Beskermde plante naby Arandis gekonfiskeer

Beskuldigdes in aahouding
Owerhede het op 295 olifantsvoetplante beslag gelê en twee verdagtes in hegtenis geneem.
Adam Hartman

Owerhede het op byna 300 beskermde olifantsvoetplante beslag gelê nadat twee verdagtes naby Arandis in hegtenis geneem is. 

Die saak hou verband met beweerde plantstropery in die omgewing van Arandis nadat daar op 25 April inligting ontvang is oor die moontlike onwettige oes van inheemse vetplante naby ’n myn. 

Volgens die voorvalverslag van die Namibiese polisie (Nampol) het ’n wetstoepassingspan wat langs die pad tussen Usakos en Arandis werk, ’n wit bakkie opgemerk wat teen hoë spoed in die omgewing van die Valencia-uraanmyn gery het. 

’n Namibiese man en seun is glo betrap waar hulle 50 kg-sakke op die bakkie gelaai het met altesaam 295 Adenia pechuelii, algemeen bekend as olifantsvoet. 

Die twee verdagtes het in die landdroshof op Swakopmund verskyn en bly in aanhouding. 

Een van die beskuldigdes is as die 33-jarige Tjipetekera Kuzatu geïdentifiseer. Die tweede verdagte is 16 jaar oud en sy identiteit mag nie bekend gemaak word nie. 

Die wetstoepassingspan bestaan uit beamptes van onder meer Nampol en die ministerie van die omgewing en toerisme.  

’n Betroubare bron, wat nie genoem kan word nie aangesien dit toekomstige ondersoeke kan benadeel, het gesê die waarde van die gekonfiskeerde plante kan nie bekend gemaak word nie, juis om nie stropery aan te moedig nie. 

Die bron het gesê olifantsvoet is ’n vetplant wat hoofsaaklik vir ornamentele doeleindes geteiken word. 

“Dit word meestal vir ornamentele doeleindes uitgevoer. Op hierdie stadium het ons nie gevind dat dit vir enigiets anders gebruik word nie,” het die bron gesê. 

Die bron het gesê die sierplante is aanlokklik vir versamelaars vanweë hul voorkoms en skaarsheid en bygevoeg dat hulle dikwels ook gesog as bonsai-plante is. 

Hy het gewaarsku dat die verwydering van sulke plante uit die natuur blywende skade veroorsaak.

“Wanneer jy die plant uit die natuur verwyder, laat dit ’n gaping. Hierdie plante groei stadig en baie van hulle sal nie oorleef sodra hulle uit hul habitat verwyder is nie,” het hy gesê. 


TOENAME IN SMOKKELARY

Verskeie soortgelyke voorvalle van endemiese plantstropery is vroeër vanjaar aangemeld en dat die flora dikwels deur streekkorridors uit Namibië gesmokkel word voordat hulle na kopers op ander vastelande uitgevoer word.

’n Drastiese toename in onwettige planthandel het ’n ernstige kommerwekkende neiging geword.

’n Verslag wat verlede jaar vrygestel is, beklemtoon dat die smokkelary in skaars en endemiese plantspesies vinnig en drasties toeneem. Arrestasies vir plantverwante misdade het volgens die verslag ook aansienlik gestyg.

Die oes van plante vir die internasionale mark het oor die afgelope jare gestyg, met ondersoeke wat aan die lig gebring het dat goed georganiseerde misdaadsindikate met wêreldwye verbintenisse Namibië se flora teiken.

“Baie van die geteikende spesies is skaars en endemiese spesies en die impak op hul bevolkings sal na verwagting aansienlik wees. Hierdie misdade raak nie net plantspesies nie, maar het ook ’n maatskaplike impak op gemeenskappe,” beklemtoon die verslag.

Intussen word olifantsvoet wyd op die internet te koop geadverteer – van Tanzanië, Thailand en Amerika. ’n Kwekery in Los Angeles in Amerika het egter olifantsvoet as uitverkoop aangedui. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer