomstige klimaatsoptrede aangedui sou word.
Die finale voorstel het egter glad nie na steenkool, olie of gas verwys nie. Dit het die beraad in ’n krisis gedompel en daartoe gelei dat dit die rekord vir die langste VN-klimaatberaad nog gebreek het.
DANIEL LEI AFRIKA
Namibië se minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Indileni Daniel, het Afrika se onderhandelinge oor klimaataanpassing by Cop31 gelei.
Afrikalande het daarop aangedring dat die verdriedubbeling van aanpassingsfinansiering ’n afsonderlike agendapunt word, maar dit is nie aanvaar nie.
Volgens ’n amptenaar van die Europese Unie (EU) is daar “geen politieke wil” vir
bykomende finansieringsbeloftes nie.
Panama, ’n uitgesproke kritikus van die VN-klimaatberaad, asook Vanuatu en Belize, het die voorgestelde ooreenkoms ook verwerp.
O’Brien het buite die vergadersaal aan AFP gesê die beraad is deur “sommige oliestate gekaap”.
Besluite op die VN-klimaatberaad word deur konsensus geneem. Dit beteken dat selfs een van die byna 200 deelnemende lande ’n ooreenkoms kan blokkeer.
Die beraad was onder druk om vordering te toon met die bekamping van stygende kweekhuisgasvrystellings. Dit volg ná ’n jaar waarin klimaatrampe verskeie wêrelddele getref het met erge hittegolwe in Europa, veldbrande in Indonesië en oorstromings in Nepal, met ’n super-El Niño, ook vir Namibië voorspel, wat klimaatchaos verder aanblaas.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie